Ek is deur Satan misbruik

1006

Verwerping deur mede-Christene laat mense vandag nog terugval in satanisme en ander sondige leefstyle. Daarom het Mariëtte Schlebush lank die pad alleen gestap.

Die eerste keer toe ons saam met tannie Ronel, ’n buurvrou, glasie-glasie gespeel het, het sy gesê ons moet konsentreer, anders sou haar trick nie werk nie. Toe die glas op die bord begin beweeg, het ’n koue rilling teen my ruggraat afgegly.

Kinders bly maar nuuskierig en wie sal nie graag meer daarvan wil leer en ervaar nie? Dit het ons belangstelling geprikkel en tannie Ronel was ’n baie gewillige leermeester!

Eenkeer het ons almal in ’n kring gesit, met Antoinette in die middel. Ons moes hard konsentreer en tannie Ronel se woorde herhaal. Die volgende oomblik het Antoinette begin beweeg: op, op, op. Dié “vriendelike tannie” was toe al die tyd ’n satanistiese heks!

Een aand het ek ’n satanistiese simbool op die kamervloer getrek en daarin gaan sit. So het die kommunikasie met ander “stemme” begin. Eers later het die besef gekom dat die stemme demone was.

Daar is sekere dinge van my verwag. Die opdragte het deur sogenaamde covens gekom, of partykeer selfs direk van die demone af. My bonatuurlike magte het vinnig toegeneem, want daar was volle samewerking.

Van die belangrikste opdragte was om onenigheid in kerke en Bybelstudiegroepe te veroorsaak, waarmee ek baie suksesvol was. Seksuele vloeke op mans en vroue was die beste ding om huwelike te vernietig.

Baie prominente gemeenskapsleiers en hulle seuns het op dié manier geval. My rits skoonheidstitels en modelkontrakte het dit waarskynlik maklik gemaak om mans te verlei.

Teen daardie tyd was daar geen twyfel nie – Satan is sterker as God. Maar toe probeer ek ’n vloek op ’n teologiese student plaas. Niks wou werk nie, want die Heilige Gees was te sterk in hom.

Kon daar ’n God sterker as Satan wees? Daardie gedagte het my leeg en nutteloos laat voel en die swart mantel van depressie het al hoe stywer en swaarder geword.

Van die kragtigste vernietigingswerk was om mense te keer om mekaar te vergewe. Ons besef nie dat dit ons lewens kan vernietig nie. Vergifnis is só belangrik. Dis ’n oop deur vir die bose om die persoon wat nie vergewe nie, én die een wat nie vergewe word nie, gevange te hou.

Die lewe gaan aan en dit was tyd vir ’n operasie. Dit sou ’n verlossing wees om tydens die histerektomie te sterf, want dit kon net nie langer so voortgaan nie. Ná die tyd was dit bitter swaar om in daardie hospitaalbed wakker te word.

Dieselfde wit lig wat soms in kerke was, het die hospitaalkamer gevul. Daar was geen twyfel nie, dit was die Heilige Gees! Hy het gefluister: “Mariëtte, jy het in jou vlees gesterf en nou leef Ek in jou.”

Hy het my hand gevat. Vir die eerste keer ooit was dit my hartsbegeerte om vir God te volg. Niks anders het meer saak gemaak nie.

Met watter sonde jy ook al worstel, dis nooit te laat om jou lewe om te draai en weer van voor af te begin nie. Geen misstap is te groot vir Hom om te vergewe nie. Hy wag vir jou…