Ek is siek van bekommernis oor my kinders

0
18
andries enslin

Sê nou my kinders kry seer by die skool of in die winkelsentrum? Hoe kan ek gemoedsrus kry en ophou bang wees hulle kom iets oor?

Sê nou my kinders kry seer by die skool of in die winkelsentrum? Hoe kan ek gemoedsrus kry en ophou bang wees hulle kom iets oor?

Jy onthou seker nog hoe jy wakker gelê het toe jou baba pas gebore is. Jy het kort-kort opgestaan om te gaan kyk of sy nog asemhaal. Die verantwoordelikheid om vir hierdie pienkvoet te sorg was net só groot. Eers was jy bang sy gaan verstik en toe sy begin loop, dat sy op haar kop gaan val. Jy het gedink daar’s fout toe haar maatjies al kon kruip en sy nie. Later het jy gestres dat sy die verkeerde maats gaan hê of nie aanvaar sal word in die groep nie.

Dis natuurlik om so te voel. Maar jy moet ook rustig raak en weet: God is in beheer. Hy hou ’n oog oor ons elkeen.
Ons ken almal die storie van Jaïrus. Sy dogtertjie was ernstig siek en hy het voor Jesus neergeval en om hulp gesmeek. Dit was ’n noodgeval!
Enigiets wat jou kind se geluk of haar lewe bedreig, is vir jou ook ’n krisis. Dis asof jy dink God moet alles net so los en dadelik kom help. Gelukkig hoef jy nie te wonder of Hy jou hoor as jou kind in die knyp is nie. Hy gee regtig om en Hy sál help – net soos Hy vir Jaïrus gehelp het.

Daar is ’n verskil tussen gesonde en ongesonde vrees

Gesonde vrees is ’n ingeboude instink wat jou help om jou lewe te beskerm. Ongesonde vrees is ’n tipe obsessie. Dit steel jou lewe, want jy kan aan niks anders dink nie.

Gesonde vrees beteken jy maak jou sitplekgordel vas as jy in ’n motor ry. Ongesonde vrees laat jou besluit om in geen motor te ry nie, want sê nou jy kom in ’n ongeluk? Ja, jy moet jou hande gereeld was, want kieme veroorsaak siektes. Dit beteken egter nie jy mag geen kontak met mense hê of moet twintig keer ’n dag hande was nie.

Dis reg om soms nee te sê vir jou tiener. Maar as jy sê jou dogtertjie mag nie trou voor dertig nie en sy mag ook nie date nie, is daar fout.

Onthou, vrees kom nie van God af nie. Dis nie so bedoel dat jy heeltyd moet dink aan al die nare goed wat kan gebeur nie.

Jy mag Hom vra om jou kind te beskerm

Hier is die goeie nuus: Jou kind is ook God se kind. Dit beteken jy is eintlik bekommerd oor Sý kind, nie oor joune nie!

Natuurlik mag jy elke dag vir jou kinders bid; dis ’n opdrag wat jy het. Sorg dat hulle dit weet, want dit sal hulle veilig laat voel. Jy ken mos die lekker warm gevoel as jy weet jou ma bid ook nog steeds vir jou al is jy groot.

Wees spesifiek. Jy het dalk al baie gevra: “Help die kinders.” Moet egter nie net skietgebedjies opstuur nie. Noem haar naam en pleit vir haar. Wees spesifiek oor wat jy vra.

Moenie skaam wees om te sê: “Hierdie is U kind. Help haar vandag om standpunt in te neem, al spot die ander kinders haar.” Smeek haar hemelse Pa vir wonderwerke in haar lewe. Hy luister en Hy wíl Sy liefde en genade oor almal uitstort.

Elke kind het liefde en dissipline nodig

Het jy al gewonder watter soort ma jy is? Sien jy jouself as ’n tronkbewaarder of as ’n toergids?

’n Tronkbewaarder-ma sê vir alles nee en gun haar kinders niks, want sê nou daar iets gebeur met hulle? Vrees beheer dus jou lewe. ’n Toergids-ma, aan die ander kant, sê vir alles ja, want sy is bang haar kinders dink nie sy is cool nie.

Liefde is nie om met alles in te stem wat jou kind wil hê of doen nie. Dis ook nie om jou kind van alles te weg te hou nie. Kinders wil onvoorwaardelike liefde beleef, maar ook stabiele dissipline.

Vra daarom elke dag vir wysheid – om te weet waarvoor om ja én nee te sê.

Die dood is elke ouer se grootste vrees

Jaïrus se dogtertjie is ernstig siek en die volgende oomblik kry hy die wrede nuus: Sy is dood! Sy verhaal loop egter goed af; dit het ’n mooi einde. Die dogtertjie word weer lewend en haar pa kry haar terug.

Dit werk ongelukkig nie altyd so nie. Daar is baie ouers wat al kinders aan die dood moes afstaan. Is jy al gekonfronteer met daardie verskriklike oproep of doktersverslag? Het jy al gedink: Hoekom ek? Hoekom mý kind?

Die antwoord op jou “hoekom” kan niemand jou gee nie, maar Hy weet waardeur jy gaan en Hy wil jou bystaan. God het empatie met jou en voel saam met jou. Jesus het ook eenkeer saam met ’n vrou gehuil wat haar kind moes begrawe.

Die groot belofte wat jy het, is die opstanding en die lewe. Die dood is nie vir ewig nie – ons gaan mekaar weer sien!

Moenie met vrees leef nie. Maak jou kinders eerder groot met liefde en selfbeheersing. Geniet hulle, oorlaai hulle met streng liefde en vertrou God vir die res!