Eetgewoontes en jou emosies

0
155
kinders_se_eetgewoontes.jpg

Eetversteurings is meermale emosionele probleme wat veroorsaak dat kinders swak verhoudings ontwikkel en daarmee saam ’n swak selfbeeld gekoppel aan baie emosionele bagasie …

Eetversteurings is meermale emosionele probleme wat veroorsaak dat kinders swak verhoudings ontwikkel en daarmee saam ’n swak selfbeeld gekoppel aan baie emosionele bagasie …

’n Baie bekommerde ma vertel dat haar tienerdogter heelwat gewig verloor het en dat sy bekommerd begin raak het want hoe maer is te maer?

“Die grootste oorsaak van eetversteurings lê in ’n lae selfbeeld en swak menseverhoudings – gewoonlik met die ouer,” sê Prof. Esmé van Rensburg, kindersielkundedosent aan die Noordwes Universiteit. “Maerheid word ’n poging om aanvaarbaar te wees, maar dit gaan ongelukkig gewoonlik oor in ’n obsessie. Jy as ouer moenie jou laat mislei deur jou kind se voorkoms nie – baiekeer het ’n kind ’n normale liggaamsgewig, maar sy kan steeds ’n eetversteuring hê. Hoe jou kind lyk, is dus nie die belangrikste teken van te maer nie, maar hoe gesond of normaal jou kind se eetgewoontes is.”

Rooi ligte

•  Wees versigtig wanneer jou kind ’n obsessie met kos en dieet het, al is sy nie te maer nie.
•  Dis gevaarlik as eet ’n magstryd tussen jou en jou kind is.
•  Moenie toelaat dat jou kind kos en eet geheim hou nie.
•  Gee aandag as jou kind kos, gewig en dieet gebruik om emosionele pyn en aggressie te onderdruk of as ’n poging van beheer teenoor jou of haarself.

Wat jy kan doen

•  Kweek van kleins af gesonde eetgewoontes: moenie jou kind met kos beloon of straf nie. Jy leer haar die verkeerde simboliese waarde van kos.
•  Moet haar nie dwing om al haar kos op te eet nie. Leer haar om te eet wat voorgesit word vir middagete of anders te wag tot aandete.
•  Bou vir haar ’n gesonde liggaams- en selfbeeld. Prys jou kind vir haar menswees en sorg dat sy emosioneel toegerus is vir die lewe.
•  Wees ingestel op jou kind. Weet wat in haar lewe aangaan, wie haar maats is, waarvan sy hou, wat haar hartseer maak, wat haar ambisies is. Dikwels is eetversteurings ’n roep om hulp.
•  Spandeer tyd saam. Wys gereeld vir jou kind dat jy haar waardeer en dat sy ’n besondere mens is. Wat sou jou dogter antwoord as mense haar sou vra wat haar ma van haar dink?

Truuks om hulle gesond te laat eet!

•  Jy het laat gewerk en het nie krag om die kinders te dwing om hul groente te eet nie. Hier is vier slim maniere om die groente-bakleiery stop te sit:
•  Eet self die groente soos ’n drama queen. Maak geluide, rol jou oë, en hou aan sê hoe sleg die groente is.
•  Laat hulle help met die voorbereiding. Maak asof dit báie pret is om die pampoen te skil, die sampioene af te vee of die blomkool te was.
•  Wees kreatief en kleur die groente met voedselkleursel. Kinders is mal oor nuwe, interessante en weird dinge. Rooi kleursel werk gewoonlik baie goed. 
•  As geen van die bogenoemde gewerk het nie, maak asof brokkoli net groen blomkool is.

Ma’s wat omgee

“Ek is ’n jong mamma van twee pragtige seuntjies, Stephanus (3) en Daniël (8 maande). As babatjie het Stephanus erge ekseem gehad en het ek een van twee keuses gehad: talle doktersafsprake wat my platsak gaan laat, of ’n verandering aan ons leefstyl en eetgewoontes. Ek het daar en dan besluit om my kinders op ’n natuurlike dieet sonder suiwel en suiker groot te maak.

My gesin eet baie vars vrugte. Ek besoek feitlik nooit ’n dokter nie, en bewys my kinders ’n groot guns deur ’n gesonde immuunstelsel vir die res van hul lewens te waarborg! Ek glo in my hart dat God groot vreugde daaruit put as ons ons kinders se gesondheid ’n prioriteit maak. ” – Chané de Kock, Kaapstad.

Gelukkige, geborge kinders …

•  kry liefde – Liefde mag dalk ’n vae term wees, maar dis ’n báie belangrike woord.
•  word konsekwent behandel – Kinders moet présies weet waar hulle staan. En dat die reëls wat vandag geld, ook môre gaan geld.
•  ervaar min konflik – Een van die grootste geskenke wat ons vir ons kinders kan gee, is om gaaf teenoor ons lewensmaats te wees.
•   ontvang ’n goeie voorbeeld – Kinders se gedrag is nie beter as die voorbeeld wat daar vir hulle gestel word nie.
•  het selfvertroue – Ouers wat selfversekerd en positief is, maak hul kinders ook so groot.
•  het pret – Kinders moet voel dat dit vir hul ouers lekker is om kinders te hê.

As jy jou kind liefhet, wys dit op baie maniere en laat jou kind geborge, aanvaar en geliefd voel.

 

DEEL
Vorige artikelGroeipyne e-boek
Volgende artikelKry 24/7 energie!
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.