Ek kies lewe bo woede

0
80
Hanlie_Retief.jpg

Hanlie Retief, verslaggewer by Rapport en wenner van twee ATKV-Mediaveertjies, kom daagliks in kontak met hartseer en korrupsie. Maar positiwitiet is haar sterkste wapen.

Hanlie Retief, verslaggewer by Rapport en wenner van twee ATKV-Mediaveertjies, kom daagliks in kontak met hartseer en korrupsie. Maar positiwitiet is haar sterkste wapen.

Sy woon in ’n tweevertreksinkhuisie. Daar op pad na die lughawe. In die Malawi-plakkerskamp. Dumps van die dumps. In die hoek staan ’n oliedrom driekwartvol reënwater; dis middelwinter en die dak lek. ’n Hoop komberse poog tam om ’n flentertjie hitte te vang. Eenkant staan ’n kersie. Dis al. Hulle het onlangs nog by haar ingebreek ook. Met haar vreugde en gemoedsrus probeer wegkom. Tevergeefs. Want Grace Boltney is ’n vrou met spirit. Sy het my totaal aangeraak!

Dit was net ná die verkiesing verlede jaar. Ek onthou dit het verskriklik gereën en ek het nog nie besluit oor wie ons ’n storie sou doen nie. Dalk iemand in die parlement? Toe kyk ek so na die reën en besluit, nee. Kom ons kry iemand heeltemal aan die teenoorgestelde kant van die rooi tapyt en die vliegtuie wat oorgevlieg het vir die parlementsopening. So kom ek toe by Grace uit.

Dit was vir my regtig skrikwekkend om die haglike toestand te sien waarin sy leef. As jy by so ’n situasie kom, is dit onmoontlik om onaangeraak te bly. Maar hoor nou hier! Grace het twee bokke, Katriena en Suzy Wong. En hierdie bokke is haar pride and joy. Sy kyk só mooi na hulle. Húlle het kos, sy vat hulle om te gaan wei. Dis haar familie. So, sy het hierdie klein wêreldjie vir haarself geskep met haar onbreekbare gees en haar warmte.

Ek onthou ons het buite gestaan het en daar was ’n konkatjie waarin sy vuurmaak. Die wolke was loodswaar bokant ons. Daar was ’n gevoel van verlatenheid. In die plakkershut langsaan het ’n kind aanmekaar gehoes, en die hele situasie, selfs die vliegtuie wat onophoudelik oor ons skuur om te gaan land, was só troosteloos. Maar dan was daar Grace: niks-kan-my-onderkry-nie-Grace!

Weet jy, elke keer as daar iets is wat ek begeer of darem maar baie graag wil hê, dan ruk so ’n onderhoud my terug na die werklikheid. Eintlik het ek so baie: ’n man wat my ten volle ondersteun, twee gelukkige seuns, ’n werk waaroor ek mal is… Ons kan niks besit nie, maar steeds baie hê! Dit is vir my die ironie van die lewe. My onderhoude en my werk bring my altyd terug hierby. Ek kan nie hierdie werk doen en nié nederig bly nie.

Jy praat met vooraanstaandes, verdruktes, mense midde-in ’n krisis. Is daar enige universele waarheid oor menswees wat vir jou uitstaan?

Positiwiteit is ’n brandstof. Ek dink byvoorbeeld aan die oorlede pianis-liefling, Christa Steyn. Twee weke nadat sy gehoor het sy het kanker, het ek met haar gesels. Dit was ’n verskriklike kanker in haar bors wat na haar lewer versprei het. Sy het mos hierdie pragtige bos heuningkleurige krulle gehad. Ons het die storie gedoen die dag voordat sy met chemoterapie sou begin en haar hare sou begin verloor. En sy was só positief! Ek kry hoendervleis as ek daaraan dink, want hier is hierdie verskriklike ding besig om met haar te gebeur, en sy sê vir ons die Here sou dit nie oor haar gebring het as Hy nie ’n doel daarmee gehad het nie. En sy vertel van toe die skandering gedoen is en hulle gesien het haar lewer is aangetas. Selfs die dokter het hartseer geraak, maar sy het gelê en dink hoe bly sy is dat dit sy is, en nie een van haar kinders waarmee dit gebeur nie.

