Dryf … jy sal nie sink nie!

Ons praat gereeld van “aan die diep kant ingooi” en “kop bo water hou” as ons na moeilike omstandighede verwys.

Dit het my laat dink aan die swemlesse wat ek vir baie kinders gegee het. Een van die basiese beginsels van swem is dat jy éérs moet dryf; dit werk amper soos loop en kruip. Ongelukkig is dryf vir baie mense moeiliker as swem, en die rede, dink ek, is omdat ‘n baie belangrike stappie in die dryf-proses is dat jy totaal en al moet ontspan. Beheer oorgee. Vertrou.

As ek iemand leer dryf, staan ons altyd aan die vlak kant van die swembad. Eers buig ons ons knieë en maak sulke lang, slap arms wat bo-op die water dryf.

Sien? Die water hou jou bo … kyk, jou arms dryf. Keer nou jou arms om, sodat jou hande oop, met palms na bó dryf. Sien jy, solank jy jou arms en polse slap hou, sink hulle nie.

Dan laat ek die leerling agteroor lê sodat sy kop in die water is. Laat sak jou kop. Heeltemal. Jou ore kan maar onder die water wees… ons hét dit al gedoen, onthou jy?

Die bolyf dryf nou, al besef die leerling dit gewoonlik nie omdat sy voete nog op die grond is. Nou kom die groot uitdaging:

Lig nou jou voete en laat jou bene ook so slap op die water laat dryf. Vertrou my, ek hou jou rug vas. Buitendien is dit vlak hier waar ons is. Ontspan net.

Gewoonlik kom ons reg na ‘n paar probeerslae. Kinders kry dit makliker reg as grootmense. Kleiner kinders die heel maklikste. Vrouens gewoonlik makliker as mans.

Dit alles is so tipies van ons mense in moeilike situasies. In die eerste plek is dit amper onmoontlik om in nederigheid met gebuigde knieë enige proses te begin. Ons wil ook tog net áltyd alles hoor en weet – ek kan nie bekostig dat iets gebeur of gesê word sonder dat ek daarvan bewus is nie: al is dit nuttelose, irrelevante en skadelike inligting wat my niks gaan help nie. Ek wil nie my hande oopmaak nie, want … wat as ek my vuiste nodig kry? Ek wil nie die weerlose onderkante van my arms en my sagte handpalms wys nie – nee, ek moet sterk wees, of ten minste sterk lyk! En wat as die hand wat my ondersteun, my los?

En ek kan mos nooit my vastrapplek prysgee nie! Wat as dit nie so vlak is as wat ek oomblikke gelede self bevestig het nie? Wat as alles ‘n ingewikkelde komplot is om my te laat verdrink? Onstpan?? Buite die kwessie! Vertrou?? Glad nie!

Ons wil swem, want ons wil in beheer wees en ons eie spoed en rigting bepaal, maar ons wil nie eers dryf nie.

En dan wonder ons hoekom ons sukkel om kop bo water te hou.

Vorige artikelaa ADULTER/ESS!
Volgende artikelOor strome
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com