Drie vroue se R100-wonderwerke

0
175
retha.png

Geloof wat nie oorgaan in dade nie, is dood. Met min moeite en geld kan jy ’n positiewe impak maak!

“Wie wil ’n wonderwerk in iemand se lewe wees?” Toe Finesse se redakteur, Venessa Schoeman, vroeër vanjaar dié vraag aan haar Vroue wat Glo-gehoor gerig het, het tien vroue vorentoe gestap. Elkeen het ’n koevert met R100 ontvang. Die uitdaging: om ’n verskil daarmee te gaan maak. Hier is drie van die vroue se stories oor ’n R100-verskil

Retha van Reenen help om iemand wat byna blind is, te laat sien

retha_1.jpgEk glo absoluut daaraan om die verskil in ’n ander persoon se lewe te wees. Die Heilige Gees bly dan in my. Ons moet die Lig wéés. Ek het al gesien hoe ’n groot verskil ’n opregte, warm glimlag in iemand se lewe kan maak. Of hoe iemand se dag positief geraak word deur bloot ’n bedagsame padgebruiker te wees. En hierdie dinge kos nie eers geld nie. Dink net wat jy met R100 kan vermag. Dis hoekom ek dadelik Venessa se uitdaging aanvaar het, maar ek het nogtans geskrik toe ek met die geld in my hand staan. Nou moet ek gaan lééf wat ek glo! Van een ding was ek seker: Die manier waarop ek my R100 gaan spandeer, moet deur die Heilige Gees geïnspireerd wees; dus het my gróót gesprek met God begin. My huiswerker se ma het diabetes. As gevolg daarvan het sy oor die jare baie probleme met haar sig ontwikkel. Sy het ook katarakte gehad wat verwyder moes word, want sy was so te sê blind, en dit het haar lewensgehalte erg benadeel.

Die dokters het haar egter telkemale van die hospitaal af huis toe laat gaan sonder om haar oë te opereer, omdat haar bloedsuikervlak nie reg was nie. Tot daardie een oggend…Pulane het na my toe gekom en gesê haar ma se suiker is vandag rég. Sy wil hospitaal toe gaan, maar dit gaan R100 kos om daar te kom. Toe weet ek: Hiér is my R100-wonderwerk! Ek moet die R100 vir Pulane se ma se vervoer saai. Sy het lensoorplantings gekry en vandag kan sy sien. Dit was weereens vir my die bewys dat niks vir God onmoontlik is nie. Hy kan met R100 ’n wonderwerk laat gebeur. Ons moet net ’n bereidwillige hart hê, ontvanklik wees vir Sy Gees en beskikbaar wees waar en wanneer Hy ons wil gebruik.

Barry Lerm se muffins betaal vir komberse

barry.jpg“O genade, hoe gaan ek met R100 iemand se lewe verander?” Dit was die eerste gedagte wat by my opgekom het. Ek was erg benoud, want ek het my tot ’n ding verbind, en ek het geen idee hoe om dit te doen nie.
Die geld het bykans twee weke lank onaangeraak in my beursie gebly. As ’n mens dink aan die nood daar buite is R100 baie…maar ook veels te min.
My vriendin, Elize Slabbert, wat by ’n gemeenskapsradiostasie (IFM) in die Vaaldriehoek werk, het gesien hoe ek worstel met die noot (nood) in my beursie. Sy is ’n baasbakster, en stel toe voor dat ek R100 se bestanddele koop om iets te bak. Ek kan dit dan by die werk verkoop, en die geld gebruik om die radiostasie se kombersprojek te ondersteun. Wat ’n blink plan! So spring ek en my 16-jarige dogter, Monica, aan die werk om ’n toetslopie vanieljemuffins te bak.

[pagebreak]

Dit was ’n treffer en is sommer op een slag by die werk uitverkoop. Nog ’n paar baksels het gevolg, en só het ek my R100 tot R750 vermeerder! Ek het die geld aan die radiostasie se gemeenskapsprojek geskenk, wat dit gebruik om komberse te koop en vir behoeftige kinders te gee.

Wat het ek hieruit geleer? Jy kán ’n verskil maak deur net jouself te wees en die dinge te gebruik wat reeds tot jou beskikking is. Een treetjie in die regte rigting gee jou ook genoeg momentum om ’n pad van “verskil maak” te betree. Ek en my dogter beplan nou om ’n klomp muffins op ’n Sondag te bak, te verpak en dan vir mense op straat uit te deel…’n bietjie welwillendheid, en ietsie vir die maag, om hulle week op te kikker. Die mense by die werk is ook lankal al weer lus vir muffins, én gretig om by te dra tot ’n goeie doel. Venessa was reg. Geloof wat oorgaan in dade, het ’n kragtige uitwerking.

Emsie Rheeders leef nou haar droom om kinders te bemagtig

emsie.jpgToe Venessa vra dat al die vroue “wat God vertrou vir ’n wonderwerk” moet opstaan en vorentoe kom, het ek letterlik opgespring, want dit was presies die woorde wat ék tot God gerig het. By die huis het ek met die R100 in my hand stil geword, geluister en vertrou dat Hy my as instrument sal gebruik. My antwoord het gekom: “Gebruik jou sterk punt en die talent wat Ek jou gegee het.”

Ek was toe alreeds besig om ’n hoogs effektiewe studie- en eksamentegniekkursus by skole aan te bied. Met my R100-wonderwerk in gedagte, het ek ’n skool in ’n lae-inkomstegroep in Johannesburg geskakel en gevra dat hulle vyf leerders moet identifiseer wat die potensiaal het om te presteer, maar wat finansieel swaarkry. Die R100 het die druk van hulle handleidings gedek. Omdat ek reeds vyf leerders hierdeur sou help, het ek besluit ek kon netsowel méér kinders bereik. Die skool het ’n brief uitgestuur waarin al die kinders in graad 4 tot 7 genooi is om die kursus by te woon (teen ’n minimale bedrag wat ook hulle handleiding sou dek). Vyf-en-vyftig kinders het vir die twee-uursessie opgedaag. Om daardie dag die kursus aan te bied, het my die onbeskryflikste ervaring van vrede gegee. Uiteindelik het ek geleef in ooreenstemming met God se doel vir my lewe.

Ná die tyd het die vyf leerders my oor en oor kom bedank, en baie ander het tougestaan om my ’n drukkie te gee. Wat ’n amazing gevoel!
Die kursus het ook ’n groot verskil aan hulle punte gemaak. Een van die vyf leerders het voor die tyd 13 persent vir Afrikaans gekry. Sy punt het tot 74 persent gestyg deur bloot die begripstoetstegnieke toe te pas wat hy in die kursus geleer het. Die ander vier se gemiddelde punt het binne ’n maand tussen 5 en 10 persent gestyg.
Met elke kursus wat ek deesdae aanbied (by skole in die Pretoria/Johannesburg/Vereeniging- omgewing), word vyf leerders gratis geakkommodeer.

My droom is om soveel moontlik kinders met studievaardighede toe te rus wat hulle vir die res van hulle lewens sal kan toepas. My R100 het dié droom in rat gesit.
(Skole wat in Emsie se kursus belangstel, kan haar kontak by dr.emsie@gmail.com.)