“Ek het bo my omstandighede uitgestyg”

470

Divine Pietersen het die skool in graad ses verlaat en moes baie swaarkry, voordat daar uiteindelik ’n bietjie standvastigheid was in haar lewe.

“Toe ek jonk was, was my ouers gelukkig getroud. My pa het gewerk en my ma het by die huis gebly om ons te versorg.

Dit het egter vir haar te veel geraak en ek het toe in graad ses die skool verlaat om haar te help. My pa het toe ook die geldsake van die huis aan my toevertrou.

Hy het toe betrokke geraak in ’n buite-egtelike verhouding en het al hoe minder geld vir die huishouding gehad en hy het dit op my blameer.

Op sewentien was ek swanger met my eerste kind en het besluit om saam met my kêrel in te trek om uit die huis uit te kom. Ons het toe by sy ouma gaan bly en gedurende hierdie tyd het ek ook begin kerk toe gaan.

Kort nadat ek my hart vir die Here gegee het, het ek besef dat dit verkeerd was om saam met ’n man te bly as ons nie getroud is nie. Ek het my kêrel gevra of ons kon trou en hy het gesê dat ek maar die afspraak by die hof kon maak.

Alhoewel ek werkloos was, het ek die R100 betaal en is ons getroud. Die huwelik is sommer saam met my sussie se een-en-twintigste verjaardag gevier.

Nadat my man se Ouma oorlede is, moes ons ander blyplek kry en ons het in ’n hokkie agterin my skoonouers se erf gaan woon. My skoonma het my nie aanvaar as haar skoondogter nie en het die lewe vir my baie moeilik gemaak. Ek het wel ’n baie goeie verhouding met my skoonpa gehad.

My man was steeds werkloos en het na die Rasta-geloof gedraai. Hy het my baie sleg behandel as ek biduur toe gegaan het en ek het die Here vertrou om hom te kalmeer wanneer ek by die huis kom.

Die nuus dat my skoonpa doodgeskiet is, was baie swaar. Kort daarna het my man uiteindelik werk gekry, maar byna sy hele salaris net so vir sy ma gegee. ’n Paar maande later, het sy ’n beroerte gehad en ek het haar versorg tot sy dood is.

Omdat ek nooit geld gehad het om behoorlik na my kinders om te sien nie, was ek dadelik geïnteresseerd toe ek hoor van Khula en wou ek graag daar werk. Iemand het my toe voorgestel en so het my pad saam met hulle begin.

Híér het ek my identiteit in Christus begin vestig en besef dat God deur my kan werk. Alhoewel ek self nie my skoolloopbaan kon voltooi nie, beteken dit nie dat ek nie deur Hom gebruik kan word nie. Ek is toegerus om ’n verskil in die lewe van ander mense te maak deur ouers te bemoedig en kinders aan te moedig om hul skoolloopbane te voltooi.

My man se gesindheid teenoor my het heeltemal verander en vandag kan ek my geloof voluit uitleef en voorsien hy ook in ons gesin se behoeftes.”

[divider style=”8″]

Khula help om laerskoolkinders, uit arm gemeenskappe, terug in die skoolstelsel te kry. Onder leiding van Erns Labuschagne, Michelle Lotz en Daleen Labuschagne en hulle span moedig hulle leerders aan om skool by te woon en help hulle ook wanneer iemand agter geraak het omdat hulle lanklaas in die klas was. Verder is daar ook akademiese en sielkundige bystand vir kinders wat terug is in die sisteem en word daar opleiding gegee vir primêre versorgers om die jongklomp te motiveer om wel skooltoe te gaan.

Jy kan betrokke raak om vir kinders ’n behoorlike opvoeding te gee. Vir meer inligting hieroor, klik op www.khuladg.co.za of skakel 021 871 1511. Meld dit ook aan as jy kinders tydens skoolure sien ronddrentel.

 

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.