Eet soos die gesondheidsghoeroes

0
722
gesonde_kos.png

Vrugte en groente is boaan die lys gesonde kosse, maar dis nie die enigste kos wat jou gesond hou nie. Ons het by die ghoeroes gaan vasstel wat die top agt kosse is waarvoor jy nie nee moet sê nie.

Wat eet voedingkundiges elke dag? En hoekom? Die regte kosse kan jou gesondheid verbeter.

Garsgrassap is ryk aan voedingstowwe

Navorsing het getoon dat jou gesondheid verbeter as jy daagliks groen groentes en sappe inneem. Aim’s Barley Life is myns insiens die beste garsgrassap op die mark. Dit is ryk aan kalsium en fosfaat vir sterk bene en tande. Dit bevat ook vitamien E, wat goed is vir jou hormoonstelsel. Mary-Ann Shearer is die skrywer van die topverkoperreeks, The Natural Way.

Kaneel keer die lus vir suiker

Talle studies het bewys dat kaneel jou suikervlak bestendig hou. Gebruik ’n halwe tot ’n vol teelepel per dag. Ek sprinkel dit oor my hawermoutpap of gebruik dit in pampoensop. Ceylon-kaneel is die beste – die een wat soos ’n opgerolde sigaret lyk voor dit fyngemaak word. Patrick Holford, voedingkundige en skrywer.

Sade vir hormonale balans en ’n goeie bui

Vlassaad bevat plant-estrogeen, wat die vroulike hormoon estrogeen in jou liggaam naboots. Dus help dit om jou hormone te reguleer. Hormonale balans dra by tot ’n beter bui. Dis ook ’n wonderlike manier om PMS te behandel. Megan Bailey, voedingskundige.

Peulgewasse beskerm jou teen te veel estrogeen

Peulgewasse sluit in bone, ertjies en lensies. Dis ’n ryk bron van plant-estrogeen. Dit blokkeer die estrogeenreseptore as jy te veel van dié hormoon in jou liggaam het. ’n Oormaat estrogeen kan afkomstig wees van plastiek wat in die mikrogolfoond verhit word. Dr. Arien van der Merwe, direkteur van die Health and Wellness Centre.

Kalsium is ’n moet vir vroue

Vroue moet van jongs af kalsium inneem vir sterk bene. Jy het tussen 1 200 mg en 1 500 mg kalsium per dag nodig. Gebruik aanvullings en eet kosse wat ryk is daaraan, soos jogurt. Frederic Vagnini is ’n kliniese voedingspesialis.

Eet meer vis om depressie te oorkom

Eet meer vis wat ryk is aan omega 3 vetsure soos salm, sardientjies en tuna. ’n Navorsingstudie het bevind dat mense wat twee keer ’n week vis eet, minder geneig is tot depressie en selfmoord.
Elizabeth Somer, skrywer van Food & Mood

Amandels maak jou vrugbaarder en verhoog jou libido

Amandels is ryk aan die minerale sink en selenium, asook vitamien E, wat belangrik is vir seksuele gesondheid en voortplanting. Sink verhoog jou libido. Amandels is ook ’n ryk bron van energie en kan help om moegheid te beveg.
Jennifer Berman, voedingkundige.

’n Appel is jou superkos vir die dag

Dit maak nie regtig saak watter vrugte en groente jy eet nie, solank jy dit eet! ’n Appel is net so goed vir jou soos bessies of granate. Koop vrugte wat vir jou lekker smaak. Dit sal jou aanspoor om dit te eet.
Dave Grotto, dieetkundige en skrywer.

Maak gerus ’n plan om bogenoemde kosse gereeld by jou dieet in te sluit. Jy sal gesonder voel en meer woema hê vir elke dag.