Eet en drink só die ouderdom weg

0
17
leef_langer.jpg

Vroue word elke dag gebombardeer met teenveroudering. Daar is ’n kuur wat geen pille en rome behels nie …

Ons soek ’n kitsoplossing, daardie magiese bestanddeel wat ons vir ewig jonk, maer en gesond gaan hou – en maatskappye buit dit natuurlik uit. Voor jy egter jou kredietkaart uithaal vir die nuutste room of pil wat belowe om die horlosie terug te draai, kyk ’n slag na wat jy eet en drink.

Prof. Gary Wenk, ’n Amerikaanse kenner van sielkunde en breinwetenskap, meen dat kos die kragtigste middel is om langer jonk en gesond te bly.

“Ons moet anders oor kos begin dink. Benewens voeding moet ons dit ook as medisyne gebruik. Mense beskou medisyne as chemikalieë omdat dit ’n reeks chemiese verbindings is. Kos is presies dieselfde, dit bestaan uit verskillende elemente. Jou liggaam bestaan ook uit ’n reeks chemiese verbindings. Jy kan dus jou liggaam se funksies verander, verbeter of verswak met die tipe kos wat jy eet.” Terwyl sommige kosse jou jonger kan dokter, is ander weer gif wat jare by jou liggaam voeg.

“Die kos wat jy eet, bepaal hoe jy gaan verouder, en hoe oud jy gaan word,” verduidelik prof. Wenk, wat ook die skrywer van Your Brain on Food is.

Dink jonger: 5 koppies koffie ’n dag hou jou skerp

Koffiepense, let op! Jy mag dalk dink dat jou koffieverslawing nadelig vir jou gesondheid is. Die waarheid is egter dat jy besig is om jou brein teen agteruitgang te beskerm. Volgens prof. Wenk word die breinoordragstof asetielcholien in jou brein vrygestel wanneer jy koffie drink. Dit is die oordragstof wat jou wakker laat voel en beter laat konsentreer. Op kort termyn is jou brein skerper, maar op lang termyn is jou kans vyf keer kleiner om Parkinsonsiekte op te doen as dié van persone wat nie koffie drink nie. Dié siekte ontwikkel gewoonlik na die ouderdom van 50 jaar, wanneer die selle wat jou spiere beheer, ophou om dopamien te vervaardig. Behalwe dat dopamien jou buie beheer, is dit ook noodsaaklik vir spierfunksie. “Die effek wat koffie op die voorkoming van Parkinsonsiekte het, is net so kragtig soos dié van voorskrifmedisyne,” sê hy.
Let egter op die gehalte van jou koffie. ’n Sigorei-en-koffiemengsel met drie teelepels suiker gaan weinig vir jou gesondheid doen. Die beste is ’n espresso of Americano van suiwer gemaalde bone, sonder melk, suiker of versoeter.

Lyk jonger: Waak teen suiker, want dit gee plooie

Bestee jy honderde rande aan skoonheidsroompies, maar eet koek en lekkers asof dit uit die mode gaan? Jy is besig om jou geld in die water te gooi. Wetenskaplikes van die Universiteit van Leiden en die verbruikersreus Unilever het die bloedsuikervlakke van 600 mans en vroue tussen die ouderdomme van 50 en 70 getoets. Toe het hulle die foto’s van die respondente aan ’n onafhanklike paneel gewys en hulle gevra om die respondente se ouderdom te skat. Die paneel het die persone met die hoogste bloedsuiker as die oudste geskat. Trouens, vir elke 1 mmol/liter-toename in bloedsuiker het die geskatte ouderdom van die respondent met vyf maande gestyg.

Dr. Aamer Khan, ’n Britse dermatoloog, sê dit help nie net om jou vel van buite te voed nie. ’n Gesonde dieet dra ook by tot ’n jeugdige voorkoms. “As jy baie suiker eet, bind dit aan die proteïene in jou liggaam en stel skadelike molekules vry. Dit verminder die effektiwiteit van elastien en kollageen, wat jou vel sy jeugdige voorkoms gee.” ’n Dieet ryk aan gesonde vette, soos avokado, rou neute, sade en olyfolie, sal jou help om jou jeugdige voorkoms te behou.

Voel jonger: Matige oefening draai die horlosie terug

“As jy jonger wil voel, belê in ’n paar tekkies en gaan stap,” sê Sherri McMillan, skrywer van Fit over Forty. “Oefening is die oorspronklike elikser van jeug. Mense wat matige oefening doen, het baie meer energie en voel jonger as hulle ouderdomsgenote wat nie oefen nie. Die agteruitgang wat ons beleef wanneer ons verouder, kan grootliks toegeskryf word aan ’n onaktiewe leefstyl.”

Maak seker jy doen ’n kombinasie van weerstandsoefening (met gewigte) en aërobiese oefening, wat jou harttempo opjaag. Weerstandsoefening help om spiermassa te behou. Namate jy ouer word, verloor jy ongeveer ’n halwe kilogram spiere per dekade, maar kry een kilogram vet by! Na 26 weke van weerstandsoefening kan jy egter die horlosie terugdraai en jou spiermassa van tien jaar terug herwin. Moet ook nie bang wees vir hoë-impak-oefening nie.

Tensy jy knieprobleme het, is dié oefeninge goed om jou beendigtheid te behou en jou gewrigte gesond te hou. Ons sê nie jy moet die pad gaan afhardloop nie – deur net teen ’n vinnige pas te stap, sal jy al klaar jou gesondheid bevorder.

Kitskuur: Eet minder en leef langer

“Daar is al duisende studies gedoen oor hoe om veroudering te vertraag. Van eensellige organismes tot diere blyk daar een beduidende faktor te wees: Neem minder energie in,” sê prof. Wenk.

Die aantal kilojoules wat jy daagliks nodig het, hang van ’n paar faktore af: jou ouderdom, lengte, geslag en daaglikse aktiwiteitsvlak. (Daar is talle apps op die internet wat jou energiebehoeftes kan bereken. Besoek www.calorieking.com vir meer inligting.) Prof. Wenk beveel aan dat jy jou daaglikse energie-inname met 30% verminder as jy lank wil leef én goeie lewensgehalte op jou oudag wil geniet.

“Daar is verskeie studies wat bewys dat mense wat energiebeperkte diëte volg, langer leef. Hulle word later grys en hulle toon minder tekens van ouderdomsverwante inflammasie, soos artritis. Jy verklein jou kans om kanker op te doen met bykans die helfte. Mense wat hulle energie-inname beperk het, was 45% minder geneig om kwaadaardige gewasse op te doen,” sê hy.

Die voordele is egter nie net beperk tot die voorkoming van kanker nie. Jou organe funksioneer beter. Jou spiertonus gaan ook nie so gou agteruit nie. Prof. Wenk stel voor dat mense hulle grootste maaltyd tydens ontbyt eet. Onthou jy die uitdrukking: “Ontbyt soos ’n koning, middagete soos ’n prins en aandete soos ’n kerkmuis”? Daar lê tog waarheid daarin as jy gesond oud wil word.

Dr. Gary Wenk keer talle opvattings wat ons oor veroudering het, totaal en al om met sy TED Talks video. Kyk daarna hieronder: