Eendag as ons groot is     

Ek en my vrou sit in die bed en ek vra haar wie sy ken wat nederig is.

Sonder om te dink, sê sy ons mentor se naam (kom ons noem hom Koos, want sy nederigheid sal vir seker nie toelaat dat ons sy naam hier noem nie – dis hoe nederige mense werk). En dit is vir seker so. Oom Koos is ’n nederige mens. Hy het al soveel reggekry. Hy het al in honderde mense se lewens ’n werklike impak gemaak. Baie mense is anders as gevolg van hom. Baie mense gaan hemel toe net omdat hy in hulle lewens ’n draai gemaak het. In hom word Jesus se opdrag om dissipels van mense te maak vir my sigbaar. Hy het mense by die hand geneem en hulle saam met die Heilige Gees gelei om dissipelskap te verstaan en hulle kon uitgaan om weer hordes ander by die hand te neem en dieselfde pad met hulle te stap.

So kan ek aangaan en nog baie hoogtepunte van sy lewe beskryf. Eintlik wil ek, as ek eendag groot is, net soos hy wees.

As jy hom daaroor uitvra, vertel hy amper niks van wat hy reggekry het nie. Elke keer wat ek met hom praat, getuig hy oor wat God reggekry het. Elke keer gee hy vir God die eer. Hy sit homself nooit in die prentjie nie. Dis nie hy wat iets reggekry het nie, maar God en sy Gees deur sy wonderlik genade.

Dis nederigheid.

Geen eer, geen aansien, geen finansiële voordeel, niks wil Oom Koos vir homself vat nie.

Dis presies wat Jesus vir ons elkeen kom leer. Ons moenie probeer om voor in die ry in te druk nie. Ons moenie probeer vat en vat en vat nie.

Ons moet eerder dien sodat ons ’n verskil in ander se lewens kan maak. En wanneer ons dit regkry, moet ons al die eer vir God gee. Ons hoef nie by die regte adres te woon, of die regte posisie in die werk te hê, of die grootste die of daai te besit nie. Inteendeel. Op die ou end is posisies en eer soos mis voor die son wat binne ’n oogknip verdwyn.

Dan besef jy eers dat jy eintlik alleen agter staan en dat jy daarna smag om soos die nederige persoon te wees wat baie vir ander gedoen het. Want dis eintlik hy wat voor in die ry van die lewe staan. Almal kyk op na hom en sy nederigheid, en regtig, almal wil soos hy wees. Soos Oom Koos.

Mag ander dit ook, eendag as ons groot is, van ons sê.