Ek het die lang pad gestap

3947

As hoofsanger van die sanggroep Adam en die gewilde karakter dr. Tertius Jonker in Binnelanders, het Reynardt Hugo gedink hy is onaantasbaar. Dit het hom byna vernietig. Om ’n Christen in die vermaaklikheidswêreld te wees is egter ’n nog groter uitdaging.

My beste besluit was om op 19 uit die huis te gaan om te gaan studeer. My slegste besluit was om deur die vermaaklikheidsbedryf en dit wat daarmee saamgaan, ingesluk te word. Daar was drank, dagga en vroue.

Hoewel ek baie lief vir my ouers is, het my huislike omstandighede my gedwing om vir my ’n eie identiteit te skep. My pa, ’n recce, was dikwels weg en het kwaai gedrink en my ma was voortdurend besig. Beide my ouers, asook my stiefma, was in die weermag.

Ek moes doodeenvoudig myself gaan vind. Dit het uiteindelik twaalf jaar geduur om uit te vind wie Reynardt is, so lank soos ’n hele skoolloopbaan!

Voorheen was ek te deurmekaar – my ouers se egskeiding het my swaar getref. Die egskeiding was moontlik die sneller vir sommige van my besluite. Tien is ’n moeilike ouderdom om so iets te verwerk en dit het my in ’n wêreld van chaos gedompel. Die laaste normaliteit in my lewe was vóór my ouers geskei is.

Ek het op Phalaborwa grootgeword en voel baie sentimenteel oor die plek. Dis ook waar my ouers ons vertel het dat hulle uitmekaar gaan.

Etlike jare ná die egskeiding is albei van hulle weer getroud en skielik, binne ’n week, was daar twee nuwe families om aan gewoond te raak. Behalwe vir ’n suster was daar nou ook stiefbroers en -susters.

Die woord “stief” is nie deel van ons woordeskat nie. Ons kom eintlik almal goed met mekaar oor die weg. Ek is baie lief vir my stiefpa – hy was daar vir my toe my eie pa weg was.

Ek was bloedjonk toe ek tien jaar gelede die rol van dr. Tertius Jonker in Binnelanders gekry het. Op daardie stadium het ek nie eintlik akteurs of die bedryf geken nie. Skielik is jy op TV en jy is hierdie vuurwarm ou.

Dit was ’n vreemde wêreld om in te wees. Nadat ek uit die huis is, het drank stadigaan my lewe begin oorneem en dit het toe net erger geword.

’n Mens leer maar die woorde, selfs al is jy babelas. Jy doen dit net. Daar was ’n stadium dat baie van ons gekuier het. Dan hap jy maar die woorde so. Nuwe akteurs kom op die stel, ’n mens hou van mekaar en begin dan saam drink en kuier. Johannesburg is nogal ’n verandering van Phalaborwa en dis lekker om saans uit te gaan.

Daar was een aand ’n vertoning waar ek so vol dagga en drank was dat die hele optrede ’n groot fiasko was. Toe Hugo Ludik die volgende week sê hy wil my sien, was my vraag: “Is dit ernstig?” Sy “Ja!” het alles gesê.

Ons twee stap al ’n lang pad saam. Toe Hugo oor my gedrag daardie aand gepraat het, het ek yskoud geword. Ek het toe nog nie van my bipolêre gedragsversteuring geweet nie. Dit alles het my al hoe meer neerslagtig gemaak.

Ja, daar was baie aandag van meisies en nou selfs nog meer. Maar deesdae, anders as daardie tyd, weet ek hoe om dit te hanteer.

Ek doen ook motiveringspraatjies. Jy hoef nie ’n kenner te wees om jou persoonlike ervarings met ander te deel nie. Aan die ander kant is sulke optredes nogal senutergend. Mense dink mos as jy ’n akteur is, sal jy ook ’n goeie seremoniemeester wees, wat nie noodwendig die geval is nie.

Daar moet iets wees om op terug te val as Binnelanders of Adam nie meer daar is nie. ’n Mens moet eintlik so drie of vier ander dinge ook doen om ’n inkomste te genereer.

Baie mense vind aanklank by gesprekke oor egskeiding. Die grootste probleme in die samelewing word geskep deur gebroke huise en afwesige pa’s. Gelukkig het ek ’n goeie verhouding met albei my ouers. Ons kan almal aan dieselfde tafel sit en gemaklik oor die egskeiding praat.

Die praatjies gaan egter nie net oor egskeiding nie, maar ook oor die ervaring van ouers wat weer trou en die “aangelapte” gesinne as gevolg daarvan.

