Ek, jy.. ons!

Liefde is ’n skuilplek, ’n vaste vesting met vertroue en eerlikheid gebou. Dit is die plek waar ons veilig voel en beskermd, anders is dit niks.

Wanneer twee mense bymekaar kom en een word, is dit een tou, ’n mens, ’n lewe en al die dimensies van daardie lewe, en ’n ander tou, ’n ander mens, ’n lewe, en al die dimensies van daardie persoon, wat saamgeweef word in die Here, die perfekte Liefde, wat ’n driedubbele tou vorm wat nie maklik breek nie.

Ware liefde is ’n ongbreekbare band tussen twee mense wat saamgevleg is en dit maak hulle sterker. Die breek mekaar nie af nie, maar bou mekaar op. Dit maak beide beter mense in elke area van hul lewens, wanneer liefde gegrond is in vertroue en eerlikheid.

Daar is ’n ou gesegde wat lui, “die waarheid wil nie gesê word nie”, en dit is so waar. Almal wil die waarheid hoor wanneer die waarheid mooi is en is wat hulle graag wil hoor, maar wanneer die waarheid nie so mooi is nie of minder lekker om te hoor, moet daar steeds genoeg vertroue in die verhouding wees om ook daaroor te kan praat. Want die liefde is nie selfsugtig nie en soek nie die heeltyd sy eie belang nie.

’n Sterk verhouding word gevorm wanneer twee mense se liefde vir mekaar alles bedek. Wanneer jy weet dat die ander persoon jou nog net so lief sal hê as jy eerlik en openhartig met hom of haar is. Dit is wat pretensielose kommunikasie in die huwelik so belangrik maak, want ons as mens in ons natuur, het ’n innige behoefte om oor dinge te praat, ons harte te deel en uitding te gee aan ons emosies, maar ons het ook ’n diepe begeerte om te behoort en onvoorwaardelik geliefd te voel.

Daarom moet ek my lewensmaat genoeg kan vertrou om alles vreesloos met hom of haar te kan deel, sonder om vir ’n oomblik te twyfel of angstig te voel daaroor. Moenie alleen opeindig in ’n verhouding nie, dit is nie gesond of reg nie. Dit is nie wat God se wil vir ons is nie.

God is Liefde en Hy het ons eerste en onvoorwaardelik liefgehad. En as ons daaroor nadink, kan almal jou tog lief hê op jou beste dae, maar net ware liefde oorskry die grense van tyd en foute begaan. Ware liefde koester die mooi herinneringe en hou nie boek van die kwaad nie. Ware liefde vergaan nooit nie. Ware liefde bly vir ewig net so sterk ingeëts in jou hart, selfs na 10, 20 of 40 jaar, as daardie eerste dag, daardie eerste herinnering, waar jy seker was diep binne jou hart dat jy weet, dat jy weet, dit is dié een.