Ek het God se stem gehoor

0
403
nic_stevens_die_broers.jpg

Nic Stevens het, soos Samuel in die Bybel, ’n ontmoeting gehad wat hom altyd sal bybly en het die trefferlied, Ek sal daar wees vir jou, geskryf.

Op ’n stil somernag staar ek met intense verwondering na die sterre. Vannag het daar iets groots met my gebeur. Ek onthou weer van Samuel – dié besondere verhaaltjie wat my as kind so geboei het.

Ek en my broers het in ’n Christelike huis grootgeword en het tuis en in die Sondagskool geleer van Jesus se liefde vir ons.

Ek is ’n kerkmens en was gereeld by die eredienste. Maar iets het bly ontbreek. Ek het nie werklik ’n persoonlike verhouding met die Here gehad nie.

Ek het besiger geraak en om kerk toe te gaan, was nie meer prioriteit nie. Dit het goed gegaan met my loopbaan en ek het gereeld opgetree, soms saam met my broers en soms as solo-kunstenaar. Daar was baie toere, en onthale en partytjies. Daar is niks mee verkeerd nie, het ek myself getroos wanneer ’n effense skuldgevoel by my aangeklop het.

En tog het iets my bly pla – ek leef al hoe verder weg van die Here. Daar was ’n krapperigheid in my. Vandag glo ek dit was die Heilige Gees wat met my doenig was. Op ’n vlak wat ek toe nog nie verstaan het nie, is ek bewus gemaak daarvan dat ek verkeerd leef, dat ek afgedwaal het van die regte pad.

In daardie tyd was ek nie meer op die pad waarvan ek as kind geleer het nie. En ek was nog blind vir my foute. Al het ek dit nie toe besef nie, het ek tussen die helder ligte, mooi musiek en lighartige geselskap na iets meer gesoek. ’n Tipe tevredenheid wat ek nie op die bodem van ’n glas kon vind nie. Ek het bly soek – op al die verkeerde plekke – sonder om te kry.

Die gewoonte om te bid was steeds deel van my daaglikse bestaan, maar dit het gevoel asof die Here my nie hoor nie. Dit het my egter nie gekeer om van dag tot dag te bly leef sonder om aan die gevolge van my dade te dink nie. Alles het oor my en my eie genot gegaan.

Ek het my telkens voorgeneem om briek aan te draai, om nie toe te laat dat die vrolikheid handuit ruk nie. Maar ’n patroon van baie jare word nie maklik verbreek nie.

[Pagebreak] Vandag, ná die uitsonderlike ondervinding wat my lewe sou verander, kuier ek steeds graag saam met my vriende. Maar nou het die hele manier van partytjie hou verander. Die valse vrolikheid het plek gemaak vir ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Ons was op toer in die Oos-Kaap toe ek die ervaring van my lewe gehad het. Ek en my broer het ’n kamer in die hotel gedeel. Hy het lankal geslaap, maar ek kon nie tot rus kom nie. Dis asof iets vir my sê om op te staan. Maar hoekom sal ek dit wil doen?

nic_stevens.jpgStaan op en gaan buite toe, sê iets vir my.

Maar ek wil nie. Dis in die middel van die nag. Ons tree die volgende aand weer op, ek moet rus kry. Maar weer kry ek die gevoel dat ek moet opstaan en buite toe gaan. Eers toe ek die derde keer daarvan bewus raak, gee ek oor en staan op.

Dis ’n soel someraand toe ek buite kom. ’n Helder aand met die sterre duidelik sigbaar in die lug, anders as in die stad. Daar is iets amper betowerends daaraan om hierdie tyd van die nag buite te wees. Alleen. En dan … skielik is ek intens bewus van ’n teenwoordigheid, van iets, nee, van Iemand soveel groter en magtiger as ek. Hier bý my.

En toe hoor ek Die Stem. Ag, hoe beskryf ek dit tog? Dis nie die stem van ’n mens nie, maar ’n stem wat op ’n boaardse en wonderbaarlike manier met my ‘praat’. Ek kan nie werklik die woorde onderskei nie, dit nie verstaan soos ’n mens aardse woorde sou verstaan nie. Daarvoor is die ervaring te uitsonderlik om werklik te verwoord, te hemels. Dis die stem van die Here, besef ek met verwondering.

Ek het al dikwels gehoor mense vertel daarvan – dat die Here met hulle gepraat het. Maar ekself het nog nie so ’n ervaring gehad nie. Dis toe dat Samuel in my gedagtes kom, dat ek onthou dat hy ook nie aan die begin die Here se stem herken het nie.

Ek is sprakeloos van verwondering. Ek moet dit vir iemand vertel. Gelukkig is my broer daar vir my.

“Ek was buite,” probeer ek vir hom verduidelik. “En … en ek dink die Here het nou net met my gepraat.”

[Pagebreak] Hy lag nie vir my nie, spot nie met my nie. “Sulke goed gebeur,” verseker hy my. “Wat het die stem gesê?” vra hy belangstellend.

“Dit was nie direkte woorde nie,” probeer ek, “maar een ding weet ek: Ek het ’n persoonlike ontmoeting met Hom gehad.”

Ek dink lank oor wat daardie nag met my gebeur het. Duideliker kon ek nie die boodskap gekry het nie. Ek is op die verkeerde pad, ek moet van koers verander.

Daar is ’n duisend vrae in my kop. My lewe gaan nie meer dieselfde wees nie, kán nie meer dieselfde wees nie. Wat gaan my vriende sê as ek skielik verander? Gaan ek verwerp word?

Maar ek weet: Dit maak nie saak wat die gevolge in die toekoms gaan wees nie, ek het nie meer ’n keuse nie. Die Stem wat ek gehoor het, sal nie stil raak voordat ek nie ’n ommekeer gemaak het nie. Ek sal maar net my voete in ’n onbekende omgewing moet waag, ongeag wat op my wag. Ek kan nie langer ongehoorsaam wees nie, net so min as wat Samuel dit kon doen.

Terwyl hierdie gedagtes by my spook, is dit asof ek weer die stem van die Here hoor. En asof ek hierdie keer verstaan wat Hy vir my sê. Soos Samuel wil ek my oorgee om Sy wil te doen. Ek wil leer om te luister wanneer daar met my gepraat word.

“Ek sal daar wees vir jou,” kom die gerusstellende belofte helder na my toe. Meteens weet ek dat dit so sal wees. Dat Hy self by staan my met die veranderings waardeur my lewe nou sal gaan.

En dis ook wat gebeur, keer op keer.

Die knaende onsekerheid is weg uit my lewe, ek struikel nie meer so maklik nie. Selfs al sien ek God nie en selfs al hoor ek Hom nie so duidelik soos dag en nag nie, weet ek Hy hou sy belofte dat Hy daar is vir my. Altyd. Ek weet ook nou met ’n wonderlike nuwe sekerheid dat ek Sy kind is en onlosmaaklik aan Hom behoort. Daarom glo ek alles wat Hy vir my sê.

Dat Hy altyd daar is vir jou, is so ’n wonderlike belofte dat ek dit nie vir myself kon hou nie. Ek het dadelik geweet ek moes ’n liedjie daaroor skryf sodat ander wat dit nodig het, ook daarvan sal weet: Jy is nie alleen nie, maak nie saak waardeur jy gaan nie.