Ek is die pa wat ekself wou hê

1760

Eers was hy die beat boxer van Flip-a-Coin, toe die seremoniemeester wat tale aksentloos oor sy tong laat rol. Deesdae begroet hy Expresso-kykers vrolik in die oggend. Hoekom trek die talentvolle Katlego Maboe dan soms sy vermoëns in twyfel?

“Waar is die brood?” het my ma daardie dag gevra en na die melk in my hande gekyk, maar sy was nie kwaad nie. Sy het verstaan dat my kop op enige plek behalwe ’n inkopielysie sou wees. Trots en saam met my bly oor die prestasie om tot Potchefstroom Central Primary toegelaat te word.

Dit was in 1994, die einde van apartheid, en ek was saam met een ander seun uit Ikageng, ’n township net buite Potchefstroom, van die eerste swart kinders wat in “wit” skole toegelaat is. ’n Nuwe wêreld met ’n legio moontlikhede het vir my gewag.

Saam met hierdie ongelooflike geleentheid het daar ’n vrees ontstaan van “nie goed genoeg wees nie”. ’n Beklemming wat nou en dan nog steeds in my kom lê…

’n Donker kamer, harde stemme van langsaan. Woorde wat seermaak, verneder en dan die houe wat genadeloos neerval. My ma wat met haar onderklere in die straat af vlug. My pa wat woedend is omdat ek sy VHS-kasset gebreek het.

Ek was skaars drie toe my ouers geskei is, maar daar is tog dinge wat in die newels van my onthou skuil. Sterk, onafhanklike vrou wat my ma nog altyd was, het sy besluit om uit ’n huwelik van emosionele en fisiese geweld te loop ter wille van haar en haar seun se veiligheid. ’n Dapper stap wat baie vroue bang is om te neem.

Dit is nie lekker om hieroor te praat nie. Vernederend, maar miskien kan my ma se storie, ons storie, iets vir ander beteken. ’n Voorbeeld vir ander vroue om nie geweld te duld nie.

Skaars vier, is ek uit die bekende wêreld van my ouerhuis gevat. Ek het by my ouma en oupa gaan bly sodat my ma as onderwyser naby Lichtenburg kon werk om my soveel geleenthede moontlik te gee. My grootouers was wonderlik, maar dit was tog nie heeltemal dieselfde as om jou ouers daar te hê nie.

Al was ek nog jonk, het ek besef hoekom ek nie by my ma kan bly nie, maar dit het nie die verlange minder gemaak nie. Sondae, op pad terug huis toe nadat ons vir die naweek by haar gaan kuier het, was die ergste. In ’n poging om my trane weg te steek, sou ek na die landskap langs die pad staar. Teen die tyd wat ons by die huis kom, het ek klaar gehuil, reg om aan te gaan.

My oupa en oom was wonderlike vaderfigure, maar ek onthou een spesifieke insident waar ek so gewens het ek het ’n pa. Een wat my kon beskerm en wat vir my kom opkom. Dit was in graad nege toe ek en ’n vriend na ’n speletjiesarkade in ’n winkelsentrum gegaan het. Onder een van die tafels het ek my toksak gelos. ’n Spesiale een, kosbaar omdat dit vir alle lede van die Noordwes-Jeugkoor gegee is. Toe ek weer kyk, is ’n ou besig om die sak doodluiters oor sy skouers te gooi en uit te loop.

“Hey, dis my sak daai!” het ek agterna gehardloop.

“Ja, en wat gaan jy daaromtrent doen?” het die man gelag, duidelik nie geïntimideer deur die 15-jarige wat voor hom staan nie.

Gelukkig was daar polisiemanne in die omtrek en ek het my sak teruggekry, maar daardie aand het ek so gewens ek het ’n sterk pa wat daardie ou kon konfronteer en sommer namens my met hom sou fight.

Daar gebeur goed in jou lewe waaroor jy nie altyd beheer het nie. Jy het wel beheer oor die manier waarop jy daardie omstandighede gaan hanteer: om jouself jammer te kry of om die situasie te aanvaar en te fokus op al die goed wat wel in jou lewe is.

Een van die dinge wat ek moes aanvaar, is dat ek op party van my vrae nie antwoorde gaan kry nie. Die enigste keer wat my pa my gebel het, was toe ek vyf geword het. Dit is egter nie ’n goeie herinnering nie. As ’n kleuter vir drie jaar niks van die persoon wat sy pa is, hoor nie, is dit traumaties.

Op 19 het hy weer probeer kontak maak toe ek as lid van die a cappella-groep Flip-a-Coin op die voorblad van ’n plaaslike tydskrif verskyn het. Emosioneel was ek nie reg vir hom nie. Waar was hy al die jare? Hoekom nou skielik kontak maak?

