“Ek het besluit om uit die boksie te klim”

0
1458

Dis my groot jaar – ek word 40! Of ek dit wou weet of nie: 40 het aan my deur kom klop.

Ek wou nog die deur vinnig in haar gesig toeklap, maar sy het by my verbygeglip en haar ewe netjies op my rusbank tuisgemaak. Gewag vir ’n koppie tee.

So begin ’n nuwe tydperk in my lewe. My vriendinne het my gewaarsku dat ek moet oppas vir hierdie nuwe seisoen. Ek was self bekommerd dat ek depressief sou raak en in ’n diep gat sou val. Toe gebeur die teenoorgestelde en ek begin blom!

Jy kan meer doen as wat jy en ander dink

Vir die eerste keer in my lewe het ek waagmoed aan die dag begin lê. Al die dinge waarvoor ek tevore nooit die selfvertroue gehad het om te sê nie, het uitgekom. Dinge wat te skrikwekkend was om aan te pak, het nie meer vrees ingeboesem nie.

Die groot besluit is geneem: Dit was tyd om uit die boksie te klim om die ware ek na vore te laat kom. Deur die jare het ek toegelaat dat ander my in hulle klein boksies pak en ek het ewe tjoepstil daar bly sit. Nou was dit verby.

Die ergste is, niemand het my in die boksies ingedwing nie. Ek het self daar ingeklouter, boots and all, en sommer die deksel ook opgesit! Ek wou graag almal se aanvaarding hê. Mense moes groot asseblief tog net van my hou.

Dit het my erg beperk. Later het ek begin glo dat ek net sekere dinge kon doen. Dat dit al was wat ek werd was, dat ek niks anders kon doen as die goedjies wat ek – én ander – geglo het ek kon doen nie.

Basta met vrees, ek gaan nou lééf!

Daar het ’n waaghalsigheid in my opgestaan, ’n dapperheid om dinge aan te pak wat my altyd bang gemaak het. Een van die dinge wat ek nooit voorheen sou doen nie, was om aan ’n vierdaagse padwedloop deel te neem. Wat? Ek? Soveel stamina? Nooit gesien nie!

Tog het ek dit aangepak. Ons het van Montague af tot by Beaufort-Wes gehardloop om te wys dat ons saamstaan teen mensehandel. En ek het dit gemaak! Die leuen van nie goed genoeg, nie sterk of fiks genoeg wees nie, is vernietig. My eie grense moes net ’n bietjie verskuif word.

Toe het dit ook tyd geword om te sê wat ek dink. Om nie meer van my hart ’n moordkuil te maak nie. Natuurlik beteken dit nie dat ’n mens op ander se harte moet trap en nie jou woorde moet weeg nie. Dit is bloot om eg en eerlik te wees. Oop, sonder voorgee of pretensie.

Vir die eerste keer het ek besef hoeveel waarde ek het, nes ek is. Ek kon uiteindelik regtig net myself wees. Op die verhoog, by die werk of by die huis.

Jy kan nie gelukkig wees as jy voorgee nie

Onthou, mense kan ’n myl ver ruik as iets fake is. Die wêreld het genoeg kunsmatige dinge, dis nie nog nodig dat jy ook fake moet wees nie.

Wat ons almal nou nodig het, is om eg te wees. Om net te wees wie jy is. Op een van my T-hemde staan ’n aanhaling wat my elke keer van voor af laat dink as ek dit lees. Dit sê: Authenticity is a magnet. Dit is baie waar.

Die oomblik wat jy uit jou boksie klim, sal daar natuurlik mense wees wat van die ware jy gaan hou en ander wat nie van jou gaan hou nie. Dis nie die punt nie! Uiteindelik gaan dit daaroor dat jy van jouself moet hou. Jy moet kan sê: Ek lief myself! Dan is dit ook makliker vir ander mense om jou te aanvaar, nes jy is.

Rouchelle Liedemann is ‘n gospelsangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.