Drinkwater

Ek was nog in die laerskool toe my oom-hulle van Pretoria een Desember vakansie weer vir ons op die plaas kom kuier het. Die drie nefies, ons drie plaasseuns en die plaaswerkers se seuns het op ‘n dag almal in die beeskraal gaan loop en gesels.

Wie die geveg begin het kan ek nie onthou nie, maar een van die seuns moes ‘n ander een met ‘n droë beesmiskoek gegooi het. Net daar word almal betrek en ontaard dit in ‘n oor en weer gooiery. ‘n Droë miskoek het egter nie ‘n baie stewige binding nie en sodra die miskoek op die grond val of iemand se lyf tref, breek dit in stukke.

Al wat toe oorgebly het, was die nat, vars beesmis. Jy gryp so ‘n lekker handvol en slinger dit na jou naaste teenstander. Dit is dan groot pret as jy jou teiken tref en jy die effek van jou poging waarneem. Ongelukkig word jy ook op ‘n stadium getref.

Soos aan die einde van elke oorlog die geval is, was daar dus ook baie “gewondes” – almal het beesmis iewers op die lyf gehad.

In daardie toestand kon ons egter nie huiswaarts keer nie. My Ma sou ons beslis die huis belet het, derhalwe kon ons nie die badkamer bereik nie. Die enigste ander water waarmee ons ons dus mee kon afspoel, was die krip by die kraal waaruit die diere water gedrink het. Met die ergste beesmis in die krip afgewas, kon ons darem die huis betree en onder die stort gaan inspring.

Met die oorvertelling van die oggend se gebeure het my Pa daarvan te hore gekom en ons voor stok gekry omdat ons ons in die krip afgewas het. As gevolg van ons optrede was die krip se water nou so vuil dat die diere nie die water sou kon drink nie. My Pa moes dus die krip gaan leegmaak en uitspoel sodat daar weer vars drinkwater vir die diere kon inloop.

So beland ons ook dikwels in die spervuur van ander mense se “oorloë” van onvergewinsgesindheid, wrokke wat gekoester word, jaloesie, bitterheid, geweld en haat. In ons pogings om te help, tref van die “beesmis” ons, wat ons dan so gou moontlik moet afkry anders ruik en lyk ons dalk ook soos dié wat die gooiwerk doen.

Hoe ons van die “beesmis” onslae gaan raak, gaan bepaal of ons nie op ons beurt weer die oorsaak gaan wees dat iemand anders se geestelike drinkwater beïnvloed gaan word nie. Ons wil nie die oorsaak wees dat iemand anders geestelik ongesteld raak nie.

Dit is derhalwe noodsaaklik dat ons eerstens ons harte sal beskerm want daaruit vloei ons lewe. Tweedens kan ons vuilgeid net afwas deur dit in God se teenwoordigheid vir Hom te gee en Hom te vra om ons te reinig en te help dat ons nie sal vashou aan die wrokke, jalousie, bitterheid, ensovoorts wat oor ons pad gekom het nie.