Eenvoudige maniere om gelukkig te leef

0
113
gelukkig

Jou lewe sal nooit perfek wees nie, maar daar is tog maniere hoe jy jouself kan flous om gelukkiger te voel, al het jy probleme.

Jou lewe sal nooit perfek wees nie, maar daar is tog maniere hoe jy jouself kan flous om gelukkiger te voel, al het jy probleme.

Jy het miskien al baie selfhelpboeke gelees en na motiveringspraatjies geluister, en tog is jy steeds nie gelukkiger nie. Geluk is egter glad nie so onbereikbaar soos jy dink nie. Probeer een van hierdie slim truuks. Dit sal jou laat lag en woema vir die lewe gee!

Tel jou seëninge, een vir een!

As depressiewe gevoelens jou beetpak, begin by die basiese dinge en sê dankie. Nommer een: Jy lewe! Dis so vanselfsprekend, maar dink ’n bietjie hoeveel biologiese prosesse moes presies reg uitwerk sodat jy nou hier kan wees. Jou liggaam is ongelooflik!

Nommer twee: Maak ’n lys van die mense wat vir jou die belangrikste is. Waardeer en koester hulle en sê gereeld vir hulle hoe baie jy hulle waardeer. Wat sou jou lewe tog sonder hulle gewees het?

Dink gereeld waarvoor jy dankbaar is; dan sal jy outomaties op die goeie dinge fokus en van die slegte dinge vergeet.

Omring jouself elke dag met positiewe mense

Geluk is toe al die tyd aansteeklik! Studies het bevind dat daar groepe gelukkige of ongelukkige mense bestaan. Dit beteken as jou vriendinne en familie oorwegend gelukkig en positief is, jy waarskynlik ook gelukkig sal wees.

Die teendeel is ook waar: As jy omring is deur suurpruime by die werk én by die huis, sal jy sommer gou-gou ook suur begin raak!

Dis belangrik om al daardie toksiese mense wat jou met hulle negatiwiteit dreineer, uit jou lewe te verban. Kies van nou af om jou eerder met positiewe siele te omring.

Glimlag breed al wil jy nie!

As jy vandag ’n bietjie blou voel, glimlag! Navorsing het bewys dat ’n enkele gesigsuitdrukking jou emosies kan beïnvloed: ’n Frons kan jou negatief maak. Net so kan ’n glimlag jou regtig beter laat voel!

Dit sal aanvanklik vreemd wees om sommer net te glimlag, maar wees kreatief. Daar moet darem een ding wees waaroor jy ’n bietjie binnepret kan hê. En onthou, ’n glimlag is aansteeklik!

Lag stel al daardie goedvoelhormone vry waarvan ons gereeld hoor. ’n Lekker lagbui kan selfs jou vermoë om pyn te verduur verhoog! Jy het nie eintlik iets waaroor jy kan lag nie? Sit dan daardie Mr Bean-episode of Schuster-fliek op en lag uit jou maag!

Wees ’n slag goed vir ander mense

Dis seker een van die vreemdste stukkies raad: As jy “af” voel die dag, gaan bak vir iemand ʼn appeltert. Help ander, dan sal jy self beter voel! Dis regtig waar.

Die nuutste navorsing toon dat 100 uur per jaar die towerformule is. Dis hoeveel van jou kosbare tyd jy vir ander mense moet gebruik. Dis skaars twee uur per week. As jy elke dag 20 minute afknyp, is jy sommer gou-gou daar!

Maak ’n lys van jou drome en werk daaraan

Vra jouself hierdie twee vrae: Wat is die een ding wat ek verskriklik graag doen? En, belangriker, is ek op die oomblik besig om dit te doen?

Jy sal dalk gou ’n antwoord op die eerste vraag kan gee, maar op die tweede vraag nee antwoord. Maak ’n lys van al jou drome en begin hulle afmerk, een vir een. Jou passies is die dinge wat jou uiteindelik gelukkig sal maak.

