“Ek help my sterwende kind hemel toe gaan”

0
189
hennie_van_rooyen.jpg

Vir Hennie van Rooyen was sy seun, Eugene (23), sy beste vriend en vertroueling. Totdat sy lewe, ná ’n inbraak, skielik aan ’n dun draadjie gehang het.

Hier staan ek, magteloos by my seun in die hospitaal. Die dokter het gesê ons moet kom groet. Wat doen mens as jou seun leweloos en kritiek in ’n diep koma voor jou lê?

Daar’s één ding wat ’n verskil kan maak, besef ek. Ek kan bid en vra vir ’n wonderwerk. Hardop en skaamteloos smeek ek my gebed in ’n saal vol mense: “Here, ek het nie afskeid kom neem nie, ek het kom vra vir lewe. U is almagtig, laat daar nóú ’n wonderwerk gebeur. Asseblief! Moet asseblief nie dat Eugene nou sterf nie. Ek het hom nodig.”

Dit het alles so skielik gebeur. Soos net slegte nuus kan. Dit was paasnaweek en ek, my vrou Christelle, en ons huiswerker is voor sonop Amanzimtoti toe vir ’n wegbreek. Terwyl ek bestuur dink ek terug aan gisteraand. Eugene het vir ons ’n videokamera kom aflaai, want hy kon nie wag om ons huiswerker se reaksie te sien wanneer sy vir die eeste keer die see sien nie. Ek het later hom gegroet met die woorde: “Ek is lief vir jou”.

In die oggendure die volgende dag, kry ek die oproep wat my lewe tot in sy diepste wese skud. “As jy jou seun nog lewendig wil sien, moet jy dadelik terugkom,” sê die stem aan die anderkant. “Hy’s geskiet en hy’s besig om te sterf.”

Die nuus laat my duiselig voel. Of iemand ’n vuishou tussen my oë geplant het.

Paniekbevange. Dit kan nie waar wees nie. Ek pleit na Bo: “Hoe is dit móóntlik? My enigste seun! U weet hoe lief ek hom het”. Talle hoekom-vrae maal deur my kop. “As ek maar net daar was kon ek dit verhoed het! Hoekom het ek besluit om nóú weg te gaan?” En dan die één gebed op my lippe: “Help my seun. Spaar sy lewe. Ek smeek U!”

Die vlug terug Johannesburg toe is in ’n dwaal verby. Die duisende onbeantwoorde vrae, die verlammende angs vir wat moontlik voorlê, oorheers alle denke en verblind alle sintuie. By die hospitaal deel die polisie ons vlugtig mee dat Eugene en sy vriend, Krappies, die oggend om ongeveer 02:00 teruggekeer het van ’n kuier by vriendinne.

[pagebreak] Nadat hulle die ligte van hulle huis in ’n veiligheidskompleks afgeskakel het, het gewapende rowers die huis binnegekom. Krappies is in die gang, buite sy kamer, drie keer in die bors geskiet en het net daar gesterf. Eugene het in die volgende kamer wakker geword en sy deur gesluit. Die rowers het die deur afgebreek en hom in die skouer geskiet. Hy’t geslaag om na die badkamer te vlug, maar hulle het weereens deur oopgebreek en hom in die kop geskiet. Die inbrekers het met net ’n paar T-hemde en selfone op vlug geslaan.

Om dít te hoor, en my seun só te sien, maak intens seer. Waar ek hier in die hospitaal se ontvangslokaal sit, ervaar ek’n onbeskryflike en rou fisiese seer in my hart. Dis asof een van my ledemate verwyder is.

Ek skryf my gebed op papier neer: “Ek is rou en stukkend. Méér gebroke, méér ontbloot kan ek nie. My hart is deurboor, my smart is groot. Die kind wat U my gegee het lê hierbinne, stukkend, hygend na asem, smagtend na die lewe wat u hom gegee het. O Gewer van alles wat goed en mooi is, U gee ook die lewe. Doen dit asb, ook nou. Blaas asb lewe in my seun se stukkende liggaam.

