Drie haarstyle wat by elke vrou pas

0
35
haarstyle_2.jpg

Hoe klink ’n nuwe haarstyl vir 2015? Die drie style is altyd in die mode en lyk goed by enige vrou.

Enkele haarstyle het die toets van die tyd deurstaan, soos die elfie, die polkastyl en die midilengte snit.

Dié style sal jou ʼn splinternuwe voorkoms gee, maar anders as met die meeste dramatiese veranderings hou hierdie kapsels nie risiko’s in nie. As jy hierdie eenvoudige riglyne volg, sal jy met hope selfvertroue by die salon uitstap. Dit is maklik om self te versorg, en lyk ewe goed by die werk, die kerk of ’n sosiale geleentheid.

Ons het by topstilis David Gilson, die kreatiewe direkteur van Carlton Hair Suid-Afrika, aangeklop vir hierdie wenke. Moenie langer wag nie. Maak nou jou haarafspraak!

Selfversekerd met die elfie-snit

2_13.jpgAl is die kort seuntjiestyl ’n algemene voorkoms, is dit steeds ’n dapper keuse. Vroue wat hulle hare so dra, word beskou as vreesloos, selfversekerd en met ’n skeut kreatiwiteit. Jy sal altyd die aandag trek hiermee. Geen wonder dit het al gehelp om menige bekende, soos Halle Berry, in die kollig te plaas nie. Niemand is méér herkenbaar as sy vir hierdie snit nie.

DIE ELFIE-STYL PAS BY ALMAL Die styl moet geïndividualiseer word volgens jou gesigvorm, jou haartekstuur en jou persoonlikheid. Die enigste tipe hare wat nie hiermee werk nie, is baie krullerige hare – tensy jy bereid is om daagliks die haaryster in te span.

Die lengte wat jou kuif geknip word, maak die groot verskil hier. Deur jou kuif korter of langer te dra, sal dit byvoorbeeld meer modieus lyk. ’n Kort, stomp snit is seuntjie-agtig, terwyl ’n kuif wat gesny is om sag in te vloei by die res van die lengte, ’n vrouliker keuse is.

SNY JOU HARE IN LAE Laat sny jou hare gereeld – minstens elke vier tot ses weke. As jy te lank wag tussen afsprake, gaan die haarstyl vormloos raak. Vra jou haarkapper ook vir lae in jou hare. Wanneer die hare oral een lengte geknip is, sal dit ’n sampioenvorm aanneem. Die haarstyl lyk die beste met ’n eenvormige haarkleur eerder as sterk kontrasterende ligstrepe.

SO STILEER JY DIT ’n Waks met uitstekende hou-krag gee ’n kort haarstyl die nodige definisie. Steek die gladgemaakte lengtes van jou kuif netjies agter jou ore in vir ’n vars, onskuldige voorkoms. Of werk jou vingers deur jou kuif vir ’n getekstureerde effek.elf.png

Davines Strong Dry Wax (R310), verkrygbaar by Carlton Hair en ander professionele salonne.

WENK: Kam pasgewaste hare in plek. Sit ’n kopband om en laat dit droog word. Sodoende sal die styl nie uitpof nie.

Kry die gewilde kort polkastyl

1_22.jpgIn die 1920’s het ’n Hollywood-ster iets gedoen wat destyds ondenkbaar was. Louise Brooks het haar lokke tot by haar kakebeen afgesny. Vroue wêreldwyd het losgebreek en in haar voetspore gevolg. Sedertdien was die bob nog nooit uit die mode nie. Dit is steeds die gewildste haarstyl van ons eeu. Met aanpassings kan jy dit dekades lank dra en ten alle tye byderwets hou.

KRY DIE BALANS REG Jou bob moenie te strak en grafies of oormatig in lae geknip wees nie. Ons dink graag aan die polkastyl as ’n snit waar alles een lengte is, maar dit is nie die geval met die nuutste weergawe hiervan nie. Net ’n paar lae wat strategies ingesny is, hou die kapsel veelsydig. Jy sal dit steeds glad en reguit kan dra soos die Chinese bob, maar die gelaagde snywerk gee jou die vryheid om met ’n krultang tekstuur te skep.

GEE JOU STILIS LEIDING Die geheim van die bob is dat jou hare reguit moet wees terwyl dit geknip word. As jy enigsins ’n krul of golwing in jou hare het, laat die haarkapper eers die hare reguit blaas. As jy geneig is om jou hare met sy natuurlike krul te dra, vestig jou stilis se aandag daarop. Dit is sodat hy of sy nie jou hare te kort moet knip nie. Hare wat krul, krimp mos in lengte sodra dit droog word.

SO STILEER JY DIT Wat jy gebruik om jou bob vorm te gee, hang af van jou variasie daarvan. Vir vanjaar se bob wat krul, kort jy krul-definiërende stileerskuim. Een met tekstuur lyk goed met seesouthaarsproei. Die penreguit bob word met ’n glansmiddel afgerond.polka.png

Lee Stafford Argan Oil Miracle Shine Spray (R135), eksklusief verkrygbaar by Clicks-winkels.

WENK: Laat jou haarkapper in jou haarpunte insny sodat die onderste helfte van die bob nie oorgroot raak nie. Essensieel vir dik hare.

Wees modieus met ’n midilengte-kapsel

3_17.jpgHierdie styl gaan beslis dié tendens in haarstyle wees in 2015. Boonop werk dit uitstekend by ouer vroue wat modieus wil wees sonder om verspot te lyk. Dit sal jou jeugdiger laat vertoon, maar die langer hare is nie onprakties nie. Jy kan dit maklik by die huis stileer sonder om ure daaraan te bestee.

KIES TEKSTUUR EN BEWEGING Hou twee dinge in gedagte wanneer jy die salon besoek. Eerstens moet die styl beweging hê. Dit kry jy deur jou hare in afwisselende lae te laat sny regdeur die kapsel. Dit is dan makliker om jou hare met ’n ronde borsel droog te maak en wip te gee. Tweedens moet die styl ’n titseltjie langer voor wees as agter. Dit maak die snit nuut en opwindend. Jou kuif moet effens langer wees en die lengte van die punte moet korter word oor jou skouers en jou nek.

VIND JOU UNIEKE STEMPEL Die lae kan slim geknip word om jou gesigvorm ten beste te laat vertoon. Gestel jy het ’n hartvormige of ronde gesig. Vra jou haarstilis om van die lengtes op jou wangbene te laat eindig. Dit vestig die aandag op jou wangbene en laat jou gesigsproporsies gebalanseerd lyk. As jy ’n sterk kakebeen of dubbelken het, kan haarpunte in die omgewing die area versag.

Jy kan die midilengte snit in enige haarkleur dra, maar ligstrepe sal jou gelaatstrekke ophelder en die kapsel se tekstuur beklemtoon.

SO STILEER JY DIT Aangesien midilengtes lae het en die langste van die modieuse haarstyle is, het dit stileermiddels nodig wat swaartekrag teenwerk. Hierdie haarstyl kan krulhare oorgroot laat lyk, maar is perfek vir fyn hare.long_bob.png

L’Oréal Paris Elvive Fibrology Thickness Creation Double Serum (R75), verkrygbaar by kettingwinkels.

WENK: Blaas jou hare reguit wanneer jy die kleur en glans wil wys. Dit sal jou ook baie sensueel laat lyk.

Geskryf deur Ryno Mulder