Daar is oneindig baie moontlikhede – en jy kan enigiets doen waarop jy jou hart sit! Wil jy Europa toe gaan? Jy kan! Wil jy ’n boek skryf? Jy kan!

As jy bang is om ’n groot kans te waag, begin om net elke dag ’n halfuur lank aan jou droom te werk.

Begin beweeg en oefen jou sorge weg

Toemaar, jy hoef nie ’n maraton te hardloop nie. ’n Paar minute se oefening elke dag sal jou gou weer laat lag.

Studies het getoon dat oefening ook daardie wonderlike endorfiene vrystel wat jou so goed laat voel. Oefening laat jou ontspan en helderder dink en verbeter jou siening oor jou lyf. Al verloor jy nie gewig nie, vóél jy minstens beter oor jouself. Watter vrou het dit nie soms nodig nie?

Die goeie nuus is: ’n Skrale sewe minute se matige oefening, soos ’n flink stappie, kan jou baie beter laat voel. So, al is jy hóé besig, probeer elke dag ’n tydjie inruim om te beweeg.

Kry ’n mantra en sê dit vir jouself

Jy het dalk hope aanhalings wat jy iewers op jou rekenaar bêre of in ’n boek neerskryf, maar wat is die één ding wat jou elke keer weer moed gee?

Miskien is dit ’n Bybelvers of ’n kort sinnetjie soos: Dit sal ook verbygaan of: Ek weet ek kan! As jy nog nie so ’n mantra of slagspreuk het nie, lees deur ’n paar aanhalings tot jy iets kry wat vir jou sal werk.

Sê nou hierdie slagspreuk deur die dag in jou gedagtes of hardop vir jouself wanneer jy voel jy het motivering nodig.

Beplan jou dag voor jy in die bed klim

Doen ’n bietjie ekstra moeite en maak reeds jou doenlysie vir die dag – vóór jy gaan inkruip. Jy sal baie beter slaap en nie so lê en rondrol terwyl jy oor môre stres nie.

Kry iets wat vir jou werk. Een vrou vertel sy sit die vorige aand klaar haar klere vir die volgende dag reg. Sy maak ook ’n lysie van elke klein dingetjie wat sy moet doen. Jy hoef nie so presies te wees nie, solank jy net ’n basiese prentjie het van alles wat môre voorlê.

Jy sal sien, as jy ’n bietjie beter georganiseerd is, sal jy elke dag meer tyd hê om te ontspan, en dit sal jou weer gelukkiger maak.

Dra jou gunstelingrok as jy blou voel

Jy ken daardie dae wat jy sommer in jou uitgerekte ou sweetpak wil rondslof omdat jy eenvoudig nie lus is vir ordentlik aantrek nie. Dit kan jou egter nog slegter laat voel.

Kies op so ’n dag juis jou gunstelingjeans of ‑rok. Dit moet iets wees waarin jy goed lyk én goed voel. Jy wil tog nie ongemaklik voel nie, al lyk jy hóé mooi.

As jy goed lyk, sal jy outomaties goed voel en dalk nog ’n kompliment ook kry. Wat jou nóg beter sal laat voel!

Dink pienk gedagtes en wees meer positief

’n Maklike manier om meer positief te dink, is om jou reaksie op dinge te verander. Gestel jou skoonma kom kuier terwyl jy gehoop het op ’n rustige naweek saam met jou gesin. In plaas van om net aan die negatiewe dinge te dink, dink ’n slag positief.

Julle kan haar dalk vra om Saterdagaand vir ’n paar uur by die kinders te bly terwyl jy en manlief uitgaan. So kry sy gehaltetyd saam met haar kleinkinders en julle het ’n kosbare tydjie saam.

Wees van nou af eerder jou eie persoonlike cheerleader en nie jou eie grootste vyand nie! Begin vandag, al is dit net met een van hierdie truuks, en flous jouself gelukkig!

Vertaal en verwerk uit Simple Ways To Be Happier Today.