Ek ken ‘n ou ou liedjie

Dis Maandagoggend na die Sun Arena in Times Square in Pretoria geskud is deur die Capital Singers en musiek uit die jare waarin ek en Pieter kinders was.

Dis ontmoontlik om die klank, ligte, energie, nostalgie, passie en betowering vas te vang – daar is nie tegnologie beskikbaar wat al die neon, blinkertjies, oorbelle, ligte, haarsproei en massa vreugde visueel kan vasvang en weergee nie. Daar is ook nie klanktoerusting wat akkuraat kan getuig van die impak as ‘n 1000 stemme uit een mond sing en die grond onder jou vibreer as die skoonste klanke jou omsingel nie.

Nog minder is dit moontlik om die gebeurtenis met woorde te beskryf. ‘n Mens kan nie ‘n Rolls Royce in ‘n paar sinne agter in die plaaslike nuusblaadjie beskryf nie.  Jy kort ‘n literêre reus wat ‘n paar tale magtig is en ‘n greep het op vokaliteit, resonansie en sosiologie.  So die druk is groot, maar ek weet ek skiet ver te kort.  Daarom verlaat ek my op ‘n opsomming van alles wat mooi en lekker was die afgelope week:

Capital Singers Rewind to the 70’s and 80’s

  1. Die voorreg om musiek te kan sing wat ek al van kleins af ken. Pure heimweё om my pa se gunsteling “Kinders van die wind” te kan uitvoer.  Dan is daar “Net ‘n tikkie vryheid” en “Hoeka toeka” vir ma, Roxette vir my sus en Queen vir my manne. Sarie Marais vir my skoonpa en Karoonag vir almal in die buiteland. Soveel betekenis en herininnering in die lirieke en melodieë word oopgesluit. Die 80’s het wel eers in die 90’s in Lutzville aangekom, maar dis onuitwisbaar deel van gelukkige kinderjare!
  2. Die opwinding om saam met hierdie spesiale koor te kon groei vanuit sy babaskoene. Vanaf 120 in Universiteitsoord , 14 produksies later, tot waar ons nou ons tweede produksie in die massiewe arena doen.
  3. Die lekkerte om ‘n sendeling uit Namibië by ons te huisves. Daar is baie gesels en gelag.
  4. Die vreugde om die Capital Singers familie weer te sien.
  5. Die verrassing om die nuwe dekor en beligting te beleef. Die “mirror ball” was nie ‘n verrassing nie, maar die motorfiets en “vintage voertuie” wel! Al die neon ligte, strandballe en konfettiblasers laat ons soos rock-sterre voel.
  6. Die absolute toewyding, passie, vaardigheid, integriteit, humor en energie van Michael en Christo, ons dirigente en vervaardigers. Hulle kostuums was skokkend en baie vermaaklik en by gebrek aan taalvaardighede: “unapologetic, outrageous, glitzy and kitch – in the most delightful way!”
  7. Die grootsheid van Vicky Sampson se stem – wat ‘n legendariese vrou! Beslis ‘n baie groot oomblik om My African dream saam met haar te kon sing. Hoeveel meer deel van Afrika het ek al ooit gevoel?
  8. Ons eie Freddie Mercury – Joseph Clarke met sy robuuste stem en reuse teenwoordigheid – Wat ‘n bederf!  Nie net is hy wêreldklas nie, maar boonop nederig.  Daar is ‘n knop in ons kele as hy ons vra om “The show must go on” aan sy broer op te dra wat twee weke terug oorlede is.  David was self ‘n geliefde Amerikaanse musikant met meer as 2000 komposisies op sy kerfstok.
  9. Elvis Blue – wat ‘n storieverteller! Sy persoonlikheid is net so aangrypend en bekoorlik soos sy musiek.
  10. Erin Beck – hierdie 15-jarige was die grootste verrassing van die hele skouspel. Haar stem het die grootsheid van Barcelona verhef tot ‘n nuwe vlak van geluk en skoonheid wat ek nog nie geken het nie.  Ek het gehoor van mense wat hoendervleis tot op hulle maag gekry het! Eendag (wat binnekort is) as sy wêreldberoemd is, sal ons kan spog dat ons saam met haar gesing het terwyl sy nog op skool was!
  11. Janine Neethling – die pragtige, talentvolle towerkrag agter al ons magiese verwerkings. Wat ‘n onbeskryflike voorreg om haar musikale genialiteit te kon beleef.
  12. Ian Von Memerty se passie, humor en disco choreografie. Ons het heerlik “wasgoed gewas” en ons revueen sokkie dae herleef!
  13. Elke musikant in die orkes, elke produksiespanlid, die engele agter die skerms en die elfies in hulle Dancing Queen valle en reuse hare.
  14. Vriende wat kom luister en opgewonde raak saam met ons. Capital singers konserte het die beste gehore!  Dankie aan almal wat meelewend was en geduldig  na ons Facebook fotos en videos gekyk het.
  15. Vriende saam met wie ons meer doen as musiekmaak. Ons deel mekaar se lief en leed, lag saam oor ons seer voete, uitspattige oorbelle en belaglike, terterige grimering.  Ons skree van die lag as ons soos ‘n koei bulk tydens opwarming en Christo die koor vergelyk met die melk van ‘n dinosorus!  Ons sing saam “the spirit of the graveyard” en “getting dressed for some sex”, maar dit was Michael se skuld met sy storie as klein seuntjie.
  16. My byvoeglike naamwoorde raak op as ek dink aan die allermooiste musiek. Die speld-hoor-val oomblikke wat tegelyk melankolies en ontsettend hoopvol en helend is.  Die geweldige lewendige disco en rock partytjies.  Die pret om op jou gunsteling musiek te kan dans voor ‘n vol arena en spesiaal vir jou eie gesin wat net so opgewonde is oor die musiek soos ek.
  17. Die deftige tannie van 80 in die gehoor, met ‘n neon groen streep deur haar hare wat instem om by die veteraanmotortjie te poseer saam met my. So jonk van gees en mooi wil ek oud word!
  18. Die lekkerste cinnabons en gnocci wat manlief en seuns tuis uitgedink en uitgevoer het.
  19. Die heerlike laaste vonkelwyn ontbyt saam met ons gas.
  20. Die laaste vertoning waar ons onsself heerlik verloor in die glans, lawwigheid, betowering, baldadige oordaad en seëning wat net ikoniese musiek en ‘n massa (lees M@erse) koor kan bied.

5-8 September maak ons weer so saam met Coenie De Villiers en ander ikone – inskrywings is oop by www.capitalsingers.co.za. Kom wees deel van die binnepret of die toeskouers wat die  eindproduk geniet!