Droom met die eindpunt in gedagte

309
droom

Die lewe verloop nie soos ons dit beplan nie. Dit beteken nie dat probleme jou van stryk af hoef te bring nie. Fokus op die resultaat en nie op wat jy moet opoffer nie.

Almal het drome. Tog is daar nie baie mense wat bereid of gereed is om wakker te word en hulle drome te begin leef nie.

Die probleem is dat hulle dink dat om te kom waar hulle wil wees, ’n maklike en pynlose proses gaan wees. Min mense is bereid om ’n prys te betaal vir dit wat hulle wil hê.

Moenie vaskyk teen die struikelblokke en hindernisse voor jou nie. Dit kan oorkom word, mits jy bereid is om opofferings te maak en die risiko te loop om te misluk. Dalk word jy uitgelag deur ander. Jy moet selfs kans sien om liggaamlike pyn te verduur as jy werklik in jou droom glo!

Die oomblik dat ’n mens iets moet opoffer, voel jy baiekeer nog nie gereed daarvoor nie. Jy kyk om jou rond en sien massas ander mense wat ook nie bereid is om dit te doen nie. Tog leef hulle redelike goeie lewens.

Regtig? Weet ons werklik wat in ander mense se lewens aangaan of kan ons maar net raai?

Dis maklik om ’n front voor te hou en op sosiale media te maak asof jou lewe perfek is. Die meeste mense gee voor dat hulle tevrede is met hulle omstandighede, al is dit nie die geval nie.

Dit is nie altyd maklik om die beloning van ’n gedissiplineerde leefstyl te sien nie. Jy kyk maklik vas teen die prys wat betaal moet word, soos al die dinge wat dalk prysgegee moet word. Daardie prys is dikwels veels te hoog.

Die wêreld is vol mense wat vertel dat hulle die hoogste berge sou klim, uitsonderlike prestasies sou behaal en die planeet sou red. As dit tog net nie soveel van hulle geverg het nie.

As ek terugkyk, sien ek die oorwinnings oor al die persoonlike uitdagings wat ek al moes oorkom. Ek vergelyk my nie meer met ander nie, want dis nou duidelik dat ons almal verskillend is. Dis baie meer sinvol om my eie standaard te stel en myself dan daaraan te meet.

Hierdie is ’n wonderlike vryheid en ’n nuwe manier van leef! Dit veroorsaak dat ’n mens ophou om ander te oordeel en baie minder teleurgesteld is in mense wat anders is en anders dink.

Die feit dat jy hierdie artikel lees, beteken dat jy ook wonder: Wie is ek en wie is ek veronderstel om te wees? Wat kan ek doen om my drome te verwesenlik?

Steven Covey gee die antwoord in sy boek The seven habits of highly successful people: “Successful people begin with the end in mind”.

Dit is belangrik om die einde te visualiseer voor jy aan ’n droom begin werk. Anders sal jy net vaskyk teen die prys wat betaal moet word en opgee nog voor jy begin het. As ’n mens ’n duidelike prentjie het van die resultate wat begeer word, maak dit die opofferings baie makliker.

Om die einde te kan “sien” beteken om in jou gedagtes die verwesenliking van jou droom te voel, proe, hoor, sien en beleef.

Wanneer al die sintuie ingespan word, word jy deurdrenk met die adrenalien van opwinding. In jou verbeelding kan jy jouself sien op die pad na groei, sukses en ’n betekenisvolle lewe.

As jy daarvan hou om gemaklik te wees, skryf sommer nou al klaar daardie droom op jou maag! ’n Betekenisvolle droom word deur die vuur van passie binne jou aan die brand gesteek. En glo my – dit het niks met gemak te doen nie. Inteendeel.

Passie sal geblus word deur gemak, want passie kan net groei en beweeg met die brandstof van “ongemak” – geloof en hoop.

