Dr. Oz se vyf gesondheidsreëls vir vroue

0
16
dr_oz.png

Met soveel beskikbare navorsing is dit moeilik om te besluit watter raad die belangrikste is vir ’n lang en gelukkige lewe. Dr. Oz noem die gesondheidsreëls wat ons almal – sonder uitsondering – moet nakom.

Dr. Oz het nie bekendstelling nodig nie. Hy is ’n hartchirurg wat daagliks in talle TV-programme en tydskrifte wêreldwyd verskyn. Hy is ook professor aan die Universiteit van Columbia wat steeds weekliks self operasies uitvoer. Dis sy eerlike manier om ingewikkelde mediese probleme en raad vir gewone mense te vereenvoudig wat hom so geliefd maak.

1. Jaag jou hartklop daagliks vir minstens 15 minute op

Dis meestal verswakking wat vroue se lewenskwaliteit beperk en jou kan doodmaak. Jy wil so lank moontlik jeugdig voel en langer leef. Waak daarom daarteen om swak en bedlêend te word.

“As jy kyk na streke soos Sardinië en Macau, waar mense langer leef, verskil die dieet van hierdie volke baie van mekaar,” sê dr. Oz. Die rede waarom hierdie mense langer leef, lê dus nie in ’n spesifieke kossoort nie. “Wat hierdie volke egter gemeen het, is dat hulle baie beweeg.” Doen dus elke dag iets wat jou hartklop versnel. Dr. Oz beveel minstens 15 minute se vinnig stap aan. Elke dag!

2. Eet soveel moontlik kos wat nie verwerk is nie

“Dit beteken die kos op jou bord moet steeds baie lyk soos toe dit uit die grond gekom het. Bly weg van klaar produkte of geregte wat baie bestanddele bevat.” Eet eenvoudig en vermy kos wat verwerk is.

3. Gee jou hart ’n rede om te klop

As hartchirurg het hy agtergekom dat mans ná hartchirurgie vinniger as vroue herstel hoofsaaklik omdat hulle vroue na hulle omsien. Vroue het meestal nie iemand wat só na hulle omsien nie. Dis daarom soveel belangriker om goed te wees vir jouself – want jy het jóú meer nodig as enigiemand anders.

Dr. Oz meen dat vroue so besig is om na almal en alles om te sien dat hulle hulleself verwaarloos. Hy gebruik die analogie van die suurstofmasker wat jy in ’n vliegtuig kry in geval van nood. Jy moet altyd eerste die masker oor jy eie mond sit voordat jy ander kan help. “Jy moet begin deur iets te doen wat vir jou persoonlik betekenis het. Iets wat jou inspireer en diep binne opgewonde maak.”

Hy praat nie van welsynswerk of ure se afsloof vir jou gesin nie. Doen iets vir jouself, al voel dit selfsugtig. Probeer pottebakkersklasse, om elke week te gaan fliek of daardie boek te skryf wat jy nog altyd wou.

4. Onthou die heel belangrikste aanvulling wat jy moet neem

Van al die beskikbare aanvullings glo dr. Oz dat omega 3-vetsure vir vroue die heel belangrikste is. Dit kom voor in avokado’s, okkerneute, sardientjies en salm, maar ’n ekstra aanvulling is dikwels nodig. Hy beveel aan dat vroue daagliks 400 mg DHA omega 3-vetsure inneem.

Omega 3 is die vette wat jou brein nodig het om meer selle te maak, en dít help om spanning te bestuur en depressie en vergeetagtigheid te voorkom.

5. Kry elke nag sewe en ’n half uur slaap

“Vroue vergeet dikwels hoe belangrik slaap is.” ’n Tekort aan slaap lei tot te min groeihormoon, wat tydens slaap vervaardig word en die liggaam help om te herstel na die dag se gewoel. Dit beteken dat jy nie net moeg en geïrriteerd sal wees nie, maar ook meer koolhidrate soos aartappelskyfies sal wil eet, wat weer jou gesondheid nadelig sal beïnvloed.

Die goue reël, volgens dr. Oz, is om in ’n stil en pikdonker kamer te slaap. Maak reeds 20 minute voordat jy inkruip jou kamer skemerdonker en moenie met enige elektroniese toestelle in die bed gaan lê nie. Verban ook die televisiestel uit die slaapkamer.

Hy beveel “outydse” metodes aan om jou gereed te maak vir ’n goeie nagrus, soos om ’n tydskrif of ’n boek te lees. Om op jou foon te speel of op jou Kindle of tabletrekenaar te lees voor slaaptyd, is dus uit!