My stiefpa was daar in die tye toe my eie pa nie daar was nie. As recce werk ’n mens mos nie in jou eie land nie. Ek ken my pa se hart en weet hoe intelligent hy is, maar sy werksomstandighede is ’n toe boek. Recces is mos maar ’n ander spesie wat nie oor hulle werk praat nie.

Sterk medikasie is vir my bipolêre gemoedsversteuring voorgeskryf. Gelukkig het ek nooit teen die medikasie geskop nie. ’n Psigiater en ’n kliniese sielkundige is ook lede van die behandelingspan.

Ek is aanvanklik verkeerd gediagnoseer en het al drie keer terugslae gehad. Ek het op die harde manier geleer alkohol en medikasie loop nie saam nie. Gelukkig is die drank nou iets van die verlede.

My vrou, Anna, weet alles van my af. Sy het blykbaar nog altyd geweet daar is ’n ander Reynardt ágter die partytjiemens.

Ek was nooit eerlik nie en het verswyg dat daar ’n meisie is, sodat mense moes dink ek is ’n hot bachelor. My beeld was belangrik en mense het daarvoor geval!

Aan die ander kant was my lewe nog altyd baie privaat. Ek wou byvoorbeeld nie my huis vir ander wys nie. Nou is dit anders, daar is ’n boodskap wat uitgedra moet word. Alles wat ek vandag sê, kom eerlik uit my hart.

Daar was vier groot dinge in my lewe: meisies, drank, dagga en sigarette. Dis ’n gelukskoot dat daar nie noodlottige gevolge of ’n motorongeluk was nie.

Ek het vir Anna en Hugo Ludik van Adam op dieselfde dag ontmoet. Ag, sy is beeldskoon! ’n Vrou móét ’n bietjie lyf hê.

Sy is ’n kleuterskoolonderwyseres by ’n privaat skool en het ook haar eie stileringsonderneming. Sy help vroue om die regte uitrustings vir hulle liggaamsvorm en -grootte te kies. Dis nie al nie, sy help vroue ook om ’n innerlike skoonheid uit te straal.

Anna is van nature mooi. Sy plak nie vals oogwimpers aan of doen hierdie moderne wenkbrou-ding en permanente grimering nie. ’n Botox-poppie is sy allermins.

Dis belangrik dat Anna gelukkig moet wees. Sy moet die mooi dinge kry wat sy verdien. Dis vir my belangrik dat sy met respek en bewondering na my moet kyk. Sy moet weet ek sal nie net daar wees vir haar nie maar ook vir enige kind of ouer.

Niemand wil ’n etiket om die nek dra nie, veral nie die een van alkoholis nie. Drank het my en Anna se verhouding byna vernietig. Ons was agt maande lank uitmekaar as gevolg daarvan.

Dit gebeur maklik dat bekendes ’n etiket om die nek gehang en gekritiseer word, ongeag wat jy doen. Ek het nou die dag met die tienjarige herdenking van my sukses iets op Facebook geskryf wat mense omgekrap het. Dit was my pa se woorde wat so ’n hewige reaksie uitgelok het: “Hou altyd jou oë op die Ouman daar bo.”

Die tannies het gedink dis oneerbiedig. Toe maak ek die fout deur niks te sê nie, behalwe: “Moenie kommentaar hierop lewer nie, dit dra niks daartoe by nie.”

Gelukkig het dit nie in iets leliks ontaard nie. ’n Mens kan nie juis op sosiale media oor sulke sake redekawel nie. Toe nooi ek die Facebook-vriendin uit om by my te kom sit en dan gesels ons oor die Ouman daar bo.

Dis maklik vir mense om hieroor aan te gaan, maar neem eerder my e-posadres, kyk my in die oë en sê vir my wat “die Ouman daar bo” vir jou beteken. Ek is tog ’n respekvolle ou. Wil jy vir my sê ’n intelligente vrou kan nie agterkom daar word van die Here gepraat nie?

Wat die etikettering van bekendes betref, daar is seker nog steeds mense in die bedryf wat dink dat ek ’n ongeskikte ou is omdat ek in ’n stadium gedrink het en onder die invloed was. Maar daardie mense het my definitief lanklaas gesien.

So twee en ’n half jaar gelede het ek en my oom een aand op Bloubergstrand oor geloof gesels. Dit was net nadat ek met medikasie vir my bipolêre gedragsversteuring begin het.

Dit het net gebeur. Ons het daar gesit en ek het vir my oom gesê ek wil my hart vir die Here gee. Ek het egter nie in daardie stadium geweet wat dit nou eintlik beteken nie.

