Eet dít om kanker te voorkom

0
21
kanker.jpg

Sekere kosse wat jy by jou plaaslike supermark koop, kan jou risiko om kanker te kry verminder. Bevat jou yskas hierdie bestanddele?

Eet rou broccoli drie maal per week

Alle koolsoorte beveg kanker, maar broccoli is die superster. Dit bevat ’n swaelverbinding wat jou liggaam se beskermende ensieme ’n hupstoot gee en ontslae raak van karsinogene (stowwe wat kanker veroorsaak). ’n Onlangse studie het ook getoon dat hierdie stof kankerstamselle, wat verantwoordelik is vir kwaadaardige gewasse, teiken.

Om die volle gesondheidsvoordele van dié groente te geniet, moet jy minstens een koppie drie keer per week inneem. Eet dit rou. Volgens ’n studie word 90% van die kankerwerende stowwe vernietig wanneer broccoli gaargemaak word.

Verhit die tamatie om likopeen te aktiveer

As jy jou kans om kanker te kry wil verminder, maak seker jy eet baie tamatieprodukte. Wetenskaplikes meen dit is die antioksidante soos likopeen, betakaroteen en vitamien C in tamaties wat dit so gesond maak.

Studies toon dat likopeen help om long- en maagkanker te voorkom. Dit word geaktiveer wanneer tamaties verhit word en kom voor in tamatiesous, pastasouse met ’n tamatiebasis en tamatiekelkies. Die beste bron van likopeen is egter songedroogde tamaties. Probeer om dit minstens drie maal per week by jou spyskaart in te werk.

Borrie vertraag die groei van kankerstamselle in mense

Kankernavorsers is tans baie opgewonde oor die moontlikhede wat borrie inhou om kanker te behandel. Borrie bevat kurkumien, ’n middel wat die groei van kankerselle kan onderdruk. In een studie het wetenskaplikes die middel by menslike selle gevoeg wat met beenmurgkanker besmet is. Dit het verhoed dat die kankerselle vermenigvuldig. Alhoewel daar nog nie studies op kankerpasiënte gedoen is nie, lyk die resultate belowend.

Gebruik dit in kerries of probeer om ’n daaglikse aanvulling te neem wat ten minste 800 mg kurkumien bevat. Probeer gerus Flora Force se Turmerynne, wat borrie en rooipeper bevat.

Eet ’n handvol okkerneute om kanker te voorkom

Verskeie studies in diere het getoon dat okkerneute moontlik die groei van borskankerselle kan vertraag of selfs verhoed. Die neute bevat plantsterole- en steroliene, wat die groei van borskanker kan stuit. Alhoewel daar nie meer volledige studies op mense is nie, stel die Amerikaanse Kankervereniging voor dat ons okkerneute by ons dieet insluit.

’n Handvol ’n dag (ongeveer 30 g) is voldoende. Gooi dit in ’n slaai of eet dit as ’n snoephappie. As jy gelukkig genoeg is om vars okkerneute goedkoop te bekom, kan jy hierdie wenk gerus op die proef stel. Hou egter ook in gedagte dat neute jou gewig kan laat aansit.

Verdra maar daardie knoffelasem; dit hou jou gesond!

Daar is bevind dat die fito-chemikalieë in knoffel kolonkanker kan teenwerk. Hierdie chemikalieë teiken die karsinogene wat deur nitrate, ’n algemene preserveermiddel, veroorsaak word. ’n Studie het bevind dat vroue wat gereeld knoffel eet, ’n 50% kleiner kans het om kolonkanker op te doen as vroue wat glad nie knoffel eet nie. Kap ’n knoffelhuisie fyn en gooi dit by jou tamatiepastasous vir ’n dubbele dosis kankerwerende maaltyd.

As jy nie opgewonde is oor knoffel se (minder welriekende) newe-effekte nie, is ’n daaglikse aanvulling in kapsulevorm ook voldoende. Kyk uit vir aanvullings wat minstens 200 mg allisien, knoffel se aktiewe bestanddeel, bevat.