“Ek het geleer om my intuïsie te vertrou”

0
268

Om besluite te neem is so deel van die lewe. Jy kom by ’n vierrigtingstop of ’n T-aansluiting en dink: Watter pad gaan ek kies? Gaan ek met dit wat my kop sê of gaan ek met dit wat my sesde sintuig sê?

Jou vriende wys vir ander wie jy is

So ’n rukkie terug is daar ’n situasie wat kop uitsteek. Mamma kry net ’n gevoel dat iets nie lekker is met Boeta nie. Dis nie iets wat ’n mens kan verklaar nie, net ’n vae bekommernis wat aan die binneste knaag.

Miskien was dit sy buie wat kort-kort verander het wat my laat lont ruik het. Het sy vriende dalk iets daarmee te doen gehad? Baie wys besluit ek om eers ’n paar dae te wag voor ek reageer. Maar ek was op hete kole en kon beswaarlik die paar dae uithou.

Pastoor Wouter van die Lighuis het altyd gesê: “Show me your friends, then I will know who you are.” Dit was nou nie regtig van toepassing op ons seun se vriende nie, het ek gedink. As ’n mens hulle so deurkyk, sou jy nie sê dat daar een van hulle was wat ’n slegte invloed kon hê nie.

Vertrou jou gevoel dat iets nie pluis is nie

Ewe dapper pak ek toe die bul by die horings en spreek die situasie aan. “Luister, Boeta, Ma dink ek en jy moet ’n bietjie gesels oor jou vriende. Al lyk hierdie vriendskappe so mooi en glad soos ’n appel aan die bokant, dink ek daar is ’n vrot gedeelte aan die onderkant.”

Dit was die vonk in die kruitvat. Na ’n hele paar woordewisselings het ek en Pappa aan die einde van die dag by die kern van die storie uitgekom. En raai wat? Toe is my gevoel dat iets met die maats skort, al die tyd reg!

Dit wys jou net weer: Soms dink ’n mens dis net ’n klein jakkalsie. Maar dis die einste klein jakkalsie wat op die ou end die wingerd kan vernietig.

Sommige kinders is baie beïnvloedbaar. Ander weer nie. Ouers moet maar heeltyd hulleself oopstel vir tekens dat alles nie pluis is nie. Ons moet die leiding neem en ons gut vertrou en daarop reageer.

Konflik is nodig sodat ’n situasie kan verander

Hoekom het ek daardie eerste keer getwyfel aan my gevoel dat daar fout is? Dalk was dit omdat ek gedink het ek is besig om spoke op te jaag. Dalk omdat ek nie op iemand se tone wou trap nie. Of omdat ek my intuïsie nie genoeg vertrou het nie. Miskien wou ek eerder tot elke prys die vrede bewaar.

Die rede dat ek uiteindelik my intuïsie vertrou het, was dat ek graag daardie vrede wou hê wat alle verstand te bowe gaan. Ek het geweet daardie storm wat so in my binneste gewoed het, sou slegs bedaar as ek dit kon laat uitkom.

Al het dit beteken dat daar eers vir ’n tydjie konflik moes wees, sou dit tog die moeite werd wees omdat daar ’n groter, beter prentjie was.

Ek stem saam met dr. Caroline Leaf dat ’n gut feeling ’n regte feeling is. Leer om daardie stemmetjie te vertrou – dis ’n waarskuwingsteken om jou te help.

Rouchelle Liedemann is ’n gospelsangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.