Eet gesond terwyl jy koop

0
247
pasta.png

’n Paar uur in die winkelsentrum kan jou rasend honger maak, kies iets wat lekker én gesond is.

Pasop vir te veel vrugte in jou smoothie

Baie van ons het al ’n smoothie by die naaste Boost of Kuaui bestel so tussendeur die inkopies doen. Wees egter versigtig wat jy kies, aangesien sommige tot 6 teelepels suiker per 250 ml-glas kan bevat. En jy mag eintlik net 5 teelepels suiker per dag inneem, ook ter wille van jou gesondheid.

Wanneer ’n smoothie jou enigste opsie is, probeer om dit eenvoudig te hou. Te veel verskillende soorte vrugte kan die kilojoules laat oplaai. Kenners meen vrugtedrankies bevat so baie suiker omdat daar so ’n hoë konsentrasie vrugte in is. Een glas bessie-smoothie kan byvoorbeeld vier frambose, een aarbei, 31 swartbessies, vyf wit druiwe, een appel en ’n halwe piesang bevat. Kies een wat hoogstens twee verskillende soorte vrugte bevat, soos aarbei en piesang. Vra ook vir laevet- of sojamelk – dit help om die kilojoules laag te hou. Bly ook weg van ekstra bestanddele, soos grondboontjiebotter of sjokolade.

Kilojoules wat skuil in jou koffie

Daar is niks lekkerder as om in die koffiewinkel te gaan sit en jou arms ’n rukkie te laat rus van swaar inkopiesakke nie. Dink egter twee keer voordat jy daardie cappuccino of latte bestel: Sommige van dié warm drankies bevat dieselfde aantal kilojoules as ’n klein maaltyd. ’n 250 ml-koppie café latte van Mugg & Bean bevat byvoorbeeld sowat 800 kilojoules – dieselfde as vyf stukkies salm-soesji of ’n klein hoenderslaai.

Vir dié wat mal is oor warm sjokolade, is daar selfs nog slegter nuus. ’n Koppie daarvan by Wimpy bevat 1 075 kJ, en as jy ’n Flake byvoeg, styg dié syfer tot 2 137 kJ. Dit is gelyk aan twee snye Margarita-pizza! Probeer maar klaarkom sonder dié bederfie en kies eerder gewone koffie (271 kJ). Vra altyd vir vetvrye melk, en drink skuim in plaas van room.

Maak slim keuses met toebroodjies

’n Toebroodjie by ’n kitskosrestaurant is ’n slim keuse as jy jou eie bestanddele kan kies. Kitskosrestaurante soos Subway het ’n vaste spyskaart, maar jy kan ook jou eie broodjie maak uit die bestanddele wat beskikbaar is. ’n Gesonde keuse is ’n kombinasie van blaarslaai, tamaties, uie, groen soetrissie en swart olywe. Bestel dit op volgraanbrood en vra vir avokado en ’n klein bietjie olyfolie en asyn. Dié bestanddele bevat omega 3-vetsure en kan jou teen hartsiektes beskerm. Olyfolie kan ook jou bloeddruk verlaag en het anti-inflammatoriese eienskappe.

Vermy verwerkte vleis soos salami en pepperoni. Anders as vleis wat uit ’n dier se spier gesny is – soos hoenderborsies – is dié kosse gewoonlik hoër in kilojoules, vet en sout weens preserveermiddels wat bygevoeg word. Wimpy se sizzling sausage bevat byvoorbeeld net meer as 5 000 kJ.

Moenie bang wees vir pasta nie

As jy lus is vir ’n stewige maaltyd, probeer ’n Italiaanse restaurant. Pasta is ’n gesonde stysel en kan jou energie gee vir die res van die dag. Dit is ook die hoofkomponent in die Mediterreense dieet, wat deesdae beskou word as een van die beste eetplanne om ’n gesonde gewig te handhaaf.

Pasta het ’n lae glukemiese indeks, wat beteken dat glukose – ’n suiker wat jy uit koolhidrate kry – stadig in die bloedstroom opgeneem word. Dit hou dus die bloedsuikervlak stabiel.

Ongeag watter tipe pasta jy bestel, moet jy die souse versigtig kies. Souse met ’n tamatiebasis, soos napoletana en arrabiatta, is laer in vet as kaas- of roomsouse soos carbonara. Moet ook nie bang wees om die kelner te vra vir ’n halwe porsie nie. Om kilojoules verder te beperk, vra dat kaas apart bedien word in plaas van in jou pasta gemeng word.

Bronne: www.dailymail.co.uk; www.thetubbyolive.com; www.subway.co.za; www.news.health.com; www.weightlossresources.co.uk