Drie keer het sy haar pa verloor

0
49
kanker.jpg

Adèle Grobbelaar is lief vir haar pa, die alkoholis. Nadat sy hom finaal verloor het, wou sy dít nog vir hom sê.

Liewe Pa

Daar was twee weke lank ’n hol kol op my maag, soos elke keer as ek jou moes bel. Ma het my drie keer daaraan herinner, maar dit was nie nodig nie. Ek weet presies wanneer jy verjaar en wanneer dit Vadersdag is...

Ek: “Hallo, Pa.”
Pa: “Ja.”
Ek: “Hoe gaan dit?”
Pa: “Goed.”
Ek: “Geluk met Pa se verjaarsdag.”
Pa: “Ja.”

En toe hou ek op. Twaalf jaar lank.

Dit was nie die eerste stilte tussen my en jou nie. Die eerste stilte was eintlik baie raserig. Jy het begin drink toe ek ses jaar oud was. Ongelukkig kan ek nie veel van my lewe voor dan onthou nie. Net die “groot stilte” en die dronk man wat kort-kort ontplof het. Soms ’n grappie gemaak het. Maar meestal slinger-slinger en val-val die gang af gestrompel het. Ek onthou die groot afwesigheid van jóú.

Ek het ’n dagboek gehou waarin ek elke liewe dag van my lewe gebid het dat jy asseblief tog moet ophou drink. Tot vandag toe haat ek die reuk van brandewyn, want so klein as wat ek was, moes ek altyd vir jou ’n drankie skink.

Die glas het ’n datum op gehad: 1575. Ek moes die brandewyn tot by die syfers se voete ingooi, en dan Coke. So het jy my geleer. Soms was ek so moeg daarvoor, ek het amper die hele glas vol brandewyn gegooi en net so effens met Coke ingekleur. Sodat jy gouer aan die slaap kon raak. En so tussen die drinkery deur, het jy my hele lewe misgeloop: kunswedstryde, balleteksamens, klavierkonserte...

Toe, een oggend in my matriekjaar, begin jy bloed opbring. Beangs het jy vir Ma gevra om jou hospitaal toe te vat en het jy vrywillig vir rehabilitasie aangemeld. Nee, ek het geen verwagtings gehad nie. Dit was nie die eerste keer nie. Vroeër is jy ook hospitaal toe om “uit te droog”. Toe nie. Dit was amper asof jou dranklus daarna onbeheerbaar geraak het. Jy het gedrink, geslaap, gedrink, geslaap, gedrink... Wat sou dié keer anders wees?

Maar jy het wraggies opgehou! Regtig opgehou! Ek was so bly en so trots. Teen daardie tyd was ek oud genoeg om te verstaan wat alkoholisme is. Jy het soveel <i>guts</i> gehad. Ek kon nie wag om verlore tyd in te haal nie. Min het ek geweet ’n volslae vreemdeling sou van Bloemfontein af terugkom. Jy was nugter, maar permanent kwaad, geïrriteerd of onbeskof. Niemand – nie ek, Ma, of my broer, Adriaan – kon iets reg doen in jou oë nie.

Hoeveel keer, het ek gewonder, kan ’n mens se hart in stukke breek? Dis toe dat die tweede stilte begin het en ek jou die tweede keer verloor het. Die verskil is net: Die eerste keer het jý dit gekies, en hierdie keer het ék dit gekies. Wat het ek en my ma en my broer aan jou gedoen dat jy so met ons maak?

Twaalf jaar later het ek vir die eerste keer weer met jou gepraat toe Adriaan dood is. Jy het my op my mond gesoen, en op my voorkop. Soos jy altyd gemaak het. Stadig maar seker het ons begin om mekaar weer te leer ken. Tussen die hartseer en vrese deur het dit my hoop gegee. En toe jy op my verjaarsdag kom kuier, het my beker oorgeloop. Maar daardie selfde maand is kanker by jou gediagnoseer. Dit was ernstig. Niemand het geweet of jy die operasie sou oorleef nie. Vir die soveelste keer het ek vir jou gebid. Gesmeek dat jy gespaar sou word. Nog net ’n rukkie langer. Ek wonder of ’n kind al ’n pa so graag wou hê... vir soveel jaar lank?

Toe jy die derde keer van my af weggevat is, was dit God se besluit. Nie myne of joune nie. Maar nie voordat Hy jou ses jaar lank vir my geleen het nie. Jy het toe die operasie oorleef. Met dieselfde deursettingsvermoë waarmee jy teen die drankduiwel baklei het, het jy teen die kanker geveg. Dit was ’n voorreg om jou in jou laaste dae te versorg. Om die sagte hart agter die bombasme te leer ken.

Pa, ons het ’n swaar pad gestap. En al het jy dit nooit gesê nie, weet ek jy was lief vir my. Ek wou en moes nog vir jou sê dat ek ongelooflik trots is op jou omdat jy alkoholisme oorwin het. Jy het nooit ’n AA-vergadering misgeloop nie, en het baie verslaafdes gehelp rehabiliteer. Ek weet dat jy baklei het om te leef sodat jy nog tyd saam met my kon hê, en ek sê nog elke dag dankie daarvoor. Ek is en sal altyd lief wees vir jou. Ek mis jou so verskriklik baie.

Jou dogter

Adèle (Meitie)