My toekoms is ’n raaisel

300

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.
Psalm 23:4

Dikwels twyfel jy as tiener oor die loopbaan wat jy moet volg. Jy het nie die vaagste benul wat jy wil gaan studeer nie. Jy het geen idee watter beroep jy wil volg nie. Jy begin al die opsies in jou gedagtes teen mekaar opweeg en oorweeg – maar jy bly twyfel. Niks lyk en voel vir jou reg nie.

Jy voel angstig wanneer jy hoor hoe jou vriende gesels oor wat hulle wil word en jy begin koorsagtig na elke moontlike keuse kyk. Net om al meer verward te raak.

Gebruik hierdie kans om meer omtrent jouself en jou voorkeure en talente te wete te kom. Dis ook die kans om meer by ander mense oor hul beroepe uit te vind en interessante beroepe te leer ken.

Maak ’n afspraak met ’n beroepsvoorligter of die skoolsielkundige sodat hulle jou opsies vir jou kan uitspel. Probeer mense ontmoet in die rigtings wat hulle vir jou voorstel sodat jy meer kan weet oor hierdie beroepe.

Glo en vertrou dat Hy jou in die regte posisie sal plaas. Onthou ook, baie mense maak loopbaanskuiwe heelwat later in hul lewe. Dis heeltemal normaal om ’n paar verskillende soorte werk in een leeftyd in te pas!

Jannie le Roux
Vorige artikelOorsensitiwiteit of allergie?
Volgende artikelAs my vriende onwelkom is