Droom en werk voort

So was ek toe mos laasnaweek op die NetVirDieGirls-bootreis. Man, dit was lekker! Vir baie vroue was dit ‘n eenmaal-in-‘n-leeftyd ervaring en hulle het dit met mening aangegryp.

“Ons het ‘n jaar lank beplan en nou is ons uiteindelik hier!” was iets wat ek meer as eenmaal gehoor het. Dis lekker om uit te sien en te beplan vir ‘n vakansie, ‘n projek of ‘n groot resies waaraan jy wil gaan deelneem.

Ek glo dat elke mens ‘n visie en doelwitte moet hê waaraan hul kan werk. Mense sonder visie, sonder doelwitte, het niks meer om na uit te sien nie. Die oomblik wanneer jy niks het om na uit te sien nie, niks het om voor te werk of te beplan nie, op daardie oomblik sluip eensaamheid, depressie, moedeloosheid en vrees jou lewe binne. Glo my, dis metgeselle waarmee jy jouself nie wil ophou nie!

Tog gebeur dit so baie dat iemand vir maande of jare gewerk het na iets toe of beplan het vir ‘n ding en as hulle dit bereik het of die groot vakansie is klaar, dan sit hul half op verlate straat. Dit waarvoor hulle solank gewerk het en oor gedroom het is bereik. Daar is gevind dat Olimpiese atlete baie maal in depressie verval nadat hul goud gewen het. Hoekom? Wat hulle weet nie wat om volgende te doen nie. Hulle doelwit is bereik.

Weet jy, God se droom oor jou lewe hou nooit op nie!  Soos wat jy groei en die dinge begin doen en bereik wat Hy vir jou beplan het, so is daar altyd nog meer groei, genade en avontuurpaadjies waarop Hy jou lei. Sou daardie Olimpiese atleet maar net besef dat haar Goue medalje nou vir haar die pad oopmaak om ander te help om ook hul drome te bereik, het sy al klaar halfpad die stryd gewen.

En as die bootreis nou verby is, en jy die foto’s op Facebook gelaai het en al jou vriende en familie tweekeer al die stories vertel het, wat dan? Dan, begin jy spaar en werk aan jou volgende doelwit. Maak nie saak hoe oud jy is of wat jy al in die lewe bereik het nie, daar is altyd nog ‘n plek om te besoek, nog ‘n persoon om positief te be­­їnvloed, nog ‘n area waar jy ‘n verskil kan maak en nog ‘n dag om in dankbaarheid en in oorgawe te leef!

Vorige artikelOm struikelblokke te oorwin
Volgende artikelDrukkies
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.