Eerder siek as vet?

1541

Baie vroue meet hulle geluk aan die syfers op die skaal. Soms is die begeerte na maerwees so sterk dat hulle hulle gesondheid skade aandoen.

Hoekom is dit vir soveel vroue belangrik om eers gewig te verloor voor hulle gelukkig kan wees? Moet ons algehele gesondheid nie eerste prioriteit kry nie?

Jy is ontwerp om toekomsgedrewe te leef. Jy sien al hoe goed jy gaan lyk en voel in jou nuwe lyf. Dit is normaal. ’n Mens wíl verander en gesonder leef. Onthou om gewig te verloor vat selfbeheersing en toewyding.

Om ’n gesonder gewig te bereik gaan jou natuurlik goed doen. Die proses moet net reg benader word op emosionele en fisieke vlak. Soveel vroue verloor hulle menswees tydens die proses.

Jou lyf moet jou vriendin bly en nie die fokus van jou selfhaat word nie. Moenie jou ontneem van alle lekkertes in die lewe nie. Kry jou fokus terug op jou geluk en jou gesondheid as ’n geheel, eerder as net die syfer op die skaal.

Begin by jou gedagtes. Jy mag jouself liefhê en waardeer. Skryf jou doelwitte neer. Herroep iets positiefs uit jou verlede. Vervang selfkritiek met woorde van liefde en opbouing.

As gewigsverlies ’n voorneme is, skryf hierdie keer neer wat jy graag wil bereik. Wees realisties oor die tyd wat dit gaan neem. Maak ’n punt daarvan om hiermee saam jou cholesterol, glukose en bloeddruk (hipertensie) te toets by jou dokter.

Besluit saam met jou dokter op ’n dieet- en gesondheidsplan wat vir jou werk. Leefstyl dieetaanpassings soos die Mediterreense Dieet het die beste langtermyn resultate vir jou gesondheid én jou gewig.

Wys liefde aan jouself deur om te sien na jou algehele gesondheid en aanpassings te maak ná deskundige advies. Kies om jou lewe te geniet met ’n goed versorgde liggaam, denke en gees.
 

Ellenore Meyer, mediese dokter

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Ellenore.