Duwwelpad…se ritme!

Ek kan multi task!
Ek is uitstekend daarmee, dis ‘n kompetisie wat ek in my kop aan die gang het. Hoeveel kan jy op ‘n slag doen, hoe lank kan die lys wees en hoe baie is afgetiek vanaand. Dan is ek of diep tevrede of suurgetrek met mysigSelwers aan die einde van die dag.
Ek het nie so begin nie. Gladnie! Was baie geterg oor ek so dromerig, luierig en leserig was kleintyd. Ouma Alida het altyd gesê sy gaan vir my spoedpille kry by die dokter. Dit het ‘n tergery geword. My broers en susters het sommer bygevoeg dat ek die bedorwe laatlam is en lui is. Daai ene het skeef kom sit op my. En uit al hierdies het ek seker gegroei tot by ‘n stormende veeldoener. Ietsie soos bewys dat ek nie is wat gesê was nie. Die ellende van so ‘n skeefgroeiery is mos dat net jý daarvan weet. Niemand het bedoel om my te na te kom nie, ek het dit self aangevang.

Trots was ek later oor my raakvattery, spoggerig het ek groter en verder bygekom as meeste raakvatters. My lyf het soms gesmeek vir genade, met tye geknou en mank gesleep. Dan het ek gestop en mismoedig en skuldig gesit en wag dat hy weer regop trek. Net om voort te storm deur die lys en af te tiek en te wonder hoe kan ek nog meer inpas in die dag. Altyd skuldig oor die on-ge-tiektes en altyd bekommerd oor dit wat ek nog wil en moet en behoort…

Maar ‘n lyf kan opraak. Myne het op ‘n stadium gewaarsku! Die ligte bewing in my het nie meer tot stilte gekom in die nag nie. Die hoofpyne het later nooit meer weggegaan nie, net ligter en erger geword. Die maagpyn en stukkende mond het deel geword van my stormende lewe.

En toe breek ek flenters. So flenters dat dit my ‘n jaar gevat het om weer amper mens te wees. Min het ek geweet as mens ‘n lyf so ver druk, dat jy vir altyd ‘n mank-meester met jou sal saamdra wat jou herinner om stadiger te leef.
Die meester het vir my brieke aangesit. Eers het ek my teëgesit en was ek suur en kwaad daaroor. Later het ek die boodskap en gift begin soek en gekry.

Nou is ek terug by my eie ritme waarmee ek gekom het. Stadig is myne. Een ding op ‘n slag is my beste doen. Ek het ingesien dat ek is waar ek is, nêrens om heen te storm. Twee en drie op ‘n slag beïndruk niemand nie. Gefokusde liefde en kreatiwiteit is kwaliteit.
En toe verstaan ek wat Lao Tzu gesê het: “Nature does nothing, yet nothing is left undone!”
En ek skink vir my en my meester ‘n koppietjie tee, ons sit langbeen in die son en doen net dit, vir nou.