Om te weet waarheen jy op pad is en dat daar baie wêreldse plesiere opgeoffer sal moet word daarvoor, is net die begin.

Dit is die begin van ’n asemrowende reis met baie onbekende dinge wat ontdek moet word. Niks daarvan is nuut nie, eintlik is alles al baie oud, maar dit is net nog nie deur jóú ontdek nie.

Glo dat jy tot enigiets in staat is. Kry dan die deursettingsvermoë om vreemde en ongemaklike dinge te doen. Goed, nou kan ons met die “werk” begin. Hierdie bouproses berus op die gebruik van woorde – dit wat jy van nou af vir jouself en ander gaan sê. Jou keuse is: Praat aanhoudend oor die dinge wat jy graag wil hê, of nié wil hê nie.

Onthou: Daar is ’n besliste gevolg. ’n Mens word soos ’n magneet vir die dinge wat jy kies. Leer om te praat van dinge wat jy hoop sal gebeur – en praat dan of dit reeds so is.

Dit is ’n lewensbeginsel: Wat die ore herhaaldelik hoor, sal deur die brein omgesit word in ’n geloof en as ’n opdrag gestuur word aan die liggaam. Jou liggaam volg uiteindelik presies die prentjie wat jou brein vir hom stuur.

Beskryf wat jy wíl wees, nie wat jy nié wil wees nie. Byvoorbeeld: “Ek is geduldig” eerder as: “Ek is nie meer ongeduldig nie”.

Beskryf die insette, dit wil sê, die reis, en nie die uitslag nie: “Ek waag en gee my beste” in plaas van: “Ek kry die bevordering”.

Die belangrikste van alles is, beskryf waarheen jy op pad is, nie waarvan jy wil wegkom nie. “Ek het oorvloed” teenoor “Ek is nie meer arm nie”.

Praat dit wat in die Woord belowe word en nie wat jy self glo nie. Sê byvoorbeeld: “Ek is tot alles in staat deur Christus” teenoor “Ek is sterk”.

Jy móét dit hardop sê, sodat jou ore dit kan hoor en dit by jou brein kan insink.

Hier is ’n voorbeeld: Ek het ’n wonderlike persoonlike verhouding met my Skepper en hoor Sy stem helder en duidelik. Ek leef in totale gehoorsaamheid aan Hom en daarom gaan dit goed met my.

Ek is gedissiplineerd in alles wat ek doen. Ek het waagmoed en hou altyd langer aan as ander wat mettertyd soms opgee. Ek is dankbaar vir alles waarmee ek geseën word – daar is so baie.

Ek weet dat alles wat gebeur, tot my voordeel strek. Vandag is ’n ongelooflike dag om ’n lewe van oorwinning te leef en ek sal dit voluit doen.

Dit maak nie saak wie jy is of waar jy is nie. Wanneer hierdie beginsel toegepas word, sal daar mooi en goeie vrugte wees om te geniet. Die geheim is dat jy jou mond moet oopmaak en moet praat. Doen dit elke dag!

JOU AKSIEPLAN!

Is jy gelukkig met jou lewe? Besluit om self die verantwoordelikheid vir jou lewe te aanvaar. Om ’n aksieplan op te stel is die eerste stap om jou drome ’n werklikheid te maak.

  • Skryf drie doelwitte neer wat jy graag wil bereik.
  • Hoekom is hierdie dinge vir jou belangrik?
  • Hoekom het jy nog nie hierdie dinge nie?
  • Hoe sal dit wees as jy uiteindelik kan kry wat jy begeer?
  • Skryf nou die eerste drie aksies (spesifiek en doenbaar) by elke doelwit neer waarmee jy hierdie week kan begin.

Teken Saterdag 15 Februarie (Kaap) en Saterdag 22 Februarie (Pretoria) in jou dagboek aan. Kliek op voelgoed.co.za/kalender om te bespreek vir die #EkwilEkkanEksalkonferensie.