EINA!

“Dit is nie die val wat saak maak nie, maar hoe jy opstaan” en “Winners don’t quit and quitters don’t win” is maar enkele van die uitdrukkings wat ons gereeld hoor om ons aan te moedig om te volhard as dinge redelik skeefgeloop het.

En dinge kan inderdaad skeefloop – soms deur ons eie toedoen en soms weens omstandighede buite ons beheer.

Soos die keer toe Petrus vir Jesus verraai het en hy wat Petrus is oortuig was sy roeping is by die toilet af. Na Jesus se opstanding het Hy egter vir Petrus gaan optel daar waar hy mismoedig gesit en visvang het sodat Petrus nie net met sy roeping kon voortgaan nie, maar sterker kon groei daarin.

Of soos tydens verlede week se 7km trail run wat ons in die skemerte van ‘n laat Woensdag middag deur die veld gehardloop het. Ek kon hoor hoe die meisie, wat sowat 10 treë agter my gehardloop het, teen ‘n skuinste in die voetpaadjie op die los klippies gly en val. Ek stop, draai om en vra of sy oraait is. Sy mompel onderlangs dat sy volgende keer mooier moet kyk, spring toe orent en is weer volspoed oppad. Sowat 200 meter verder herhaal die gebeurtenis en sowat 300 meter daarna weer.

Kort voor die einde van die wedloop haal sy my in. Ek prys haar moedige vertoning terwyl sy verbykom en gee ‘n uitgestrekte hand vir ‘n high five. Sy wys my gebaar egter van die hand met verwysing na die bloederige skraapwonde op haar hande wat sy tydens die drie keer se val opgedoen het.

Die opstaan na ‘n val in ons lewens is dikwels die makliker deel. Behalwe ons natuurlike besef van die belangrikheid om weer op ste staan, is daar altyd familie, vriende en kollegas wat omgee en wil sien dat ons weer op die wenpad kom. Daarna moet ons hoofsaaklik self die wedloop se hardloopwerk doen, seerplekke en al. Niemand weet hoe diep jou wonde is en hoe seer die seer is nie. Jy kan dalk die seer verduidelik en iemand kan met ‘n pleister en salf help, maar hoe sterk jy die wedloop verder gaan hardloop, ongeag die seer, is in jou hande.

Die geheim vir genesing lê natuurlik daarin om genoeg tyd saam met die Geneser deur te bring en Hom toe te laat om die genesing te behartig. Dit sal dus verg dat ek tyd maak om in Sy teenwoordigheid te spandeer en Hom toe te laat om te genees en verandering te weeg te bring sodat ek sterker met my wedloop kan voortgaan.

En mettertyd is die fokus nie meer op die seer nie, maar verskuif na die seer van iemand wat naby jou geval het. Jy kan jou hande na hom/haar uitstrek, hom/haar ophelp en weer op die wenpad plaas. Dan langs hom/haar hardloop, aanmoedig en sien hoedat hy/sy die wedloop sterker en beter aanpak.