Dis eers verlede jaar, op 31, dat ék gereed was om met hom te praat. Vrae wat ek beantwoord wou hê, soos om sy kant van die storie te hoor. My ma het my vertel van hulle ontmoeting en dat hulle wel lief was vir mekaar. Wat was dit dan dat sy liefde in seermaak verander het? Wat het in sy lewe gebeur dat alkohol so oorheersend belangrik geword het? Hoekom kon hy nie daarteen baklei nie? Was ek nie belangrik genoeg om voor te baklei nie?

En toe is dit te laat! Voor ek hierdie gesprek met my pa kon hê, is hy oorlede. Ek was by sy begrafnis. Sy tweede gesin het goed van hom gepraat. Ek was bly dat sy lewe ná ons verander het, net jammer hy kon dit nie vir ons gee nie. My ouma het my dadelik verwelkom, maar dit was vreemd om skielik ’n ouma te hê wat ek vir 27 jaar nie geken het nie.

My vrae gaan dus nie beantwoord word nie. Wel, nie deur hom nie. Miskien ook maar beter so. Ek voel nie skuldig dat daardie gesprek nooit plaasgevind het nie, want ek moes eers gereed gewees het om die vrae te vra en sterk genoeg om die antwoorde te ontvang en te verwerk. Slegte tydsberekening, maar miskien was dit bedoel om so te wees.

Die gemis van ’n pa was groot, maar dit was beslis nie allesoorheersend nie. Die familie wat wel in my lewe was, is ongelooflik, elke een van hulle.

Vir my ma, Beauty, is ek jammer dat die kans om ’n gelukkige gesinslewe te hê van haar weggevat is, maar sy is ’n merkwaardige vrou. Niks het haar ondergekry nie. Sy het die uitdaging aanvaar om as enkelouer vir haar kinders te sorg. Later het sy teologie gestudeer en is vandag nie net die onderhoof van die skool nie, maar ook die pastor van ’n kerk in haar gemeenskap. Sy het regtig alles in haar vermoë gedoen om vir my daar te wees. Alles wat vir ’n kind belangrik is, het sy gedoen. Kersfees was daar geskenke en met verjaarsdae sou sy partytjies vir my hou. Sy het my ook baie gebel. Dit het nooit vir my gevoel of sy my net gelos het nie.

My grootouers het my met liefde oorlaai. My ouma was nogal streng en haar vorm van dissipline het nogal heelwat verskil van my ma s’n. My ma sou baie meer met my gepraat het terwyl my ouma maklik die plathand kon inlê. Soms het ek gedink ek sou met meer goed weggekom het by my ma. Nie dat dit noodwendig ’n goeie ding is nie, want dis my ouma wat dissipline en verantwoordelikheid by my vasgelê het.

My oupa het sy bes probeer om vir my ’n pa-figuur te wees en alles gegee om daar te wees vir my. Tweeuur die nag sou hy heelpad van Ikageng inry Potchefstroom toe om my ná ’n kooroptrede by die skool te gaan haal.

By hom en my oom het ek geleer van mooi aantrek. My oupa het ’n swak plek vir ’n suit gehad en my oom was die cool dude with style on the block. Sy liefde vir tekkies het aan my afgegee. Vandag besit ek letterlik seker oor ’n honderd paar tekkies waarvan een paar, wat ek in ’n show gedra het, goud is. En so het almal uit my kinderjare ’n stukkie bygedra tot die mens wat ek vandag is.

“Ek is Dawie, die kabouter, die een wat alles weet,” sou ek dikwels in die strate loop en sing om ’n bietjie af te show. My grootouers, wat om die kombuistafel in Afrikaans geskinder het, het my die eerste keer bewus gemaak van hierdie “ander taal”. Met televisieprogramme soos Brakanjan, Mina Moe en Zet het ek Afrikaans geleer, ’n taal wat niks te doen het met apartheid en onderdrukking waarmee dit so dikwels geassosieer word nie. Die feit dat ek Engelse skole bygewoon het, het my met my Engels gehelp.

“Talk to a man in his own language and you speak to his heart,” het Nelson Mandela gesê. My drietaligheid het beslis baie deure vir my oopgemaak. Dit het my minder soos ’n buitestander laat voel, want so deel as wat ek van verskillende wêrelde gevoel het, so uit kon ek voel.

Soos toe ek vir die provinsiale krieketspan gekies is. Daar was net twee swart seuns in die groep en daar was maar ’n bietjie van ’n eksklusiewe groepie in die span wat meestal uit Afrikaanse spelers bestaan het. Ek het Afrikaans gebruik om deel te word van daardie brotherhood en dit het gewerk.

