Eerder vet en vrolik as maer!

0
89
Ronel_van_Schalkwyk.jpg

Ronel van Schalkwyk sukkel om minder te eet. Sy voel skuldig as sy oortree en wonder of sy dan vir God teleurstel.

Vandat jy kan onthou, is jy ook op dieet. Een pouse het jy nog lustig aan jou grondboontjiebottertoebroodjies gesmul. Toe sien jy hoe jou maats die modelle se plankdun lywe in ’n tydskrif bewonder. Jy het selfbewus afgekyk na die babavetjies om jou maag, en die volgende dag net ’n paar skyfies tamatie en ’n wortel in jou kosblik gepak …

Baie vroue het ’n obsessie oor hulle gewig, nie omdat hulle dink vet is ongesond nie, maar omdat hulle bang is ander mense bejammer of verstoot hulle.

Dis alles goed en wel om skraal te wil wees, solank jou redes reg is. Met die regte motivering sal dit ook vir jou makliker wees om in die toekoms by jou mikpunte uit te kom.

Maer wees alleen is nie goed genoeg nie

Jy redeneer dalk dat dit gesond is om maer te wees; daarom is ’n slanke lyfie tog seker die “regte” ding om te begeer. Dit beteken mos jy kyk mooi na jouself, want jy beskou jou liggaam as ’n tempel wat jy moet oppas. Maar selfs al doen jy dit, beteken dit nie noodwendig dat jy die Here se guns gaan wen nie. Dit gaan oor baie meer as die sogenaamd perfekte lyf.

Jy kan liewer ’n bietjie oorgewig wees, en steeds beter daaraan toe wees as jou skraal vriendin. Jy weet dit dalk nie, maar sy eet miskien verkeerd en oefen nooit omdat sy nie maklik vet word nie. Daardie ekstra kilo’s wat jy ronddra, is dus eintlik ’n bedekte seën, want dit dwing jou om mooier na jou lyf te kyk.

Jou doel moet eerder ’n gesonde liggaam wees

Jy weet presies wat die waarde van oefening is. Jy het mos al ’n duisend keer gelees en gehoor hoe belangrik dit is. Maar sweet jý gereeld? Miskien. Soms, as jy nie te moeg is nie. Of as jy tyd het. En ook net om gewig te verloor.

Die kennis wat jy met ander woorde oor oefening of die regte eetgewoontes het, kan jou nie altyd motiveer om tot aksie oor te gaan nie. Wat jy doen, is nie gegrond op wat jy weet nie (oefening en reg eet is goed vir jou), maar eerder op wat jy begeer (’n mooi lyf).

As jy jou liggaam verwaarloos, kan jy siek word en dit kan verhoed dat jy jou lewe voluit leef. Skielik is jy te moeg om jou talente te gebruik. Jy begin jou verhoudings afskeep en leef van dag tot dag omdat jy nie krag het vir iets ekstra nie. Verder kruip jy weg, want wie wil nou in die openbaar verskyn as sy só lyk? Maar dink jy regtig so ’n leefstyl vorm deel van die besonderse plan vir jou lewe?

Kry dus die klem op die regte plek en sorg vir jou lyf: nie omdat jy deur ander bewonder en aanvaar wil word nie, maar om te wys jy eer en respekteer die Vader se handewerk. Jou lyf is immers nie iets aparts van jou nie; jou lyf is jý. Sonder jou liggaam kan jy tog nie hier op aarde bestaan nie.

Jy moet nou al aan jou oudag dink

Volgens statistiek leef ons langer as ons voorgeslagte, maar ly vir meer jare aan die een of ander chroniese siekte. Mense wat fiks is, leef egter net ongeveer vyf jaar met ’n chroniese siekte, terwyl onfikse mense sowat 15-20 jaar daaraan kan ly.

Die regte leefstyl kan jou lewenskwaliteit beduidend verbeter. Jy sal miskien steeds diabetes of Alzheimersiekte kry, maar vir ’n korter tydperk en eers heelwat later in jou lewe.

Sien jouself oor ’n paar jaar van nou af: Hoe wil jy op jou oudag wees? Jy wil tog nie ’n las wees vir jou kinders of ander mense wat jou moet versorg nie.

Oumense is belangrik, want hulle het lewenswysheid en kan die volgende geslagte inspireer. Sorg dus dat jy ook eendag daardie plekkie kan volstaan deur jouself nóú op te pas. Jou oudag is ook ’n deel van die spesiale plan vir jou lewe hier op aarde.

So, as jy môreoggend jou oefenskoene aantrek, wat sal jou doelwit wees: Gesondheid en energie vir die res van jou lewe of ’n rietskraal lyfie net om die wêreld tevrede te stel?

Vertaal en verwerk uit Being Skinny is not a Christian Virtue van Jen Pollock Michel.