So, op ’n manier is my werk ’n ongelooflike voorreg. Ek kry ’n glimp in die lewens van mense, wat uiters kosbaar is, maar ook ’n groot verantwoordelikheid. As joernalis moet ek dit reg neersit. Ek moet eerlik wees oor wat ek ervaar, want ek het net ’n rukkie om dit te kan vasvang. Jy word toegelaat langs ’n sterfbed. Jy loop amper op eiers, want jy weet jy is in ’n kosbare ruimte. En skielik maak daardie nietige dinge wat vir jou belangrik was – soos my onderlaag wat op is en ek kom nie daarby uit om ander te koop nie – nie meer saak nie. Dit is die absolute great ding van my werk. Dáárdie geleentheid.

Wat vir my elke dag belangriker raak, is positiwiteit. Want ek het dit gesien. Die achievers met wie ek in aanraking kom, is almal mense wat baie insit. Hulle werk hard. Hulle werk úre. Hulle maai wat hulle saai. Daar is nie kortpaaie na sukses nie. En wat ek by sulke mense sien, is baie energie. Wat jy nie kan hê as jy pessimisties is nie. Ek sukkel om nie positief te wees nie. Op die ou end dink ek nie ’n mens kan negatief wees en regtig oukei wees met die lewe nie. Ongeag wat jou tref – as daai vlammetjie in jou brand, máák jy dit.

Die skryf van Piet Byleveld se boek oor die reeksmoorde wat hy ondersoek het, het vrese by jou ontketen. Hoe het jy dit verwerk?

Ná ek hierdie boek geskryf het, het ek begin koek bak. Ek het ’n hele jaar lank net sjokoladekoek gebak! Ek het net gedink, kyk, hier moet ek iets doen! Die foto’s in die moorddossiere het lank by my bly spook. Dan praat ek nie van die foto’s wat in die boek is nie – ek praat van dié wat te grafies was om te publiseer. Ek móés dit net op ’n manier neutraliseer. Toe begin ek koek bak! So toets ek toe vir ’n hele jaar lank sjokoladekoekresepte uit. Dit was so ’n persoonlike soektog na die heilige graal van tjoklitkoeke – en my gesin en pelle moes dit naweek na naweek beoordeel. Hulle het gedink dis koel, maar na dese eet ek nie meer sjokoladekoek nie!

Tydens die skryf van Byleveld: Dossier van ’n Baasspeurder was ek ’n baie moeilike ma. Ek het ’n vrees ontwikkel dat my kinders iets sal oorkom. My oudste seun was nog op skool en die jongste maar betreklik klein. Hulle het taamlik moedeloos geraak met my, want ek wou hulle net toedraai en beskerm. Daardie boek het my net gewys dat iets so eenvoudigs soos die verkeerde tyd op die verkeerde plek, jou die slagoffer van sinnelose en verskriklike geweld kan maak. Ek was vir ’n ruk oorbeskermend. My seuns is nie eers toegelaat om in die wingerd te gaan fietsry nie. Ironies, want my seun is nou ’n rotsklimmer!

Hierdie vrees was iets wat ek kaalvuis moes pak. Ek het met ds. Johann Symington, oudredakteur van die Kerkbode en ons predikant op daardie stadium, gaan gesels. Hy het my vertel hoe hy en sy vrou ná hulle kind se dood noodgedwonge vir vrees die rug moes draai en wegstap. Hulle moes hulle ánder kinders vrywaar teen hulle vrese as ouers. Dit het my baie gehelp. Jy kan nie jou kind beskerm nie. Al wat jy hom of haar kan bied, is liefde en geloofsbeskerming. Wat ek ook besef het, is as ek heeltyd kerm: moenie so diep swem nie, moenie dit of dat nie, ek hulle gaan verloor – hulle gaan dit in elk geval doen, en dit bring net spanning tussen ons. Dit was noodsaaklik om te leer losmaak.

