“Ek het God nou liewer as my eie drome”

1664

FRANK RAUTENBACH (van Faith Like Potatoes– en Hansie–faam) het met sterre in sy oë en geloof in sy hart Los Angeles toe getrek. Maar dinge het nie uitgewerk soos hy beplan het nie. Sy loopbaan en reputasie was daarmee heen. Tog het hy uiteindelik vrede en berusting gekry.

My droom het ’n lang, geestelike “wildernis” geword. Dit het een oggend tot ’n punt gekom toe ek angsbevange wakker geskrik en in ’n vreesaanjaende oomblik besef het: Niks waarvoor ons gehoop het, gaan gebeur nie. Dis verby.

Dis hoe Job moes gevoel het. Hy het alles verloor – en dis presies wat besig was om met my te gebeur.

Ek het Los Angeles toe gekom om my stempel as akteur af te druk. Maar my loopbaan was verby. My reputasie het in die hek geduik.

Toe staan ek op om te gaan bid. Die plan was om ’n mooi, vroom gebed te doen, maar woede en bitterheid het die oorhand gekry.

“U het beloftes gemaak en nie een daarvan het waar geword nie. En weet U wat?” kom die kersie op die koek. “Daar is níks om te wys dat U ooit in my lewe was nie.”

Later het ek my iPad aangeskakel om ’n boek te lees. Die eerste sin wat my oog gevang het, was: “If God didn’t spare His own beloved Son from the wilderness, why would He spare you from the wilderness?”

As akteur was ek vir baie lank baie gelukkig. Dinge het maklik gekom. As ’n jong outjie het ek in ’n klomp advertensies gespeel. Maklik.

Ek het ook sonder enige dramaopleiding by die 7de Laan-oudisie opgedaag en is gevra om vir JanHendrik se rol te lees. Wat ’n ramp! My gebrek aan ervaring het duidelik gewys.

“Ek het eintlik vir Tiaan Terblanche voorberei,” het ek verskonend gesê, en nog ’n kans gekry. ’n Stukkie egtheid het deurgeskemer en die rol was myne.

Die probleem as dinge maklik na jou kant toe kom, is dat jy later dink jy “verdien” dit. Jy kry nie met opset grootkop nie, maar jy begin glo dis omdat jy so goed is. Jy begin jou waarde as mens op die verkeerde manier meet.

Ek en my vrou, Leigh, was jonk en sorgvry toe ons besluit het om Hollywood toe te trek. Ons was lus vir avontuur, ek het talent gehad en – die belangrikste van alles – God was aan ons kant. Ons kon spring, Hy sou ons vang. Geen probleem nie.

Dit het ons vyf jaar geneem om tuis te raak daar. Los Angeles is ’n stad met 15 miljoen mense en daar is pal ’n stroom mense wat inkom om hulle “grootste droom” te verwesenlik.

Terselfdertyd is daar ’n stroom mense wat die stad verlaat omdat hulle “grootste droom” verpletter is. Dit voel dus of die persoonlikheid van die stad elke twee weke verander.

Daar is jy net ’n produk. Niemand sal hulle oor jou ontferm nie. Elke ou beskou jou as ’n potensiële mededinger. As iemand gaaf is met jou, is dit omdat hulle iets van jou wil hê.

’n Hoogtepunt was die dag by die Toronto-filmfees in Kanada op die rooi tapyt. Dit was die gala-première van The Bang Bang Club, waarin ek een van die hoofrolle gespeel het. Daar was 2 700 mense.

Ek het soos ’n “meneer” gevoel toe ek in my duur skoene en snyerspak uit die limo klim.

Kort daarna kom die oproep waarvan elke akteur droom …

“Hello, Frank, how’re you doing,” sê die stem in ’n swaar Amerikaanse aksent. Dit was ’n agent van William Morris Endeavor (WME). Dis mense wat jóú bel, nie jy vir hulle nie. Hulle verteenwoordig al die groot name in die bedryf: Charlize Theron, Steven Spielberg … noem maar op.

“Well, we’re gonna cut to the chase,” sê die agent. “We want to represent you.” Ek was opgewonde, maar ook skrikkerig. Almal weet mos hoe dinge werk. Hulle smeer jou heuning om die mond, want jy kan dalk vir hulle geld maak.