Aan die ander kant was daar wel kinders van die township wat gesê het ek dink ek is beter as hulle, maar dit was net aan die begin. Toe ek ’n kolf kry, het ek hulle aan krieket bekend gestel en daar in die strate van Ikageng het ons menige vakansie omgekolf, geboul, gevang…

Vir ’n lang tyd het ek my verbeel ek gaan die volgende Jacques Kallis wees, maar op die ou end het my passie vir musiek die oorhand gekry. Nie dat dit so ’n indruk op my maats in ’n seunskool gemaak het nie. Daar is maar baie stereotipering wat ’n mens volg as jy verkies om eerder op die verhoog as op die rugbyveld te wees.

Ek is amper meer senuweeagtig as met optredes. Sê nou net ek slaan hier voor almal neer op pad na die proffie wat die toga se band om my skouers moet hang? Sonder voorval kom ek tot daar en alhoewel ek haar nie in die skerp ligte kon sien nie, kon ek haar wel baie duidelik hoor.

My ma het so van verligting gegil die dag toe ek graad kry. Sý het daarop aangedring dat ek steeds studeer sodat daar iets is om op terug te val wanneer die musiek nie uitwerk nie. Ek het gaan studeer, my B.Com. klaargemaak, vir een maand as rekenmeester gewerk en dit was genoeg om my te laat besef dat dit glad nie is wat ek wil doen nie.

My aanstelling as Expresso-aanbieder was my deurbraak in die televisiebedryf. Vir my is dit ’n roeping om mense vroeg in die oggend met ’n glimlag te begroet en hulle te inspireer om die dag aan te gryp.

Dis nie altyd maklik om vieruur in die oggend opgewek en vrolik te wees nie, maar sedert die koms van my seun, Phoenix, einde Junie het ek ’n sterker motivering as ooit om my werk goed te doen. Hy en my vriendin, Monique, gee my die kans om die gesin te hê waarna ek gesmag het, maar nooit gehad het nie.

Wanneer ek in die oggend voor werk gou sy doeke ruil en hom bottel gee, kan ek my nie ophou verkyk aan sy perfekte klein vingertjies wat so afhanklik om my hand krul nie. Daardie oomblikke in die donkerste tye van die nag saam met my seun is vir my amper heilig.

Dit is dan dat ek vir hom bid, Hom aan God opdra, want vir my is ons belangrikste taak as ouers om kinders so groot te maak dat hulle die pad terug na Hom, hulle Skepper, stap. Sonder God se seën in sy lewe gaan hy nie ver kom nie. Met sy name Phoenix Katlego het ons goeie goed vir hom toegewens. Met Katlego, wat sukses beteken, glo ek my seun sal in staat wees om uit enige situasie en omstandighede as die wenner te verrys.

Ja, ek wil beslis vir hom gee wat ek nooit gehad het nie. ’n Pa wat daar is in elke fase van sy lewe. Ons maak hom deel van ons lewe. Hy het hierdie naweek die eerste keer gevlieg en het daar agter die verhoog die musiek vreeslik geniet.

Dis egter ook vir my belangrik dat hy nie oorbeskermd grootgemaak word nie. Hy moet in staat wees om wat die lewe ook al na sy kant toe gooi, te hanteer. Hy was net ’n paar maande oud, toe het ons al ’n paar ernstige pa-seun-gesprekke gehad wanneer hy so huil. Dan vertel ek hom dat ’n gehuil niks gaan help nie. Dat dit nie is hoe ons dit in hierdie huis doen nie. Nie dat hy hom daaraan steur nie. Inteendeel, hy net harder huil tot hy na ’n ruk besef dat hy niks daardeur bereik nie. Deur daardie groot biggeltrane sal ’n glimlag uiteindelik deurbreek en dan vermurwe my hart van voor af.

Waarteen ek my vrou en seun wel gaan beskerm, is die aandag van die media en die publiek. Mense kan baie venynig wees. Dit maak nie saak wat jy doen nie, daar sal altyd kommentaar en kritiek wees. Teen dié tyd kan ek al lag vir die belaglike goed wat al op sosiale media kwytgeraak is. Ek kies om nie daaroor te tob nie, maar onlangse uitlatings toe Monique Phoenix se koms op Twitter aangekondig het, het haar baie ontstel. Sy is haar eie mens en het die reg om kwaad te word en iets terug te skryf, maar ek gaan alles in my vermoë doen om te keer dat hulle swaarkry oor die beroep wat ek gekies het.

Vir eers kies ek om my aandag eerder daarop te fokus om ’n goeie mens te wees, want dis wat ek wil hê my seun eendag moet word – iemand wat medelye het met ander, niemand seermaak nie, en op wie staat gemaak kan word. En dan wil ek hom help om, soos sy pa, nie net sy oë op die groot kans êrens in die toekoms te hou nie, maar die klein geleenthede langs die pad raak te sien en te gebruik sodat hy gereed kan wees vir wanneer die lewe hom daardie een groot deurbraak gee.

Omdat ek verskillende tale en kulture leer ken het, het ek empatie met mense, want daar is altyd redes vir ’n persoon se optrede.