Eendag as ons groot is!

Herontdek jou drome en leef jou roeping!

Kleintyd het ons mos almal groot drome gehad vir “eendag as ons  groot is…” Ek onthou ek het gereeld ons gasverwarmer as podium gebruik en vir my boeties gepreek. Hulle moes net stilsit en luister! My eendag het werklikheid geword en vandag doen ek presies dit waaroor ek jare gedroom het. Ek leef my roeping elke dag en geniet dit. En jy? Wat het van jou drome geword? Het jy dit maar net êrens langs die pad gelos of sê jy steeds jy gaan dit “eendag as ek groot is” doen?

Ek glo elke mens is op hierdie aarde met ‘n spesifieke droom en roeping. Baie mense kom egter nooit daarby uit nie. Die lewe het met hulle ‘n koers ingeslaan en nou karring hulle maar aan, maar hier in hul binneste weet hulle iets is nie reg nie.

Gaan dink mooi wat jy as kind graag gedoen het, kanse is goed dat dit verband hou met jou roeping. Vra jouself:

  • Waarvan hou ek?
  • Waarvan hou ek nie?
  • Wat maak my kwaad?
  • Wat maak my hartseer?

En dan die belangrikste vraag van almal… Wat sou jy wou doen as almal dieselfde geld sou verdien het ongeag of jy ‘n ekonoom of administratiewe beampte was? Sou jy steeds doen wat jy nou doen? Geld moet nooit die motiveerder wees vir wat jy doen nie. Jou roeping moet.

Selfs wanneer jy weet wat jou roeping is, besef dat dit nie sommer net in jou skoot sal val nie. Partykeer vat dit jare se voorbereiding voordat jy kan doen wat jy gebore is om te doen.

Vandag wil ek vir jou sê moet nooit in jou omstandighede vaskyk nie. Die Here het altyd ‘n groter en ‘n baie spesifieke plan met jou lewe en moenie dat die dief van eendag jou vandag steel nie!

Vorige artikelVas weekliks vir ’n gesonde lyf
Volgende artikelMoenie ’n perfekte ma probeer wees nie
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.