Eet jou kos…

Saterdag oppad iewers heen stop ek en my man by ‘n robot. My man onderhandel ‘n beter prys met die man wat die avokado’s verkoop en so betaal ons R50 in plaas van R60 vir die hele sakkie. R10 afslag is R10 besparing.

Al die bietjies afslag hier en daar maak tog ‘n baie groot verskil op ons einde van die dag se begroting waar ons elke sent tel. My man merk op dat een avokado tussen die klomp nie lekker lyk nie, tussen ryp en vrot, groen en bruin. Terwyl hy dit nog onder die man se aandag bring, stop die man hom vierkantig in sy rede met die drie woorde:“EET JOU KOS!” Die robot slaan oor en ons moet ry. Ons lag uitbundig uit ons maag tot by die plek waarnatoe ons eintlik oppad was!

O God se sin vir humor! Wat ‘n kragtige woord openbaar Hy nie vir ons deur hierdie eenvoudige 3 woorde van hierdie eenvoud man daar by die robot nie.

Kos is lewensnoodsaaklik vir ons. Sonder kos kan nie een mens op aarde oorleef en lewe nie, want ‘n mens sterf sonder kos. Kos kan vir ons goed wees, ons liggaam bevoordeel, sleg wees vir ons en ons liggaam benadeel. Kos kan dus gesond of ongesond wees . Kos kan ryp wees, vrot word. Kos kan lekker wees, sleg wees. Kos kan kleurvol wees, vaal wees. Kos kan smaakvol wees, onsmaakvol wees. Kos kan soet wees, suur wees. Kos kan eentonig en vervelig of eksoties en opwindend wees.

So, is dit ook met ons en ons lewe. Ons kan nie net van brood alleen lewe nie.  Matteus 4:4: “Maar Jesus (Hyself) antwoord: “Daar staan geskrywe: ‘n mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”  (Belangrik neem kennis dat Jesus self hier die duiwel aanspreek/antwoord deur die Woord).

Ons moet God se Woordkos daagliks eet om ons siele te voed. Alleen dan kan ons groei, ontwikkel en verander sodat ons ook uiteindelik die 9 vrugte van God se gees in onsself en in ons lewe kan manifesteer deur ons handel en wandel  met almal in alles tot ons voordeel en God se eer om Hom te reflekteer wat binne in ons leef 24-7-365 na almal daarbuite.

Daagliks kies ons om by God Jesus Heilige Gees Woordrestaurant in te stap en ‘n 3 gang  gees maal te geniet OF ons kies om so besig te wees dat ons die Here in ons dinge mis en in die vinnige verbygaan van die lewe geniet ons sommer so padlangs gou-gou die duiwel se wegneemete spyskaart wat hy vir ons opdis deur die vlees en nie God se gees nie.

Kyk gerus na die onderstaande wat jy kan gaan oplees in Galasiёrs 5:16-26 rondom vlees en gees spyskaarte:

  1. GOD JESUS HEILIGE GEES RESTAURANT AANSIT ETE SPYSKAART.

WOORD VAN GOD = GEES.

1.1 Liefde.
1.2 Vreugde.
1.3 Vrede.
1.4 Geduld.
1.5 Vriendelikheid.
1.6 Goedhartigheid.
1.7 Getrouheid.
1.8 Nederigheid.
1.9 Selfbeheersing.

  1. DIE DUIWEL SE WEGNEEM ETE SPYSKAART SO PADLANGS.

WOORD VAN DIE DUIWEL  = VLEES.

Eie aan die duiwel se styl bied hy jou die keuse van verskeidenheid wat skrik vir niks soos jy kan sien in hierdie onderstaande rits disse in volkleur en geur o so opwindend!

2.1 Onsedelikheid.
2.2 Onreinheid.
2.3 Losbandigheid.
2.4 Afgodsdiens.
2.5 Towery.
2.6 Vyandskap.
2.7 Haat.
2.8 Naywer.
2.9 Woede
2.10 Rusies.
2.11 Verdeeldheid.
2.12 Skeuring.
2.13 Afguns.
2.14 Dronkenskap.
2.15 Uitspattigheid.
2.16 Alle dergelike dinge.

Mense kies bestel en vergryp hulle aan hierdie disse vanuit die duiwel se vlees spyskaart. Hulle bestel selfs meer as een porsie! Dis asof hulle nie genoeg van al hierdie disse kan kry nie! Mense ooreet hulle selfs aan hierdie disse!

Skielik oorval naarheid hulle. Die nasmaak van hierdie disse waaraan hulle so gesmul het word allesbehalwe kleurvol om van die geur nie eens te praat nie, inteendeel dit stink vrot! Dan kom die kopseer ook nog daarmee saam, want die liggaam rebelleer! Lekker is beslis nie meer lekker nie maar die rekening moet betaal word en die duiwel glimlag van oor tot oor want terwyl mense hulleself vergryp het aan al hierdie disse het hy hul siele verslind en  tergerlykertyd ook hulle liggame beskadig lag-lag in ‘n oogwink het hy hulle verblind! Só op hierdie punt ontdek baie mense dan die hardste les van hulle lewe rondom die duiwel:  een oomblik se genot kan jou ‘n leeftyd se pyn bring. Sy wegneemetes, jou padlangs kom met ‘n duur prys etiket.

Vra jouself af of jy ‘n ryp gees avokado OF ‘n vrot vlees avokado mens is en waag dit om jouself en God Jesus en Heilige Gees rou eerlik te antwoord . Jy is nie ‘n avokado wat almal kan gelukkig maak nie, tereg soos Allesbeste padstal naby Tzaneen ons herinner, daarom maak jy God gelukkig en jy sal self gelukkig wees. Jy en jou lewe sal ten goede verander. Die res sal volg en volgelinge word deur die Gees of agtergeblewenes bly by die duiwel deur die vlees.

PS: Wegneemetes is nie goed vir jou nie,  vermy die nonsenskos kortpad roete! Vleeskos maak dood. Geeskos gee lewe.  EET JOU KOS uit God se Woord.

Vorige artikel(Mens-)boeke en baadjies
Volgende artikel[VIDEO] Hoe hanteer mens sarkastiese of kritiese opmerkings?
Blogger - Tania Delport
Tania Delport is terselfdertyd onkonvensioneel, passievol, vreesloos, kreatief, teen die grond neergegooi maar nie vernietig nie, vol blydskap en humor, Woord deurdrenk en geesvervuld, ‘n onvergeetlike persoonlikheid. Tania Delport se skryftalent is ‘n passie en natuurlike gawe van God maar ook stil-stil geïnspireer deur die welbekende skrywer Hennie Aucamp wat 20 Maart 2014 oorlede is. Sy het in die Stormberg hoogland in die Oos-Kaap grootgeword op die buurplaas vanwaar hy grootgeword het. Haar oom aan haar pa se kant was getroud met die suster van Hennie Aucamp, dus was hy deel van haar familie binnekring. Tania Delport is in haar finale seisoen van liefde en lewe. Haar prioriteit is haar man Pieter. Sy is toegewyd en gaan haar gawes met veral vroue deel. Tania Delport se G-I-L in die nag het L-I-G in die dag geword want God is Liefde. Haar lewe het vlerke gekry. Dis tyd vir joune! Besoek gerus haar web tuiste https://eet8eet.co.za