Drome tree nie af nie!

Dis ongelooflik hoe goed mense daarmee is om verskonings uit te dink veral met betrekking tot hul eie lewensideale en drome.

Aangesien ek mense gereeld aanmoedig om hul drome na te streef, het ek al handevol verskonings ook aangehoor. Mense skuil agter omstandighede, lewensmaats en kinders om nie hul drome na te jaag nie totdat hulle uiteindelik 80 is en so vanuit die ouetehuis ‘n diep sug gee en sê “ag, dit was toe mos nooit so bestem nie.”

Dis dan wanneer ek met alle respek wil sê: “ag nee, my Tannie, nou jok jy darem vreeslik!” Elkeen van ons word gebore met ‘n droom in die hart. Vir party is dit ‘n spesiale talent wat hul moet uitleef, ander het ‘n roeping om na te streef, ‘n spesifieke beroep om te volg of ‘n impak om te maak. Party mense is gelukkig, hulle beland sommer so outomaties in die regte rigting deur van kleins af hul sport drome te volg of die regte vakke te neem vir hul droom werk eendag. Dan is daar die mense wat weet wat hul droom is, maar omstandighede en ander se opinies dwing hulle in ‘n rigting weg van dit af. Maak nie saak hoe suksesvol hulle is nie, daar is altyd iets wat êrens pla, want hul hartsdroom lê elders.

Vir diesulkes wie se drome êrens in ‘n kas begrawe lê of wat langs die pad verlore geraak het is daar goeie en slegte nuus. Die slegte nuus is dat jou drome ‘n vervaldatum het. Die goeie nuus is dat daardie datum eers verstryk die dag as jy tot sterwe kom. Tot dan is jou droom lewendig en aanpasbaar. Selfs al is jy al in die ouetehuis. Wat jy nie meer self kan doen nie, kan jy nou die jonger geslag afrig om te doen.  Drome tree nie af nie, dit verander net!