Eerlik met God

188
Jaco Strydom
Jaco Strydom

Nou die dag merk ek in ’n Christen-boekwinkel op hoe baie boeke daar oor gebed is. Is dit regtig so ingewikkeld om te bid?

Die punt wat Jesus met die Onse Vader wou maak, was juis om te wys hoe eenvoudig dit is om te bid.

Die Bybel is vol uiteenlopende gebede. Van die gebede is gedigte, klaag- en lofliedere, soebatgebede, gebede in verwondering, stil gebede, lank en kort …

Van die gebede in die Bybel is nogal kras. Dawid bid dat sy vyande se kinders se koppe teen die klippe stukkend geslaan sal word. Jeremia neem God kwalik vir sy eie geboorte en sê: “Here, U het my mislei!”

Ek dink nie God het hom rêrig mislei nie, maar dalk het Hy iets gesê soos: “Skryf Jeremia se kras woorde in die Heilige Boek. Dalk kan sy eerlike worsteling ander ook aanmoedig om eerlik te wees, eerder as om net altyd skynheilige mooi goedjies te sê.” Wie weet?

Ons almal hou van dagstukkies, maar, let’s face it, die Bybel is ook vol nagstukkies. Mense se diepste donkerste worsteling met God.

’n Ou kom sien my eenkeer, sê hy is besig om sy geloof te verloor en kan nie meer bid nie. “Dit voel of ek teen die plafon vas bid.”

“Dis dalk juis die probleem,” sê ek. “Dalk moet jy ophou bid asof God anderkant die plafon is. Jesus het ons kom wys dat die God van die hemele ook op die aarde is.”

Ek het die ou aangemoedig om ’n paar nagstukkies te lees, boeke soos Klaagliedere, Job en Prediker en ’n paar van die “donker” Psalms. Hy moes dan weer probeer bid, maar die keer sê wat hy regtig voel.

Terwyl hy besig was om vir God te vertel hoe hy sukkel om te bid, het hy met ’n skok besef dat hy nou makliker bid.

Vir die eerste keer het hy nie soos ’n ongelowige buitestander gevoel nie, maar soos een van die baie Bybelkarakters wat met God worstel. Hy was Job vol pyne en vrae, Jeremia in die put.

Dalk is daar nie iets soos ’n “regte gebed” nie. Net ’n opregte gebed. Uiteindelik bid ons nie omdat ons in gebed glo nie, maar omdat ons in God glo