Ek kan nie my foute vergewe nie!

0
80
vergewe_jouself.jpg

Verwyt jy jouself aanhoudend oor die dom foute in jou verlede? Jy kan jouself vergewe en nuut begin!

Daardie blatante, onnosel fout wat amper jou lewe vernietig het, spook die hele tyd by jou: Jy het geld nodig gehad en toe “leen” jy dit uit die kleinkas, natuurlik met die doel om dit weer terug te sit. Maar voor jy dit kon doen, is jy betrap en afgedank.

Dis nie maklik om die insident te vergeet nie, want jy word nog daagliks daarmee gekonfronteer. Jy het die mense om jou vir wie jy so lief is, se vertroue geskend. En jy sien elke dag hoe jou gesin swaarkry omdat jy nie meer ’n inkomste verdien nie.

Dis ’n proses wat tyd verg, maar gelukkig is daar maniere wat jou kan help om weer vrede te maak met jouself.

Probeer jouself sien soos God jou sien

Jesus het nooit gesondig nie al is Hy op baie maniere versoek. Hy het altyd die regte dinge gedoen. En Hy het jou sondes op Hom geneem en daarvoor gesterf. Dan is dit mos eintlik hoe God oor jou ook dink: Asof jy nog altyd gehoorsaam was en altyd sal wees. Asof jy niks verkeerds gedoen het nie en volmaak goed is.

As Hy so oor jou voel, moet jy mos jouself ook so sien. Die sondes wat jy gedoen het, bestaan eenvoudig nie meer vir Hom nie. Inteendeel, deur Jesus sien Hy jou as Sy kind wat alles perfek reg doen.

Jy kan dus ophou om jouself so te straf. Die enigste doel wat die herinnering aan jou flater nog vir jou het, is om jou nederig te hou. Jy moet besef jy bly ’n mens en jy is nie volmaak nie, al is dit hoe God jou sien. Almal maak foute en moet met die gevolge daarvan saamleef – maar jy ís vergewe!

Sy genade is groter as enige foute

Die duiwel herinner jou graag aan jou misstappe: jou mislukte huwelik, gister se ongeduldigheid met jou kinders, die keer toe jy te trots was om te erken jy was verkeerd. Jy kan aanhoudend daaroor tob, maar jy kan dit nooit ongedaan maak nie.

Leer eerder daaruit en aanvaar dat jy vergewe is. God se genade kan jou verlede uitvee en jou toekoms nuut maak.

Die oomblik as jy weer aan ’n fout van die verlede begin dink, “skryf” in jou gedagtes die woord GENADE in hoofletters langs daardie gedagte neer en sê saggies: “Dankie, Here!”

Vergewe jouself en ander soos jy vergewe is

As jy nie kan vergewe nie, is dit amper soos om hierdie genade te vertrap asof dit vir jou niks werd is nie.

Dis moeilik om iemand te vergewe wat jou te na gekom het, maar dis nog moeiliker om jouself te vergewe. Tog móét jy met jouself kan vrede maak.

Wees so geduldig met jouself soos jy met jou vriendin sou wees. Leer uit jou foute sodat jy nie weer hierdeur hoef te gaan nie. Dit sal tog dom wees om aanhoudend in dieselfde strik te trap en jou van voor af oor jou verkeerde keuses te verknies.

Bly positief – sien elke dag uit na iets

Om die verlede te laat gaan is ’n volgehoue proses. Dis iets wat jy daagliks moet doen, maar intussen moet jy ook voortgaan met jou lewe.

Kry daarom iets waarna jy elke dag kan uitsien. Dis nie dieselfde as om jou dag vol te prop met allerhande sinnelose aktiwiteite nie. Jy moet iets doen wat vir jou lekker is. Enigiets. Dit kan so eenvoudig wees soos om kruiesaadjies te saai of om koffie te drink saam met ’n vriendin.

Moenie net op jouself fokus nie, maar kyk waar jy ander kan help. Dink soos Moeder Teresa en doen die klein dingetjies met groot liefde.

Moenie te besig raak nie maar behou balans

Jy kan maklik in die versoeking kom om jouself met werk te oorlaai sodat jy kan wegkom van die verlede. Dan probeer jy om jou pyn te verdoof deur jouself geen tyd te gun om te rus of te dink nie.

Maar pleisters maak net jou wonde toe, dit bring geen genesing van binne af nie. Maak tyd vir jou hemelse Vader en vertrou Hom met al die besonderhede van jou lewe. Vergeet nou van die verlede en glo in die toekoms.

Vertaal en verwerk uit Ways to Find Healing from Your Past (Rebecca Barlow Jordan), deur Ilze Ludick.