Ons het om halfdrie daardie oggend see toe gery en voor die Blue Peter stilgehou. Al my klere het net daar op die strand gewaai tot ek net my onderbroek aangehad het.

Daar moet nog iewers ’n foto wees van toe ons twee die see in is. My oom het my vinnig in die see gedoop. Hy het my gevra om af te sak en die water het oor my gespoel. Toe het ons opgestaan. Dit was al. Die water was doodstil. Nie een van ons het die see gevoel nie, selfs al was die water yskoud.

My bekering was glad nie ’n probleem vir Adam nie. Al loop al vier van ons elkeen ons eie pad, ondersteun ons mekaar.

’n Mens kan lank oor Christenskap redeneer – die onderwerp laat sommige mense ongemaklik voel. Maar ek probeer op my eie manier vir mense van die Here se genade vertel, en van wie en wat Hy is.

As jy eers verduidelik wat in jou eie lewe gebeur het en hoe Christenskap jou verander en gehelp het, is mense meer ontvanklik. Dis moontlik om op ’n subtiele manier ’n saadjie te plant deur vir hulle die verhaal van die saaier te vertel.

In my werk is voorkoms nogal belangrik.

Mense het destyds gepraat oor dáárdie keer se foto’s met kaal boudjies. Dit was deel van ’n tydskrif se veldtog teen vroue- en kindermishandeling. Dit het toe amazing geklink.

Ek is nie juis spyt daaroor nie. Daardie foto is nou daar buite, maar my sitvlak lyk nie meer so nie. Dit lyk baie beter! Trouens, dit lyk fantasties!

Daar was nie juis negatiewe kommentaar nie. My ouers het gedink dis skreeusnaaks. Die tannies hou ook maar van ’n man se agterstewe, hulle sal dit net nie hardop sê nie.

In my beroep is dit belangrik om goed te lyk en fiks te bly. As die gesig vir ’n advertensieveldtog vir oefenklere moet ’n mens na jouself kyk. Oefening en ’n gesonde leefstyl is belangrik. My vel kry ook spesiale behandeling.

Sport is nogal in ons gene. My pa is ’n drawwer en het die Comrades al 14 keer voltooi. My ma speel amper haar lewe lank pluimbal.

Ek leef eintlik nou baie gesond. Ek het opgehou rook toe ek my hart vir die Here gegee het. Daar gebeur net iets met ’n mens as jy dit doen. Ek drink ook nie meer ’n druppel nie. Dagga is ook iets van die verlede. Dit nadat ek in ’n stadium, toe ons uitgemaak het, sewe joints ’n dag gerook het.

Ons moet gereeld funksies bywoon en gesien word. Dit pla my nie, hoewel ek glad nie van small talk hou nie. ’n Mens probeer maar konsekwent teenoor almal optree, ander se belange eerste stel en die “ek” uit jou woordeskat haal.

Die Reynardt van vandag verskil baie van die 21-jarige Reynardt. Op 21 was daardie ou ’n vriendelike kêrel, maar baie seer aan die binnekant. Hy kon mense met ’n valse nederigheid flous.

Die ou wat hy vandag is, het vir hom ’n standvastige lewe gaan skep en probeer nou om die regte ding te doen, al is dit hoe moeilik. Dis veral uitdagend by die werk, want jy werk met sensitiewe en uiteenlopende siele en mense verstaan mekaar dikwels verkeerd. Dis maar menslik.

Dis maklik as jy op TV of ’n verhoog is. Meisies kom ná die tyd na jou toe en vertel jou hoe ongelooflik jy is. En Anna sit by die huis.

Dit raak darem makliker om ou gewoontes te verbreek. Dit help ook om jou met goeie boeke en mense te omring.

My raad is: Vra vir jouself wat jy vandag kan doen om iemand anders te help – iets wat jy nie gister gedoen het nie. Dit hou ’n mens geestelik gesond.

Jong mense moet teen dagga gewaarsku word. My onttrekkingsimptome het twee weke geduur en dit was hel.

Ek het vir elke persoon wat ek in my lewe benadeel het, gaan jammer sê en hulle om vergifnis gevra. Elke enkele een. Die laaste een was Joe Foster, wat ook in ons sanggroep was. Ons het by ’n winkelsentrum in Johannesburg ontmoet. Ons het mekaar ’n druk gegee en toe gepraat.

Toe bestel ek ’n botteltjie water en vra vir hom of ek sy voete kan was. Hy sê toe dis reg, maar hy wou net een stewel uittrek.

My woorde aan hom was: “Luister, Joe, alles tussen ons is nou opgelos.” Ek het nou gemoedsrus. Ek het die lang pad gestap.