“Ek het alles verloor, maar baie gewen”

0
104
storie_van_hoop.png

Sy was jonk, gesond, fiks en uiters gedrewe. Niks kon Chantelle Rudman (32) onderkry nie – tot die dag dat sy letterlik van haar voete af geslaan is. Daarná was niks ooit weer dieselfde nie.

My hart klop in my keel toe die maatskaplike werker die nuus oordra. “Jammer, Chantelle, maar jy’s nie meer in staat om polisiewerk te doen nie. Ek moet ongelukkig jou vuurwapen inneem.” Nét daar val my hele lewe uitmekaar. My kindertyddroom om vir die res van my lewe ’n polisievrou te wees, spat aan skerwe. Ek het geweet dié dag moes die een of ander tyd aanbreek, maar ek het só gehoop dis nog nie nou nie. Nog nie vandag nie. Ek is nog nie reg nie. Nog nie gereed om my passie sommer net te laat vaar nie. Maar ek móét. Die doktersverslae en prokureurspapiere bevestig wat ek eintlik lankal weet. My breinbeserings maak my ’n té groot risiko vir polisiewerk. Ek kan nie meer besluite in ’n breukdeel van ’n sekonde neem nie. Ek beskik ook nie meer oor dieselfde fisiese vermoëns as vroeër nie. Skielik oorval die woede, hartseer en teleurstelling waarmee ek al vyf jaar worstel, my van voor af. Hoekom moes die ongeluk gebeur het? Hoekom moes dit ék gewees het? Hoekom moes ek so seergekry het? Wat is die doel met alles? As ek maar net die horlosie kon terugdraai …

Die dag van die ongeluk het só goed begin. Na twee jaar se wag het ek dié oggend ’n brief gekry wat bevestig het dat ek uiteindelik in die polisie se honde-eenheid aanvaar is. Ek was al sedert my matriekjaar reservis en wou nog nooit iets anders as polisievrou word nie, maar om by die honde-eenheid aan te sluit was die kersie op die koek. Dink net, dis ek en my hond, op ons eie, en ek is in beheer van elke situasie en misdaadtoneel – nes ek daarvan hou. Toe een van die ouens my vra om die aand te kom uithelp met ’n padblokkade, het ek nie eers twee keer gedink nie, al was ek grieperig. Almal het geweet ek is mal oor my werk. Ek lééf daarvoor. Ek sal dit 24 uur ’n dag doen as ek moet. En met die honde-eenheid in my agterkop, het ek nóg meer rede gehad om opgewonde te wees.

[pagebreak]

Dit was reeds donker toe ons die motors een vir een begin aftrek. Ek het by ’n motoris se venster gestaan en vrae toe almal skielik uit die pad spring. Almal sien die kar wat teen volle vaart deur die versperrings gejaag kom, behalwe ek. Dalk het die griep my reaksies vertraag. Dalk was ek net te verdiep in dit waarmee ek besig is. Wie sal weet? Die volgende oomblik tref die motor my op die linkerbeen. Die impak laat my 14 meter deur die lug trek voor my agterkop die teerpad tref. My oor bars oop. My skedel breek. Daar is bloed net waar jy kyk. “Eina! Eina!” skree ek oor en oor, terwyl ek my kop vashou.

Die dokters het nie gedink ek gaan dit maak nie. Hulle het gesê die familie moet kom groet, want dis touch and go. Ek het soveel bloeding op my brein dat hulle glad nie kan opereer nie. Hulle kan net die bloeding stop – en wag. ’n Hele maand lank worstel ek deur ’n semi-koma. Toe ek wakker word, is die “ou Chantelle” weg. Letterlik. Die impak teen my agterkop het my brein aan die voorkant van my skedel beskadig – daardie deel wat jou persoonlikheid, emosies, spraak, smaak, reuk, sosiale gedrag en so meer beheer. Van die stil, introvert wat ek voorheen was, is daar geen teken meer nie. Ek is aggressief en luidrugtig, soos ’n kleuter wat in ’n grootmens se lyf vasgevang is. Ek sê en doen nét wat ek wil. “Kyk daai vet vrou!” roep ek kliphard uit. “’n Mens praat nie so nie,” sê my vriendin, Marietjie, saggies. “Maar sy ís dan vet!” hou ek vol, soos ’n hardkoppige kind. Toe die kapelaan my kom besoek, vloek ek hom uitmekaar. My ma wil sterf van skaamte, maar sy besef dis een van die simptome van mense met breinbeserings.

Gelukkig vind hulle dit maklik om hierdie “aweregse kleuter” in die rehabilitasiesentrum te laat opneem – die plek waar ek weer moet leer loop, eet, reg praat en my emosies en impulse beheer. Al was ek voorheen topfiks en baie aktief, het die ongeluk my spierkapasiteit met 30% laat afneem. Ek het nie krag nie; geen balans of reflekse nie; my koӧrdinasie is uit; ek het ’n persentasie van my gehoor verloor; my reuk en smaak is tydelik weg; en so ook my inhibisies. My brein moet leer om dieselfde funksies op ’n nuwe manier te doen. My vriendin gebruik die slim verskoning dat ek hier by Aurora (in Port Elizabeth) gaan leer om weer fiks en sterk te word, “sodat jy jou eie hond kan kry en by die honde-eenheid kan aansluit”. Toe ek die woord “hond” hoor, dink ek ook skielik rehab is ’n fantastiese idee. “Ek wil ’n hond met tande hê wat kan být,” sê ek in my kinderlike onskuld.
 

