Dunay Darren se wens vir haar kind

0
370
dunay_darren.jpg

Met hulle baba op pad, verlang Dunay baie na haar pa. Die één foto wat sy nooit sal kan neem nie…

Ek het die gelukkigste kinderjare beleef! En dis iets wat ek ook graag vir my eie kinders wil gee. ’n Pa en ma wat regtig dáár is… Dis seker hoekom ek met ’n man getrou het wat so baie soos my eie pa is: Hardwerkend, impulsief, vrygewig, lief vir die bosveld… en ek kan albei om my pinkie draai!

My pa. Dit maak nie saak wie na hom toe gekom het nie. Hy het altyd gehelp, of dit nou finansieel was of op enige ander manier. Kurt is ook so. En natuurlik is ek albei se prinses!

Ongelukkig is daar iets wat my kinders se storieboek-gelukkige prentjie gaan kort – ʼn oupa. Want my pa is weg. Sy gesig sal nooit weer op ʼn familiefoto wees nie… en ek mis hom so. Vir my is hy nog so híér – ek sukkel om in die verlede tyd van hom te praat.

Maar in my kinderalbum is hy nog daar! Oral. Die 22 jaar op ons kleinhoewe tussen Fourways en Lanseria, was soos ʼn Heidi-storie. Sorgloos – met baie diere. Ouma en oupa het ook by ons gebly. Daar het ek fiets gery, bokke gemelk, lammertjies met die hand grootgemaak, boom geklim, kleilat gegooi. Al was ek ’n enigste kind, was ek nie alleen nie. Met tien honde, meer as ʼn duisend voëls, hoenders en ganse vir speelmaats, het ek oorgenoeg geselskap gehad.

Kleintyd was ek pal aan my pa se sy, maar deesdae loop ek die malls saam met my ma plat. Eintlik is ek ’n daddy’s girl én ’n mommy’s girl. Dit is seker maar wat gebeur wanneer jy die enigste kind is.

En toe word my pa siek. Sy emfiseem, sy dood, was een van my laagste laagtepunte. Destyds het die dokters gesê hy gaan hoogstens nog twee jaar lewe. Maar uiteindelik is hy sewe jaar gespaar. Dit was bittersoet. Jy waardeer al die oomblikke saam, maar jy weet die tyd gaan kom. En elke oggend wonder jy: Is dit vandag?

Al is ons dankbaar oor die ekstra tyd wat God hom vir ons geleen het, het hy soveel pyn gehad. Dit was ’n emosionele roller coaster. Ek weet almal moet eendag doodgaan. Maar omdat dit in sy geval so naby en beslis was, het die gedagte soos ʼn swaard oor my kop gehang. Dis net geloof en vriende se gebede wat jou daardeur kan help.

As enigste kind was ek nog altyd na aan my ma – amper soos beste vriendinne. Met my pa se dood het ons nog nader aan mekaar gekom. En dan is daar Kurt. Elke mens hanteer verlies anders en ek het nie geweet hoe hy sou optree nie. Maar hy was fantasties. Onmiddellik ná my pa se dood het hy gesê my ma moet eers na ons toe kom. Min mans sal dit doen.

As iemand doodgaan, sê mense maklik: “Wees sterk.” Hoe op aarde kan hulle dit vir jou sê? Nou?! wonder jy… Aan die ander kant is daar mense wat jou aanmoedig: “Treur, huil, moenie probeer sterk wees nie.” Hierdie “toestemming” is kosbaar, want die enigste ding wat seerder is as jou pyn, is om dit te probeer wegsteek.

Daardie eerstes bly maar erg. ’n Week en ’n half na sy dood was dit Vadersdag. Toe my eerste verjaardag en daarna die eerste Kersfees sonder hom.

Sy spesiale naam vir my was Jakkals. Naby-mense in my lewe weet hiervan, maar as hulle nou die naam gebruik, maak dit my seer, want dit was my en my pa se ding. Ek mis hom. Selfs sy stille teenwoordigheid in daardie laaste ruk toe hy so siek was.

Een manier waarop ek ’n bietjie closure gekry het, was om ’n l-a-a-ang brief vir hom te skryf, alles waaroor ek bly én spyt was, en dit in sy kis te sit. My ma het dit ook gedoen. Dit help baie om ’n mate van finaliteit te gee.

Met ons troue het ons vir elke paartjie ’n luglantern gegee waarop hulle ’n wens kon skryf voor dit in die lug opgestuur is. Op my pa se begrafnis was daar ook een waarop al die familielede vinnig iets kon skryf. Ons het dit opgestuur as simbool van ons laaste wense aan hom.

Ek glo onwrikbaar in God, my familie en in liefde! Jy moet jou familie altyd na aan jou hart hou. Hulle sal altyd daar wees vir jou. Niks is sekerder as dit nie.

Ek hoop ek kan eendag net soveel liefde vir my kinders gee… En noudat ek my meestersgraad in sielkunde voltooi het, kan ek begin werk aan my groot droom om kinders te help deur spelterapie en traumaberading.

’n Kankerlyertjie, Jayden (toe ses jaar oud), se glimlag bly my altyd by. Ek het hom so twee of drie keer gesien voor hy oorlede is. Een middag het ek vir hom speelgoed en ’n foto van Kurt geneem. Sy lyfie was so seer, maar hy het niks gewys nie – net met sy karretjie op die bed gespeel. Vir ’n paar minute kon hy net kind wees. Die innerlike krag wat uit daardie mensie gestraal het, het my laat besef dat niks vanselfsprekend is nie, en dat ek vir elke oomblik moet lééf.

Eendag, nadat daar nog baie water in die see geloop het, gaan ek ʼn foto van my en Kurt, iewers rustig in die bosveld, neem: Ons twee, met baie kinders en baie honde! Vir ons album.