Op die aand van die vyfde dag ry ek van die hospitaal af terug huistoe. Tussendeur my trane, en met ’n beangste hart, wil ek weet: “Hoekom maak U hom nie gesond nie?”

Twaalfuur daardie nag klim ek in die bed, maar spring oomblikke later weer uit. “Wat nou?” wil my vrou weet. “Ek moet dadelik teruggaan hospitaal toe,” is al wat ek kan uitkry. “Daar’s iets wat ek moet gaan doen.” Ek het geweet Eugene is ’n party animal, en daardie aand het die Heilige Gees die vrae in my hart kom vra: ‘Hoe lyk sy lewe? Is hy gered?’ Dit het my laat besef ek kán my seun nie so los nie.

Die intensiewe eenheid is donker, koud en stil. Bokant Eugene se kop skyn ’n klein bedliggie. “My seun, ek weet jy hoor pappa se stem,” sê ek sag. “Hierdie is die belangrikste gesprek wat ek en jy nog ooit sal hê. Ek gaan vir jou bid. Dit is uiters belangrik dat jy, ondanks jou toestand, fisies sal reageer. Dat jy sal saamstem dat jy eens is met my in gebed”.

[pagebreak] Met my kop op sy bors het ek die volgende namens Eugene gebid: “Hier is ek. My liggaam is stukkend en my lewe is sondig. Ek gee myself nou aan U oor. Vergewe my sonde en maak my lewe splinternuut. Soos die misdadiger aan die kruis, wees my nou ook genadig en maak my volledig u kind. Dankie Jesus – ek ís nou U kind. Amen.”

Ek het opgekyk na Eugene se gesig en sal nooit, ooit vergeet wat toe gebeur het nie. Hy het in vyf dae vir die eerste keer ’n teken van lewe getoon. Sy regteroog het vir ’n paar sekondes oopgegaan…en twee trane het oor sy wang geloop. Dit was die wonderlikste oomblik van my lewe. Ek wou dit uitskreeu, maar die oomblik was só kosbaar, ek kon net prewel: “Dankie, dankie vir die genadetyd wat U hom gegee het.”

Kort vóór Eugene se begrafnis het die motiveringsspreker, Retha MacPherson ons gebel. Ons het haar van geen kant af geken nie en niemand het nog my getuienis gehoor nie. Haar woorde was: “Die Here het gesê ek moet vir die pa van hierdie seun sê hy is veilig in die hemel. Sy pa het vir hom ingetree en sy gebed is verhoor.”

’n Ander lewensveranderende les was dat vergifnis mens werklik vrymaak. Dit bring genesing en nuwe lewe. Een van Eugene se aanvallers is gevang en verhoor. In die hof het ek ’n paar meter agter hom gesit. My woede en pyn het hoog gebrand teenoor dié man wat my enigste geliefde seun van my af weggevat het. Toe hy agtertoe kyk om vir sy ma te wys hy is honger, het ek gewens ek kan vir hom ’n brood met arseen en ’n liter Coke gee.

My wens was dat hy op daardie oomblik doodgaan. Dit verg ’n wilsbesluit om te vergewe. Op ’n dag het ek die gevonniste aanvaller in die gevangenis gaan besoek, en kon ek deur die dik veiligheidsglas opreg vir hom sê: “Ek vergewe jou, asof jy niks verkeerds gedoen het nie en seën jou.” Op daardie oomblik het ek dieselfde woorde in my eie hart hoor eggo, asof Jesus dit self vir mý ook sê. Dit het my opnuut laat besef dat ons net vergewe word as ons bereid is om ander te vergewe.

Hennie nooi ouers wat die onbeskryflike pyn en hartseer ervaar het van ’n kind wat weggeneem is, om hom te kontak by 082 820 6238.