[pagebreak]

Rehabilitasie is egter ’n lang en moeilike herstelproses, veral vir iemand wat soos ’n kleuter dink en optree. Ek kan nie verstaan hoekom “almal op hulle gaaie in rolstoele mag sit” en net ék moet aan die pype teen die mure klou en oefen om te loop nie. Ek word gou “Kwaai Babatjie” deur die personeel gedoop, en ek gedra my ook soos een. Toe my vriendin my eendag babapap probeer voer omdat ek weier om te eet, byt ek haar vinger raak en weier om te los. Ek moet ook ure lank blokkies en legkaarte bou om my brein te oefen, maar uit frustrasie gooi ek die stukke dat dit dóér trek. Enige vorm van inspanning gee my so ’n hoofpyn dat dit voel of my brein wil ontplof.

Maar in rehabilitasie word ek weer méns. Die uitdaging om gesond te word en my eie hond te kry, is oorgenoeg motivering om deur elke dag se program te worstel. Een van die dokters merk juis op dat as ek nie kort voor die ongeluk die vooruitsig van my eie hond in my onderbewussyn gehad het nie, ek nie sou kon regkom nie. Ek was nog nooit bang vir uitdagings nie. Dit het my nog altyd aangedryf; en om weer so normaal as moontlik te funksioneer terwyl almal sê dis onmoontlik, word my grootste uitdaging nóg. Teen die tyd dat ek ontslaan word, en in die maande daarna, kan die dokters nie glo watter goeie vordering ek maak nie. Ek kry my hond – ’n dierbare langhaar Alsation, Kyzak – en begin weer oefen. Ek sluit by die honde-eenheid aan en met baie harde werk en toewyding voltooi ek die strawwe kursus, iets wat selfs ’n paar van die manne nie kon baasraak nie. Selfs toe ek later medies ongeskik verklaar word om gewone polisiewerk te doen – die hoofpyne, moegheid en ander gesondheidsprobleme eis hulle tol – is daar nuwe uitdagings wat wink. Soos om aan die Ironman-wedloop deel te neem en dit te voltooi, wat ek wel in 2008 regkry in ’n tyd van net oor die 14 uur (die afsnytyd is 17 uur). Vir die dokters wat my behandel het, is my toestand vandag ’n wonderwerk. By Aurora word ek as ’n inspirasie vir hulle pasiënte voorgehou; ’n voorbeeld van hoe iemand wat breinbeserings opgedoen het, weer kan opstaan en aangaan met die lewe. Maar ek wéét waar my krag vandaan kom. Ek weet Wie staan agter my tweede kans in die lewe.

Waar sou ek gewees het sonder die Here? Sonder geloof in Hom – en daardeur geloof in myself – om elke traumatiese uitdaging sedert die ongeluk te oorkom? Hy is die enigste rede hoekom ek vandag is wie ek is.
 

[pagebreak]

As ek moet terugdink, het ek baie verloor. Vóór die ongeluk was ek ’n bondel energie. Skrander. ’n Uitstekende sportvrou. ’n Introvert, maar iemand wat altyd in beheer was en niks in haar pad laat staan het om te kom waar sy wou wees nie. Maar ná die ongeluk het ek net soveel meer bygekry. In baie opsigte is ek ’n beter mens as vroeër. Ek het ’n sterker band met God. Ek het ’n dieper waardering vir die lewe. Ek word gou moeg, maar ek hou nooit op om te probeer nie. Ek sukkel om te studeer, maar dit hou my nie terug om nuwe dinge te leer nie. Weens my beserings sal ek nooit so ’n goeie sportvrou soos voorheen wees nie, maar ek deins nie terug vir “onmoontlike” uitdagings nie. Ek is ook nie meer ’n beheervraat nie, maar moes leer om meer op ander staat te maak.

En die beste van alles? Die ongeluk se impak op my brein het my van ’n introvert wat maar min vir ander omgegee het, in ’n ekstrovert verander. Sommer net so, oornag. Nou kan ek nie ophou praat en uitreik na ander nie. Ek kan nie ophou om mense te wil help, na hulle te luister of om hulle gelukkig te wil sien nie. Vir my is dít die grootste beloning vir alles wat ek verloor het. Ek weet nog nie wat die doel van my ongeluk was nie. My vrae is nog nie beantwoord nie, maar ek weet ek wil mense – veral dié met breinbeserings – help en motiveer om weer selfstandig te raak en ’n vol lewe te lei.

As ék dit kon doen, kan enigiemand dit doen. Ek glo dit met my hele hart.