“Ek het ’n tweede kans op die lewe gekry”

728

Nokuthula Msimango het dit amper nie gemaak nadat MIV by haar gediagnoseer is nie, maar danksy goeie sorg en hulp is sy deesdae blakend gesond. Hier is haar storie.

Die laaste ding wat jy wil hê, is om jou eie doodsvonnis te kry wanneer jy sewe kinders het om groot te maak.

Ek het my man ’n hele paar jaar gelede verloor. Dit was baie hartseer en het ons lewens erg geruk. Dit was skielik my werk om na almal om te sien.

Op ’n stadium het ek baie siek begin voel en die simptome het al hoe erger begin word. My skoonsussie het gesê ek moet dokter toe gaan sodat hulle toetse kon doen. Soos met my man, het sy vermoed dat die uitslag nie goed gaan wees nie.

Sy was reg. Ek was MIV-positief. Dit was vir my ’n groot skok, ek kon dit net nie aanvaar nie. Daar was dan nog so baie oor om voor te lewe. My gesondheid het aanhou verswak.

Op ’n dag het my pad met dié van Alice Lushabe gekruis. Sy was ’n opgeleide Shiselweni Home-Based Care-tuisversorger en het my aangeraai om antiretrovirale medikasie te begin gebruik. Ek het eers geweier omdat ek steeds nie my status wou aanvaar nie.

Sy het egter nie moed opgegee nie en het my gereeld besoek. Dit was wonderlik om haar omgee te ervaar en ek het toe besluit om haar raad te volg.

Kort daarna het ek swanger geword met my agtste kind en danksy die regte medikasie en versorging is my baba gesond gebore en is haar status steeds negatief.

Omdat my lewe soveel deur SHBC verander is en ek deesdae perdfris en gesond voel, het ek besluit om myself te laat oplei as ’n tuisversorger sodat ek my liefde en geloof weer met ander kon deel wat dit nodig het.

My kliënte is ook almal MIV-positief. Dit is lekker om te weet dat ek ’n verskil in hulle lewens maak.

Om ander aan te moedig om hulleself te laat toets, wys ek gereeld vir hulle my kliniekkaart, sodat hulle kan sien hoe goed dit kan gaan wanneer jy behoorlik na jouself omsien.

’n Tweede kans en nuwe lewe is vir my gegee en ek probeer om die beste daarvan te maak waar ek kan.

[divider style=”8″]

Shiselweni Home-Based Care versorg siek mense in arm Afrika-gemeenskappe en leer hulle ook van die Here. Dr. Arnau van Wyngaard, leier van die bediening, vertel dat hulle vir eSwatini se mense hoop en ’n doel wil gee om voor te leef deur hulle fisies aan Christus se liefde bloot te stel. Die organisasie help verder ook kinders wat geen ander heenkome het nie, met ten minste een gekookte ete per dag.

Jy kan help om mense wat siek is se lewens te verbeter. Vir meer inligting hieroor, kliek op www.shbcare.org, skakel 082 924 5632 of stuur ’n e-pos aan wyngaard@lando.co.za.

 

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.