Ek beheer my porsies

0
72
Erica Wessels

Erica Wessels, wat in die film My Father’s War te sien is, sê sy het gesond leer eet deur bewus te word van wat en hoeveel haar liggaam regtig nodig het.

Erica Wessels, wat in die film My Father’s War te sien is, sê sy het gesond leer eet deur bewus te word van wat en hoeveel haar liggaam regtig nodig het.

Nie ongemaklik vol nie

In my vroeë twintigs het ek gewigsprobleme gehad. Ek was obsessief oor vet of maer wees; oor kilojoules en hoeveel ek eet. Omdat ek onbewustelik geleef het, het ek te veel geëet en was ek altyd oorgewig. Ongeveer 14 jaar gelede het my fokus verskuif van gewig na gesondheid, en nou handhaaf ek ’n gesonde gewig.

Hoe ek na ’n ete voel, het my leer eet. Ek eet heerlik en net genoeg sodat ek daardie salige “dit was nou lekker”-gevoel kry, maar nie ongemaklik vol voel nie. As jy besluit om jou kos regtig te próé en nie net te verorber nie, raak jy ’n bewustelike (mindful) eter, nie ’n ooreter nie. Dis belangrik om te leer luister na wat jou liggaam nodig het, en te onderskei tussen wanneer jy werklik honger is en wanneer jy net lus is.

Selfbeheer met porsies

Noudat ek ouer is, moet ek selfbeheer toepas wat porsiegrootte betref. Maar porsiebeheer is nie ’n gebod nie. Daar is vir my nie reëls betrokke nie en ek pas dit nie altyd toe nie. Maar dit is die doel van bewustheid (mindfulness): ’n Mens raak bewus van wat jy eet sonder om reëls te volg. Jy ontwikkel gewoontes wat naderhand jou gedrag word. Vandat ek so begin leef het, het ek ’n totale ommeswaai in my gewig en gesondheid gesien.

Die regte porsiegrootte wissel na gelang van die hoeveelheid oefening ek kry en hoe hard ek werk – hoe meer energie ek verbrand, hoe groter is my eetlus. Vir ontbyt kan ek proteïene en koolhidrate kombineer, want dan het ek die energie nodig. Dit wissel van vrugte, volroom Bulgaarse jogurt en neute tot omelette of hawermoutpap.

Ek eet waarvan ek hou

Ná ontbyt probeer ek om nie proteïene en koolhidrate te meng nie, maar ek skakel niks uit nie, want ek eet werklik waarvan ek hou. As ek lus is vir ’n burger, eet ek een, maar sonder die rolletjie en met slaai, nie met skyfies nie. Vir middagete of aandete bestaan my bord kos tipies uit sowat 80% groente en 20% proteïene of koolhidrate. Vir middagete eet ek dikwels net ’n bord vol groente, soos slaai of gestoomde meestal groen groente met olyfolie, sojasous, sout en peper. As jou kos geurig en vars is, is elke happie heerlik.

Ek vermy suiker, alhoewel ek nie ’n algehele verbod daarteen het nie. Verder eet ek baie min brood en pasta, want ek verdra gluten sleg. My gunstelinglekkernye is kaas, goeie wyn en roomys! Matigheid is die sleutel.