Reeksmoordenaars is wreed verby. Hoofstuk na hoofstuk, ek dink daar was nege reeksmoordenaars in my boek, moes ek in ’n bose omgewing met bose mense en bose dade funksioneer. My vriendin het my baie gehelp. Sy is ’n gelowige en het voorgestel dat ek terwyl ek aan die boek werk, Psalm 91 moet lees. Dan moet ek voel hoe ek myself versterk teen die onheil en die vrees. Dit het vir my gewerk. Ek het my kop opgelig en gevoel: I am standing proud! Jy kan kies hoe jy aangeraak word deur iets. Jy kan kies of iets jou in ’n gat gaan insuig of nie. Dis ’n keuse en ek het definitief beslúít ek gaan nie bang wees nie. As joernalis is ander mense se stories presies dit: ander mense se stories. Dis nie jou plek om met jou eie emosies daarin te duik nie, dit as’t ware te kaap nie, maar dit professioneel en met empatie te hanteer.

Hoe hou Hanlie-die-vrou haarself positief, haar vreugdetenk vol en altyd gereed vir die volgende storie? Wat is jou ondersteuningstelsel?

Ek sorg dat daar lekker dinge is om na uit te sien, al is dit ook net om ’n teelepel in ’n bottel Nutella te druk.

As die son warm skyn, sal jy my waarskynlik iewers in die middag in ’n swembroek kry. Rêrig. Die son op my vel maak my altyd bly. Klein dingetjies. Vinkel, ons stokou swart kat op ons bed, veral as sy kop so begin bewe as hy dut. ’n Lekker nuwe skrywer wat jy ontdek, wat jou binne-in ander wêrelde bring.

Ek probeer om elke dag, al is dit net ’n paar minute, in die natuur te kom, om met ons honde te gaan stap, om net weer geaard te raak, en dis ook waar ek God raakvoel. Ons is gelukkig om naby wingerde te bly, en ek en my man stap gereeld daar en sien hoe die seisoene wissel.

Sondagmiddae kuier ons graag as ’n groter familie saam, dikwels op ons stoep. My boetie en sus, hulle kinders, die skaaptjoppies, die kuier, die saamwees.

Vanoggend het ek sommer met my ma geraas. Waar ís sy! Ek het klere wat gestop moet word en vaderland, ek kan dit nie doen nie! My ma se dood twee jaar terug was nogal vir my erg. Ons was close en ek was baie lief vir haar. Sy was 84 jaar oud en ’n total joy. Sy was gelowig en absoluut gereed om te gaan. Haar begeerte was om in haar bed te sterf en dit alles het so vir haar gebeur. Maar, sjoe, ek mis haar! Sy het altyd Saterdae en Sondae vir my kom kuier. Heelpad van haar huis af na ons toe gery met haar rooi karretjie wat sy so kon rev by ons oprit op. Na haar dood het my vriendin Sanette ses weke lank my elke naweekmiddag iewers heen gevat sodat ek nie my ma so baie moet mis nie. Sy’t my chilli poppers gevoer, dan traan my oë maar dáároor! Ja, my familie en vriendinne wat ek kan speed dial as ek ’n hobbel tref…

Oefening? Ek het my lewe lank ballet gedoen, en laasjaar ná ’n paar simpel maande in die gym waar ek en die trapmeul mekaar waaragtig nie kon vind nie, het ek Pilatesklasse begin neem.

Sjoe, dit het nogal my lewe verander. Dit het my my liggaam laat herontdek. Ek voel sterker, regopper; ek weet weer ek het maagspiere, hulle het toe nié na Madagaskar geëmigreer nie…