Soos draadjies aan jou tande

487

… as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.
Jakobus 1:3

Maureen kyk na haarself in die spieël. Aaklig! Drade aan haar tande! Die ergste is dat sy dit drie jaar lank moet dra. En dan natuurlik ook haar ma wat aanhou sê hoe wonderlik sy eendag gaan lyk.

“Ek is min gepla met eendag,” brom Maureen. “Wat vir my belangrik is, is NOU. En nou wens ek ek kan drie jaar lank op Marion-eiland gaan pikkewyne tel.”

Om te glo werk partykeer soos draadjies aan tande. Jy haat dit terwyl jy dit moet dra. Jy steek jou glimlag agter ’n hand weg en vermy ’n kamera soos die pes. Maar wanneer die draadjies afgehaal word, is dit wonderlik. Jy kan nie glo dat jy skielik soveel ekstra selfvertroue het nie.

Jakobus sê: “Wees bly oor swaarkry.”

Bly oor swaarkry? Ja, want deur swaarkry word jy geslyp om al meer soos Jesus te word.

Miskien – of dalk eerder, waarskynlik – is jou swaarkry baie erger as draadjies aan jou tande. Dalk hou dit langer aan as wat jy kan hanteer. Neem dit na jou heel beste Vriend toe. Vra dat Hy jou sal help om in die geloof te volhard en te vertrou – al sien jy nou geen lig in die tonnel nie.

Vic en Thea Brink
Vorige artikelGod is goed
Volgende artikelSensitief vir die Vader se seine?