Die volgende dag het ek die kontrak gaan teken. Oudisies vir al die beste TV-programme en flieks het begin inrol. Ek het selfs ’n oudisie gekry vir die hoofrol in ’n rolprent oor Superman, en is twee keer teruggeroep.

Ek het 6 000 myl agter oudisies, stemkunstenaars en dramaturge aan gery, maar nie een enkele rol gekry nie. Hoe was dit moontlik?

Toe ek met die volgende oudisie-seisoen ’n e-pos vir WME stuur, kom die brief wat sê: “Ons het jou al ’n jaar gelede ge-drop. Sorry, maar dis hoe dit is.” Punt.

As jou identiteit in erkenning en prestasie gesetel is, het jy jou lewe op ’n vals waarde gebou, en wanneer dit verkrummel, val jy saam.

Ek was in ’n put van depressie en het met die Here gestoei. Een nag het ek weer paniekbevange wakker geskrik en my tablet nadergetrek.

My oog het op die titel Counterfeit Gods geval – ’n boek deur Timothy Keller wat handel oor die “versteekte afgode” in mense se harte. Daardie dinge wat jou laat voel die lewe sal nie die moeite werd wees as jy dit moet prysgee nie.

Dit was asof Hy vir my sê: “Jy’t my vertel wat jy van my dink. Kom ek draai nou die kameralens om en wys jou wat ek sien.” Dit was nie ’n mooi prentjie nie. Sonder dat ek dit besef het, was daar ’n hele rak vol hidden idols in my lewe. Erkenning, prestasie en sukses was heel voor in die ry.

Daar is niks verkeerd met hierdie dinge nie. Maar God wil nie hê ons moet ons identiteit daarin gaan soek nie, want uiteindelik word jy dít wat jy dien. Hierdie besef was die eerste tree na genesing.

Ek was platsak. Met dieselfde skoene, broek en onderbaadjie waarmee ek by die Toronto-filmfees geparadeer het, het ek my in ’n swart taxi bevind. Nie agter as ’n passasier op pad na ’n première nie, maar agter die stuurwiel as ’n cab driver.

“Frank, jy het na hierdie stad toe gekom om te vat,” het die Here gesê. “Nou kry jy die kans om terug te gee. Om die stad te dien.”

Drie jaar lank, ses dae per week, was dit presies wat gebeur het. As ek nie mense rondgery het nie, het ek na preke geluister.

Vir eers het Hy my “stem” op ’n ander manier teruggegee – daar in die taxi. Vir almal wat gewillig was om te hoor, het ek my storie vertel. Op dié manier het my pad met wonderlike gelowiges s’n gekruis wat gevoel het my getuienis kan baie ander mense help.

’n Groot deurbraak het laat een aand in Beverley Hills se strate op pad huis toe gekom. Die monitor het begin biep. Die kliënt was my gewese agent by WME. Die ou wat die brief gestuur het om te sê hulle het my ge-drop.

Hy het saam met sy vriende agter in die taxi geklim en gemaak of hy my nie ken nie.

God se woorde was: “‘Was’ sy voete. Dien die stad.”

Ek het toe vir hom en sy pelle bottels water en pepermente gegee en hulle gunstelingmusiek gespeel.

’n Ruk later het dit gevoel asof daar ’n lig diep in my binneste aangesteek word. Toe weet ek: dit is vergifnis. Ek het vrede gekry.

Ek het op die harde manier geleer om Hom méér lief te hê as enige van my eie selfsugtige begeertes.

In my memoires The vagabond beskryf ek hierdie geestelike reis en hoe my vraag na die sin in my lewe beantwoord is. Ek het maar net die woorde neergeskryf, God was die outeur.

Terug in Suid-Afrika is alles maar nog dieselfde, maar ék is nou anders.

Ek is nie meer die bitter, verslane akteur van ’n paar jaar gelede nie. Ek is vry.

Ek het besluit om my talente nie vir prestasie en erkenning te gebruik nie, but for His pleasure. Ek het my waarde in God ontdek.