Dra jy ‘n donkerbril in die aand?

Persepsie is ‘n bril met getinte lense wat elkeen van ons ‘n ander beeld van die werklikheid gee.

Party mense se persepsie bril maak hulle kortsigtig en ander het kompleet ‘n sonbril op as die sterre skyn. Het jy al ‘n sonbril in die aand opgesit? Alles is dan in donker gehul!

Ek dink persepsie is een van die gevaarlikste wapens in enige mens se arsenaal. Ons persepsies maak dat ons oordeel, dat ons dinge wat nie in ons verwysingsraamwerk inpas nie sommer afskiet, dat ons vasklou aan dit wat ons ken en weier om verandering te aanvaar.

Persepsie maak seker jy bly in  ‘n (on)gemaklike gemaksone en dis persepsie wat jou in omstandighede vasvang. Wat jou laat glo “ek moet maar net aanvaar”, “ek het nie ‘n ander keuse nie” en “dis nou maar hoe dit is.”

Die goeie nuus is jy kan daardie bril afhaal en leer om die wêreld vanuit ‘n ander hoek te beskou. Ons is nie slagoffers van ons biologie of omstandighede nie. Jou liggaam is nie in beheer van jou denke nie – jou denke is in beheer van jou liggaam, en jou denke is sterker as jou liggaam. Wanneer jy dink, bou jy gedagtes, en hierdie gedagtes word fisiese stowwe in jou brein.  As jy oor en oor dieselfde negatiewe gedagtes dink, vorm dit naderhand ‘n paadjie in jou brein, en jou brein begin die negatiwiteit as werklikheid ervaar.

Gelukkig kan dieselfde ook van positiewe gedagtes gesê word. Jy moet dus leer om jou brein te herprogrammeer, of dan nuwe paadjies in jou brein bewerkstellig, wat lei tot ‘n positiewe uitkyk op die lewe.

Onthou, ons is ontwerp om gedagtes te skep en ons leef ons lewens volgens hierdie gedagtes.  Jy kan vandag begin om jou lewe in ‘n ander rigting te stuur en met nuwe oë na alles kyk.

Vorige artikelHoekom steek my eie angel so seer?
Volgende artikelVadersdag met ATKV-Oorde
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.