“Een koppie sop het my lewe verander”

808

Daniel Hlabahlaba het alles verloor wat vir hom belangrik was. ’n Koppie sop en ’n goeie dosis geloof het hom gehelp om weer aan die gang te kom.

“Die lewe was nie altyd sleg nie. Dit was ook nie asof ek nie van jongs af die Here geken het nie. My pa was immers ’n evangelis en die gesin het elke Sondag voor in die kerk gesit, want dit is van ons verwag. Ongelukkig het dit niks beteken nie. Nie toe ek jonk was of toe ek ouer geword het nie.

“Na skool het ek by die myn gaan werk en kort daarna die liefde van my lewe ontmoet. Ons het getrou en twee pragtige kinders saam gehad. Finansieel het dit ook baie goed gegaan. Ek het bedank en saam met vennote ’n besigheid begin. Met die krag van geld is verskeie vrugte- en groentemarkte gekoop en is daar opgang gemaak in die sakewêreld.

“Ongelukkig het hoogmoed die oorhand gekry en het ek betrokke geraak by al die verkeerde dinge wat daar is. Mooi jong meisies, drank, die een partytjie na die ander. Die geld het stelselmatig opgeraak en in die heersende politieke en ekonomiese klimaat het ek alles verloor. Selfs die huis. My vrou het ook moeg geraak vir my eskapades en leefstyl en, met familie se ondersteuning, die kinders gevat en geloop. Dit was ’n groot laagtepunt.

“Die volgende oomblik was ek letterlik op straat met niks meer as die klere aan my lyf nie. Dit was angswekkend! Bedel het die enigste uitweg geword om te kon eet. Iemand het my toe na Torings van Hoop se sopkombuis verwys. Dit was ’n strooihalmpie om aan vas te klou, want daar was altyd iets warms om te eet. Dit het ’n baken van hoop geword en ’n geleentheid om ’n regte verhouding met die Here te begin bou.

“Buiten kos en mediese sorg, kon ek ook deelneem aan hulle mentorskapprogramme en het waardevolle lewensvaardighede aangeleer, soos om behoorlik te begroot. Ek het werk gekry as deel van die organisasie se skoonmaakspan wat die stad skoonmaak. Hulle het vir my ’n huis gebou en ook gehelp om ’n rybewys te kry. My verhouding met my vrou en kinders is ook al heelwat beter.

“Deesdae is ek die een wat vir my bure lewensvaardighede leer en help met kos en ander benodigdhede waar ek kan. Stelselmatig herbou ek nie net my eie lewe nie, maar probeer ook ’n verskil maak in ander s’n.”

De la Harpe le Roux is die hoof van Bloemfontein se Torings van Hoop en is by die kerk geplaas om te verhinder dat dit toemaak. Alhoewel die gemeente in sy oorspronklike formaat nie kon voortgaan nie, het dit tot ’n splinternuwe organisasie gelei met ’n hart vir die kwesbare mense in die gemeenskap. Hulle gee vir haweloses kos en mediese sorg, hou kerk, bied lewensverrykingsprogramme aan en skep werk waar moontlik.

Jy kan ook help om mense se lewens te herbou. Belê in TORINGS VAN HOOP se doel en besoek towersofhope.org vir meer inligting. Volg hulle op sosiale media by @Torings van Hoop/Towers of Hope.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.