Ek eet soos ’n Franse vrou

0
133
Elma Postma

Die aktrise Elma Postma is gedissiplineerd oor gesond eet en leef, want sy wil net nóóit weer op ’n dieet gaan nie.

Die aktrise Elma Postma is gedissiplineerd oor gesond eet en leef, want sy wil net nóóit weer op ’n dieet gaan nie.

Die laaste 5 kg af!

Vir my troue wou ek mooi lyk in my trourok en ontslae raak van daardie lastige 5 kg wat altyd terugkruip soos ’n dief in die nag. Met my reise vir Mooiloop en Plaaskombuis het ek weke lank uit restaurante geleef. Dit was moeilik om te beheer wat jy eet. Ek was afhanklik van ander mense se kos en goedheid – en het 5 kg swaarder teruggekeer huis toe.

’n Paar maande voor my troue het ek die Slender Wonder-eetprogram begin volg. Ek het dit al voorheen gedoen en weet hoe goed ek voel as ek my teikengewig bereik. ’n Dokter help jou om jou gewig te stabiliseer op ’n punt waarby jy vir die res van jou lewe onder normale omstandighede kan hou.

Aan die begin word die porsies baie streng beheer. Dit laat jou besef jy het nie so baie kos nodig soos wat jy dink om versadig te voel nie.

Matig soos die Franse

Die uitdaging is om jou leefstyl só te verander dat jy gemaklik en op ’n gesonde manier by jou teikengewig kan hou. Soos duisende ander vroue is ek só moeg daarvoor om alewig ’n maermaakdieet te moet volg! Ek sê moeilik nee vir pizza of ’n stuk sjokoladekoek met kondensmelk.

Die doel is om my kop reg te kry – om net weer op te staan as ek geval het. Ek eet lekkernye, maar as ek besluit om dit vir eers te vermy en ’n bietjie vas te byt, kry ek dit goed reg om nee te sê.

Dis vir my belangrik hoe my lyf voel. Ek voel beter en gemakliker as ek gesond eet: baie slaai, hoender en ligter kosse. Die boek French women don’t get fat het my geleer hulle geheim is om nie jouself te straf nie en wel van alles te eet, maar hulle doen dit in matigheid.

My gene sê: Oefen.

Nadat ek onlangs die Geneway DNS-toets laat doen het om my genetiese gesondheid te ontleed, weet ek ek moet vette vermy, meer vesel eet en daagliks een uur oefen.

Gesondheid is die groot rede hoekom ek oefen. Ek geniet interessante oefeninge wat ook my brein uitdaag, soos die Tacfit-klasse by Dragon Fitness in Pretoria. Dit oefen jou hele lyf en berei só jou liggaam voor om doeltreffend op ’n krisis te reageer. Die klem is veral daarop om jou asemhaling en hartklop te beheer. Dit gee jou ook stamina, spoed en koördinasie.

Oefening hou my sterk, gee my ’n goeie postuur en hou my soepel. Na die tyd voel ek altyd uitstekend. Oefening gee my ook ’n blaaskans van my probleme – ek fokus net op die harde oefening, sweet en deurdruk. Die afgelope tyd mediteer ek ook elke dag vir tien minute – die stil word en diep asemhaling help my om perspektief te kry en maak my rustig.