Ek bid, maar niks verander nie

0
75
bid

“Dit voel partykeer asof die lewe besig is om my fyn te maal. Alles word net te veel! Dan bid ek maar weer, en tog bly my omstandighede dieselfde. Hoekom help God dan nie?”

“Dit voel partykeer asof die lewe besig is om my fyn te maal. Alles word net te veel! Dan bid ek maar weer, en tog bly my omstandighede dieselfde. Hoekom help God dan nie?”

Jy ken die dae wanneer dit voel asof jy in ’n enorme stamper beland het. En iemand is besig om jou met ’n vysel by te kom, tot jy later net ’n hopie poeier is!

En dan, as jy die dag op jou blouste voel, kom Manlief ook nog by die huis met slegte nuus. Hy moet ander werk soek, want die maatskappy het gerasionaliseer. Jy wil skree, huil en lag tegelyk.

Dan begin jy bid. Smeek. Soebat. Pleit. Maar verniet; julle situasie verander nie.

Julle sny die riempies dun en draai die sente om. Jy krap kop om interessante etes te kook – elke keer met maalvleis. Kosblikke is ’n uitdaging, want die kinders kla hulle is nou al moeg vir konfytbroodjies.

Daar is altyd ’n goeie rede waarom jou gebede nie beantwoord word nie. Kyk watter een van die volgende moontlik op jou situasie van toepassing is.

Jy glo nie regtig dat Hy jou sal help nie

Jy bid, maar diep binne-in jou hart glo jy nie dit sal help nie. God wil sien dat jy regtig geloof het en dat jy vertrou dat Hy iets omtrent jou situasie kan doen. Hy dring Hom nooit aan iemand op nie; daarom wag Hy geduldig vir jou.

Gelukkig is die geloof van ’n piepklein mosterdsaadjie al wat jy nodig het. Dit gaan nie oor hoeveel geloof jy het nie, maar in Wie jy glo.

Geloof is amper soos ’n spier wat jy oefen, wat naderhand al sterker en sterker word. Hartseer en moeilike omstandighede dwing jou om na Hom toe te draai. Elke keer wat jy sien hoe Hy jou help, groei jou geloof nog ’n bietjie.

Voor jy jou kom kry, is daar ’n lang lys beantwoorde gebede waarop jy kan terugkyk. Dit maak dit makliker om te bly glo, selfs al kry jy nie hierdie slag die oplossing waarvoor jy vra nie.

Dit is nie nou die beste vir jou nie

Jy wil dalk tot elke prys uit die situasie kom. Jy gee nie om wat op die lange duur die beste sal wees nie; jy wil ’n uitkoms hê en jy wil dit nóú hê.

Dis soos om draadjies aan jou tande te hê. Elke keer stel die tandarts dit stywer en dis dae lank seer. As jy nou dadelik van die pyn ontslae wil raak, kan jy dit laat afhaal, maar dan gaan jou tande nog steeds skeef wees – vir die res van jou lewe!

Dink aan die lang termyn en wees geduldig. Jy moet op jou tyd deur hierdie moeilike ding werk.

Daar is ’n les wat jy eers moet leer

As jou man sy werk verloor, leer julle op ’n praktiese en spesifieke manier dat julle elke dag kry wat julle nodig het. Met ’n koliekbaba leer jy geduld en onselfsugtigheid. Het jy moeilike kollegas? Dan leer jy om met sagter oë na ander mense te kyk.

Begin vandag om in plaas van “Hoekom?” eerder te vra: “Wat?” Kyk of jy nie kan agterkom wat jy uit elke moeilike situasie kan haal nie. God sal jou nie “red” voor jy nie eers geleer het wat Hy graag wil hê jy moet leer nie.

Dis dalk moeilik om dit nou so in te sien, maar daar word regtig mooi dinge vir jou lewe beplan.

Jou geloof word sterker om ander te help

Jy word soms deur moeilike omstandighede geneem sodat jy ander kan troos wat deur dieselfde krisis gaan.

Party vroue wat mishandel is of wie se kind ’n stryd met dwelms het, begin ’n ondersteuningsgroep. Ander lewer motiveringspraatjies. Dis gelukkig nie nodig om iets drasties te doen nie. As jy net iemand bel en sê: “Ek weet waardeur jy gaan”, het jy klaar gehelp.

Omdat jy self ervaar het hoe jy in jou moeilike tye gedra is, kan jy weer ander troos en moed inpraat.

Wanneer die mat onder jou voete uitgeruk word en jy voel jy het net vir God oor, is jy presies waar jy moet wees! Dan sal jy ná die tyd weet dit was eintlik goed, want jou geloof is sterker.

Daar is baie redes hoekom God kies om nie jou omstandighede te verander nie. Bly maar net glo dat Hy regverdig en almagtig is. En weet wat die beste vir jou is.

Vertaal en verwerk uit Why God Might Not Rescue You deur Lori Hatcher.