Droomwêreld

Daar is niks so salig soos stilte nie. Daar is niks so mooi soos ‘n sonsondergang nie.

Daar is niks so kosbaar soos volkome vryheid om te wees wie ek is nie. Daar is niks so lekker soos ‘n glasie wyn saam met familie, vriende en my geliefde nie.

Dit is die wêreld deur my oë. Ma pa sê altyd: “Wat jy sien hang af van waar jy staan.” Ek het al soveel mooi waarhede by my pa geleer. Dit is seker in ‘n groot mate hy wat my gehelp het om my lewe in te kleur tot nou.

Ek is gedurig opsoek na oomblikke wat die lewe vir my ‘n tuiste maak. Party mense sê dat ek in ‘n droomwêreld leef. Dit is seker waar maar dit is waar ek gelukkig en tuis voel. Ja, die lewe bring sy storms maar ek is wie ek is. Soms kind, soms jong meisie, soms vrou.

As ek moet eerlik wees, het ek ten spyte van al die seer wat ek ervaar het, en steeds ervaar, ‘n stukkie kind-wees in my hart bewaar. Miskien lyk dit vir ander of ek verlore is in my wêreld maar ek sal stukkie vir stukkie doodgaan as die kind in my nie leefruimte het nie.

Vind jou vreugde. Wees jouself. Raak verlief op jou lewe. Raak WEER verlief op jou man of vrou. Deel jou trane. Want selfs in jou droomwêreld waar jy dalk nes ek, soms voel of niemand jou verstaan, kan jy vry wees. Jy kan JY wees. Jy hoef nie in die wêreld in te pas nie want jy is gekerf uit God se hart.

Miskien is dit juis pyn wat vir my die waarde van my eie unieke wêreld oopgebreek het. Dis hier waar ek net kan ‘wees’ en waar ek voluit leef.