Groei

398

“Vir ’n boom is daar nog hoop; al is dit
afgekap, kan dit weer uitloop, en sy lote sal aanhou groei.”
– Job 14:7

Ons leef in ’n wêreld waar van ons verwag word om die “perfekte vrou” te wees. Daagliks probeer ons net “oorleef”. Ons wil net ons veeleisende loopbane en bedrywige gesinslewe aan die gang hou. Om dus nog tyd vir jouself uit te koop is sekerlik een van die grootste uitdagings.

Ons wil so graag ons geliefdes se gevoelens, behoeftes en drome vervul. In die proses vergeet ’n mens van jou eie waarde. Wat gebeur dan in jou binneste? Eintlik leef jy dan nie meer nie; jy bestaan net voort!

Jy is dan soos ’n boom wat afgekap is. In hierdie toestand is jy van jou prag en vertoon gestroop. Dan bevind jy jou as vreemdeling in jou eie lewe. Jy voel onderdruk, oorlaai en ongelukkig. Die goeie nuus is: lote kan weer uitloop en baie vrugte lewer.

God het elkeen van ons gevorm met ’n uniekheid om tot die samelewing by te dra. Daarom is ons eerstens teenoor God verantwoordelik om te groei tot die beeld wat Hy van ons vra. Slegs só kan ons ’n verskil maak.

God is die Een wat nie oor jou lewe ophou droom nie. Sy begeerte is dat jy jou volle potensiaal ontdek en bereik. Jou gemaksone is dalk ’n lekker plek om in te wees, maar jy sal nooit daar groei nie.

Dit is tyd om in jouself te begin glo. Jy mag jouself vertrou dat jy bekwaam genoeg is. Jy mag méér as jou huidige prentjie wees. Net jy kan besluit hoe jou boom moet lyk. Dit gaan van jouself afhang hoeveel en hoe vinnig jy groei.

Hoe meer jy fokus op wie jy is, waarvan jy hou, en waarheen jy op pad is, hoe meer sal jy in elke faset van jou lewe groei.

—CW

 

WAT sê die Woord oor groei

HOE wil God dat die woord groei my lewe verander …

WAAR in die wêreld gaan ek dit wat ek ontdek het oor die woord groei (prakties) uitleef …

Vorige artikelHeilige gees gee vermoëns
Volgende artikelVertrou