Drukkies maak jou meer suksesvol

0
270
aanraking.jpg

’n Drukkie op sy tyd verrig wondere. Aanraking maak jou meer suksesvol. Gebruik dit só tot jou voordeel.

Almal weet lyftaal is nog ’n manier van “praat”. Die manier waarop jy sit of jou arms kruis, kan baie verklap oor wat in jou gedagtes omgaan. Maar het jy geweet dat jy ook deur aanraking kan kommunikeer?

Dis hoekom jy die slaaptydstories wat jou ma vir jou gelees het, so goed onthou, veral die gevoel van geborgenheid terwyl jy styf teen haar gesit het. Of hoe lekker dit was toe jou pa met jou gestoei en jou gekielie het.

In 2009 het die sielkundige Matthew Hertenstein bewys dat ’n mens wel die vermoë het om emosies slegs deur aanraking oor te dra. Hy het ’n klompie vrywilligers gevra om emosies aan ’n persoon wat geblinddoek is, te “kommunikeer”.

Die meeste deelnemers was aanvanklik ’n bietjie skepties daaroor. In die tyd waarin ons leef, is mense versigtig om aan mekaar te raak. Jy weet mos nooit wanneer jy sommer vir seksuele teistering verkla gaan word nie.

Die deelnemers moes agt emosies, naamlik woede, vrees, afkeer, liefde, dankbaarheid, simpatie, geluk en hartseer op hierdie manier probeer wys. Hertenstein was baie verbaas toe die kommunikasie 78% effektief was. Dieselfde eksperiment is ook in Spanje, die Verenigde Koninkryk, Pakistan en Turkye uitgevoer. Oral is dieselfde resultate behaal.

Hertenstein het hieruit afgelei dat ons instinktief weet hoe om die “taal” van aanraking te praat. Tog onderskat ons hierdie vermoë. Ons dink dis makliker om ’n boodskap deur gesigsuitdrukkings of met ons stemtoon oor te dra. Dít kan egter verwarring skep.

Met aanraking kan jy presies die regte boodskap gee. Dis ook die vinnigste manier om te kommunikeer. Dink maar aan hoe jy gewoonlik iemand troos wat hartseer is – met ’n drukkie, natuurlik. Dit is die kortste pad na iemand se hart.

’n Baba ontvang al gevoelseine nog voor haar geboorte. Die klank van haar ma se hartklop word deur die vrugwater versterk, en sy voel dit! Daar is talle bewyse dat babas wat meer vertroetel word, beter slaap, minder geïrriteerd is en makliker sosialiseer. En vroeggebore babas groei selfs beter. Ons word dus almal gebore met die vermoë om hierdie “taal” te praat.

Aanraking kan jou meer suksesvol maak

Teen die tyd dat jy volwasse is, het jy waarskynlik lankal geleer dat aanraking vir jou kan werk. Selfs vlugtige kontak met ’n vreemdeling kan ’n klomp positiewe gevolge hê.

In 1976 is daar interessante navorsing gedoen. Die klerke in ’n universiteitsbiblioteek is gevra om vlugtig aan studente te raak wanneer hulle hulle biblioteekkaartjies teruggee. Hierdie studente het agterna die klerke en die biblioteek baie hoër geëvalueer as ander studente. Hulle kon nie juis verklaar hoekom nie.

In onlangse studies is daar bevind dat mense groter fooitjies vir ’n kelnerin gee wat “toevallig” aan hulle raak as sy die rekening vir hulle gee. Klante spandeer ook meer geld in ’n winkel as ’n winkelassistent byvoorbeeld vinnig aan hulle vat terwyl sy vra of hulle hulp nodig het.

Baie mense kom nie eers agter dat daar aan hulle geraak word nie. Hulle voel net hulle hou meer van iemand en het dadelik ’n konneksie met dié persoon. Die rede hiervoor is dat wanneer die drukreseptore op ’n mens se vel gestimuleer word, dit jou streshormone verminder. ’n Warm aanraking stel ook die cuddle-hormoon vry, wat jou lekker laat voel. Al is dit ’n vreemdeling, voel jy sommer meer “oop” teenoor die persoon. Dis ook hoekom jy dink jy kan iemand van die begin af vertrou.

Dit werk vir jouself ook. Jy het seker al agtergekom dat jy jou nek vryf om kalm te word as jy gespanne is. Só stel jy self hierdie hormone vry. Jy troos jouself eintlik talle kere per dag so.

Jy wen ook as jy iemand ’n drukkie gee

Het jy nog altyd gedink jou vriendin is die enigste een wat goed voel as jy haar ’n drukkie gee? Jy besef dit dalk nie, maar as jy iemand ’n massering of ’n drukkie gee, is dit jou net so goed vir jou as vir haar. Julle al twee se spanning verminder, julle harttempo neem af en die goedvoelhormone begin werk.

Dis ook nie die enigste voordele wat daar is nie. Jy kan ook vasstel hoe die ander persoon voel as jy aan haar raak. Só stuur jy vir iemand ’n boodskap en kry jy ook terugvoer vanaf daardie persoon. Hoe die persoon se lyf voel, is vir jou ’n aanduiding van haar gemoedstoestand. Is haar spiere styf of ontspanne? Is sy warm en spontaan of voel sy koud en klinies? Hou sy van die aanraking of deins sy terug daarvan?

Die boodskap wat jy kry, sê dan vir jou hoe jy teenoor die persoon moet optree. As jy fyn hierna oplet, sal jy makliker weet wat om te sê. Dit help jou ook om te verstaan hoe jy die ander mens se woorde moet interpreteer.

Aanraking is ’n goeie manier om meer intimiteit ’n verhouding te kry. Dit gaan nie altyd oor hoeveel julle aan mekaar raak nie, maar veral oor hoe die ander persoon op jou aanraking reageer.

Nou weet jy wat om volgende keer te doen as jy moeg en gespanne by die huis kom na ’n kwaai dag by die werk. Vryf iemand se rug, dan voel jyself beter!

Maak seker jy ken die reëls vir liggaamlike kontak

Jy stuur belangrike boodskappe deur liggaamlike aanraking. ’n Handdruk, byvoorbeeld, sê baie omtrent jou. Moenie dink omdat jy ’n vrou is, moet jou handdruk papperig wees nie. ’n Stewige handdruk sê jy het selfvertroue en dra warmte oor. ’n Karategreep kan egter die indruk skep dat jy wil domineer, en dit kan mense afsit.

Jy kan maklik die verkeerde boodskap stuur deur té vatterig te wees, veral op kantoor. Die “veilige” dele van die liggaam is die arm, die hand en ook die rug. Gee gerus ’n klop op die skouer of high five as iemand dit verdien.

Daar is egter ook ander dinge waaraan jy moet dink. Neem die persoon se kultuur en persoonlikheid in ag. En of dit ’n man of ’n vrou is. Hoe lank jy kontak maak en hoe intens dit is, maak ’n groot verskil. Dis doodreg om vinnig aan iemand se arm te raak om haar aandag te trek, maar as jy jou kollega se arm liefderyk streel terwyl jy diep in sy oë kyk, soek jy moeilikheid!

Dieselfde aanraking kan verskillende boodskappe hê, na gelang van wie aan jou raak en waar dit gebeur. Jy sal nie snaaks dink as ’n dokter tydens ’n mediese ondersoek aan jou been vat nie, maar as iemand dit by ’n partytjie doen, is dit ’n heel ander storie!

Dis die moeite werd om die krag van aanraking te ontdek. Daar is tye wanneer slegs hierdie “taal” presies kan sê wat jy bedoel.

Verwerk uit The Power of Touch deur Rick Chillot.